Sedert die begin van die jaar terg die blonde aktrise haar aanhangers al met geheimsinnige inskrywings oor die misterieuse nuwe man in haar lewe.

Op die foto’s wat Leandie du Randt van haar en dié lenige donkerkop op Instagram plaas, kyk hy altyd weg, of sy gesig word agter rooi hartjies of ’n boek weggesteek.

Maar hy staan met sy arms om haar lyf, en sy gooi hare sorgeloos om sy skouers . . . Op ander foto’s waarop net Leandie verskyn, noem sy hom in die kommentaarveld “daardie spesiale persoon wat die foto neem”. Hóé spesiaal? wonder haar aanhangers dan.

Leandi du Randt
Stephan en die aktrise ontspan langs die swembad tydens hul vakansie vroeër vanjaar op Mauritius. Foto: Instagram/@leandiedurandt

Spesiaal genoeg om die gewilde aktrise se hart weer heel te maak?

’n Paar dae ná die begin van die inperking het Leandie toe sommer self op die gissings geantwoord met die plasing van ’n intieme foto wat duidelik wys sy is nié in hierdie tyd eensaam en alleen by die huis nie.

Op dié foto op Instagram verskyn die donkerkopman weer saam met haar, wel neus in ’n boek en met sy rug na die kamera, en sy vly haarself liefies teen hom aan.

Daarby skryf sy: “Working from home . . .” Dit is saam met hóm wat sy die dae van noodgedwonge afsondering tuis deurbring. Maar meer oor Stephan Neethling (40) rep die aktrise nie ’n woord nie.

Leandi du Randt
Leandie en Stephan Neethling is tydens die inperkingstyd bymekaar. Foto: Instagram/@leandiedurandt

Hy het self al spore in die vermaakwêreld getrap en is ’n vervaardiger van die kykNET-gewigsverliesprogram Slank, wat Leandie (31) al sedert 2016 aanbied. En hy is die een wat die liefde opnuut vir Leandie ontsluit nadat sy en die sanger en akteur Bouwer Bosch (36) verlede jaar geskei is.

Leandi du Randt
Stephan neem ’n agter-die-skerms-selfie. Hy en Lean­die werk saam aan die gewigs­verliesprogram Slank, wat sy sedert 2016 aanbied. Foto: Instagram/@leandiedurandt

Stephan is boonop die eksman van Bouwer se nuwe sangmaat, die sangeres Lucinda Neethling (33), maar daaroor swyg Leandie ook. Want terwyl Bouwer en Lucinda die afgelope paar maande gereeld die ateljee of verhoog gedeel het, het ook hul ekse mekaar van nader leer ken.

Leandie se eksman, Bouwer, en Stefan se eksvrou, Lucinda Neethling, het intussen ’n steunpilaar vir mekaar geword. Hulle het verlede jaar saam begin optree en het ’n kortspeler, Waar die see en kus ontmoet, uitgereik. Bouwer sê hulle gebruik musiek om ’n groot deel van hul eie seer te hanteer en daaraan ’n stem te gee. Foto: Instagram/@bouwerbosch

Maar dié intrige is ’n bysaak, want aanhangers is maar te bly die liefde het weer sy mooi kant gewys vir Leandie, wat nou weer as Mieke in die kykNET-reeks Getroud met rugby te sien is.

“Ek het nooit in my lewe gedink ek gaan skei nie,” het Leandie onlangs aan ’n volgepakte Rockwoodteater in Pretoria gesê toe sy daar ’n motiveringspraatjie met die titel “Dis oukei om jouself te skei (van alles)” gelewer het.

Dit was sowat ’n jaar nadat Bouwer en Leandie saam in die sosiale media aangekondig het hulle is “beter maats as huweliksmaats” en besluit het om verskillende rigtings in te slaan.

Leandi du Randt
Bouwer en Leandie het op 1 Maart verlede jaar ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin hulle sê hulle is “beter maats as huweliksmaats” en het in liefde vir mekaar besluit om te skei. Foto: Instagram/@leandiedurandt

In haar motiveringspraatjie verwys Leandie na daardie seer tyd. “Ek dink nie enigeen trou om te skei nie,” sê sy daarin.

