Wanneer hulle reis of uiteet, is daar sekere kosse wat die koninklikes nie mag eet nie, soos ongaar vleis, buitelandse water, enigiets te pikant of eksoties en skulpvis, berig die BBC.

Dit is bloot om te verhoed dat hulle maagpyn of voedselvergiftiging kry, veral terwyl hulle reis. 

Die Britse sentrum vir siektebeheer en -voorkoming sê "wanneer ’n individu rou oesters eet wat vibrio bevat – ’n bakterie wat in kuswaters bestaan – verhoog dit hul kans om die siekte vibriose te ontwikkel," volgens The Independent.

Al sterf tradisies uit of verander dit mettertyd, hou koningin Elizabeth II glo by dié een wanneer sy in ander lande is, berig The Sun.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Die verbode kossoorte is nie die enigste reël wat die koninklike familie moet volg nie; hulle het ook spesifieke reëls wat kleredrag betref. 

Die etiketkenner William Hanson sê ’n langbroek aan ’n jong seun word in Brittanje as "voorstedelik" gesien en nie geskik vir ’n koninklike nie, berig The Sun.

"Kate moet ’n balans vind tussen koninklike tradisie, erfenis en meer proletariese gewoontes, soos die 'voorstedelike' gewoonte om jong seuns te laat langbroek dra," sê Hanson.

Nog ’n tradisie is die koningin se obsessie met handskoene en helder kleure. Dit blyk die monarg dra handskoene om te keer dat kieme versprei wanneer sy op geleenthede mense se hand skud. Die helderkleurige uitrustings is weer spesifiek ontwerp sodat sy in ’n skare kan uitstaan. 

"As ek beige gedra het, sou niemand geweet het wie ek is nie," het die koningin al gesê. 

Foto: Gallo Images/Getty Images

Bronne: BBC, The Independent, The Sun