“Ek gaan nie vir julle sê hoekom ek geskei het nie, maar ek gaan vir julle sê dit was nie noodwendig my besluit nie.

“Soms gebeur iets met jou waar iemand na jou toe kom en hulle sê vir jou goeters and you have to make a decision and this decision will change the rest of your life, en ek het dit nooit verwag nie. In my lewe het ek nooit gedink dit gaan met my gebeur nie. En dis sad, want hierdie keer het dit my baie erger ge-hit as my ma se dood,” vertel sy dan.

Haar ma, Elmarie, is in 2014 op 58 weens alzheimersiekte oorlede.

“Met haar dood het ek gevoel ek het nie beheer daaroor nie. Ek het nie gekies om haar te laat gaan nie, maar hierdie keer is dit rejection. “Iemand het gekies om jou te laat gaan. Iemand het gekies om te sê ‘ek wil nie meer by jou wees nie’, en ek is glad nie kwaad vir hom nie. Bless hom; hy is regtig ’n ongelooflike mens.”

Leandi du Randt
Die glanspaar was byna drie en ’n half jaar getroud. Foto: Instagram/@leandiedurandt

Tot vandag toe het nie Leandie of Bouwer enigiets in die openbaar laat blyk oor wat in hul huwelik skeefgeloop het nie. Albei hou dit privaat, en albei kies om oor hul seer te swyg.

Maar Leandie draai nie doekies om tydens haar motiveringspraatjie nie. “Die huwelik is soos ’n vergrootglas,” sê sy onder meer daarin. “Wat klaar sleg is, gaan slegter raak. En wat klaar goed is, gaan beter raak. “But you cannot change a human being en ek het al daai issue van skooldae af gehad.

“Ek het al my ouens gesien as hierdie projekte, die afvlerkvoëltjies. “Toe sê my pa vir my: ‘My kind, gaan swot bedryfsielkunde dat jy at least betaal word om ’n man of ’n persoon te verander. Want die Here alleen weet, jy gaan dit nie in ’n huwelik óf ’n verhouding regkry nie.’ ”

Hulle het ná hul egskeiding eers probeer om vriende te bly, maar toe kom daar ’n punt waar Leandie haarself moes afsny. “Die eerste keer dat ek hom weer by ’n geleentheid gesien het, het ek besef ek is nie oukei nie. Ek het ’n Uber bestel en op pad huis toe my oë uitgehuil. Ek moes hom uit my lewe sny sodat ek weer vars kon begin,” het Leandie aan Maroela Media gesê.

In die tyd dat sy alleen was, het sy gevoel sy is besig om die blymoedigheid binne haar te verloor. “Met hierdie trauma kom baie goeters op en ’n mens moet gaan dink. Ek was letterlik vir agt maande isolated. Dit het iets by my geplant: Hoekom pla dit my so erg dat ek nou skei, dat iemand my gelos het . . .?

Leandi du Randt
Leandie het baie lesse uit haar seerkry geleer. Foto: Instagram/@leandiedurandt

“Toe besef ek dis so sad dat ’n mens eers deur trauma moet gaan om dán te begin besef waar jy in jou lewe is,” sê sy in haar praatjie.

“Ek het besef dat as jy jouself moet skei van goed in jou lewe jy jouself daarvan moet verlos. Net jy moet rekenskap gee oor jou lewe.” Die gelowige aktrise vertel in haar praatjie hoe swaar dit was om ander se oordeel te ervaar, tot sy besef het “dis nie die Here wat mense veroordeel nie, maar ander mense”.

Maar, “maak nie saak wat jy al in jou lewe gedoen het nie: He has already forgiven you”, benadruk sy.

Vir Bouwer was dié tyd net so swaar, het hy onlangs aan Jaco Strydom vertel in sy podsending Moeilikheid is ons besigheid! met Jaco Strydom.

“My pa is in my arms oorlede,” vertel Bouwer in die podsending oor sy pa se dood in November 2014.

“Ek oordryf nie eens nie. Dink aan ’n Hollywood-movie waar jy jou pa vashou. Jy huil jou oë uit terwyl hy letterlik sy laaste asem in jou arms gee, en ek sê vir hom jammer oor alles in my lewe, alles wat ek aan hom gedoen het en hoe seer ek hom gemaak het, en hy sterf letterlik in my arms.

“Dit was traumaties. Maar niks, niks, kon my ooit voorberei het op hoe traumaties ’n egskeiding is nie. En verlede jaar was definitief een van die donkerste jare in my lewe.

“Wanneer so iets gebeur, is jou hele mondering ge-demolish. Jy gaan deur alles wat jy al ooit geglo het, gedink het, en wonder: Maar is dit dan waar?

Ek praat nie eens van die liefde nie. Ek praat van alles wat jy al jou hele lewe lank geglo het. Jy bevraagteken alles.

“En jy gaan deur hierdie massive aardbewing binne jouself. Laas jaar was ’n donker jaar wat dit betref.”

Maar in dié tyd het Lucinda vir hom ’n steunpilaar begin word en dié twee het agter die mikrofoon kragte saamgesnoer.

Lucinda, ook ’n kunstenaar en pilates-instrukteur, was voorheen ’n lid van die musiekgroep Die Melktert Kommissie. Haar en Bouwer se paaie het die eerste keer gekruis toe die musiekgroep Straatligkinders, waarvan Bouwer ’n lid is, ’n liedjie saam met Lucinda wou opneem.

Bouwer en Lucinda
Foto: Instagram/@bouwerbosch

Dié lied, “Herinner”, is in 2018 bekendgestel. In Julie verlede jaar het Bouwer en Lucinda hul eerste kortspeler, Waar die see die kus omhels, uitgereik.

Bouwer het voorheen aan Huisgenoot vertel hulle is albei verlede jaar deur ’n moeilike tyd, en musiek het help troos. “Musiek is soos medisyne. Ons twee kon dit gebruik om ’n groot deel van ons eie seer te hanteer en daaraan ’n stem te gee.

“Mense dink ons musiek gaan oor verhoudings, maar dis eintlik als rond- om die konsep van liefde geskryf,” het Bouwer toe vertel. 

Net soos wat Leandie nou die lesse uit haar seerkry met haar aanhangers deel, het Bouwer ook aan sy aanhangers vertel hy moes ná hul egskeiding na binne reis.

Op Instagram het hy geskryf: “2019 het my geleer die kriteria om ’n mens te wees behels nie dat jy perfek hoef te wees nie. Jy gaan seerkry en ander mense ongelukkig seermaak.

“Die belangrikste les is om te leer uit jou foute, te probeer om dit nie te herhaal nie, met jouself en ander genade te hê en te probeer om elke dag ’n beter persoon te wees.”

Nie een van die vier – Leandie en Stephen of Bouwer en Lucinda – wil nou ’n woord rep oor die kruispunt in hul paaie nie. Maar op die foto’s wat Leandie gereeld in die sosiale media deel, is dit duidelik sy is net meer as ’n jaar ná haar egskeiding op ’n veel beter plek.

Sy het haar slegte 2019 met ’n Europese toer saam met ’n vriendin afgesluit en die nuwe jaar met ’n familievakansie op Mauritius ingegaan.

Leandi du Randt
Die aktrise het 2019 met ’n Europese toer afgesluit. Foto: Instagram/@leandiedurandt

Dit was juis daar dat die strandfoto van haar en Stephen geneem is wat sy toe met aanhangers gedeel en hulle laat wonder het of die aktrise weer liefde gevind het.

Leandi du Randt
Leandie het in Januarie vanjaar die heel eerste foto van haar en ’n lang donkerkopman op die strand gedeel. Sy gesig was weggekeer van die kamera en die kommentaar onderaan die foto was gesluit. Foto: Instagram/@leandiedurandt

Sy het ingetrek in ’n nuwe huis in Pretoria, skryf ’n nuwe selfhelpboek wat volgende jaar uitgereik sal word en bestuur haar eie geskenkpakonderneming, Tobegiftboxes.

En soos dit uit haar Instagramfoto’s blyk, bring sy haar ledige én besige ure weer deur saam met iemand wat haar baie, baie gelukkig maak . . .