Theltom Masimila is op 27 die hoofskrywer en verva
Theltom Masimila is op 27 die hoofskrywer en vervaardiger van een van die land se gewildste telenovelles. Foto: Verskaf

Sy ma, Thelma, het dit getrou vir hom opgeneem, en dan het hy sy sit voor die kassie gekry en hom in die lief en leed van Amalia verdiep of hom deur die storielyn van Onder draai die duiwel rond laat meesleur.

Sy gunstelingreekse het hy oor en oor gekyk; hy kan jou steeds vertel wat in elke episode gebeur het. Tog het iets geskort.

“Bruin mense,” vertel hy met klem, so asof die besef opnuut weer by hom posvat. “Want al die reekse was wit.”

Toe spring Theltom Masimila sommer self aan die werk om iets te skep wat die ware, diverse demografie van ons samelewing en die Afrikaanse leefwêreld beter weerspieël.

Op die ouderdom van 19 begin hy ’n kortverhaal skryf wat ook sý wêreld en mense hul regmatige plek gee.

En nou, sowat agt jaar later, vermaak die storie wat uit daardie kortverhaal gespruit het kykers in die gewilde kykNET-telenovelle Arendsvlei.

“Ek is baie trots daarop,” vertel Theltom vanuit die woonkamer van sy huis in die Strand. Hy is op die jong ouderdom van 27 die hoofskrywer én vervaardiger van die reeks wat al die afgelope twee jaar uitgesaai word.

Maar dit het geduld en moedhou geverg, want voor die telenovelle se debuut is dit eers vyf keer van die hand gewys.

“Ek het geweet die reeks gaan die een of ander tyd gebeur, maar ná ’n ruk demotiveer dit jou,” erken hy.

Maar elke teleurstelling het hom net gemotiveer om aan te hou. En dit was deur en deur die moeite werd, sê hy, want benewens die gewildheid van die reeks onder kykers kan Theltom vandag tevrede voel dat hy in sy oorspronklike doelwit geslaag het: om aan die stories van sý mense ’n regmatige plek te gee.

Theltom saam met van die Arendsvlei-akteurs en -ve
Theltom saam met van die Arendsvlei-akteurs en -vervaardigers by die première van die telenovelle in September 2018 in Kaapstad. Foto: Verskaf

Die telenovelle draai om die fiktiewe Hoërskool Arendsvlei op die gelyknamige dorpie – ’n skool baie soos die een waarin Theltom as kind was, in ’n gemeenskap soortgelyk aan sy tuisvoorstad, Kraaifontein.

Die tonele word geskiet by die tegniese skool Axios in Eersterivier op die Kaapse Vlakte.

Gewoonlik as jy van Eersterivier in die nuus hoor, is dit omdat daar ’n skietery of taxi-hijack was. Maar nou het die inwoners ook iets om op trots te voel.

Dis vir Theltom bevredigend dat sy karakters en reeks geleenthede bied aan jong, opkomende akteurs. Net so bevredigend is die positiewe blootstelling wat dit aan Eersterivier gee.

Hy verduidelik die leerders aan die tegniese skool Axios word as ekstras in die reeks ingespan. “Gewoonlik as jy van Eersterivier in die nuus hoor, is dit omdat daar ’n skietery of taxi-hijack was. Maar nou het die inwoners ook iets om op trots te voel.”

Die karakters op die kassie het hom dalk kleintyd aangegryp, maar dis die mense in sy ware leefwêreld wat nog altyd Theltom se inspirasie was. Veral die onderwysers in sy familie was natuurlike stof vir Arendsvlei.

By die Laerskool Scottsville in Kraaifontein, waar Theltom en sy tweelingbroer, Thelren, aanvanklik skool-gegaan het, was hul pa, Tommie, die onderhoof. In gr. 4 is die boeties verskuif na die Primêre Skool Petunia, ook in Kraaifontein.

Theltom vertel hy het moeilik maatjies gemaak by die nuwe skool.

“Elke pouse het ek in die biblioteek gaan wegkruip.” Daar het hy hom in lees verdiep en ook die kennisgewings oor die skoolkoerant opgemerk. Hy het by die redaksie aangesluit en so is hy in ’n skrywersgroepie by die skool opgeneem.

“Dis ook hoe ek my mentor, Thérèse Hulme, ontmoet het. Sy het na ons skool toe gekom om haar tesis te doen en kom toe op ons skrywersgroepie af.”

Hy en Thelren was albei lede van dié groep en hulle het van gedigte tot kortverhale geskryf. Die twee was 15 toe hulle hul eie amateurdigbundel, Piemp, aanmekaargekram het.

‘Ek skryf saans op my beste, want dan is die wêreld afgeskakel’

Tog was Theltom so byna vir die skryf- en vermaakwêreld verlore. Terwyl sy tweelingbroer in hul pa se onderwyserskoene gevolg het, wou Theltom dokter word.

Ná matriek aan die Hoërskool Scottsville het hy aan die Universiteit Stellenbosch medies studeer. Maar dit was nie sy passie nie. Hy het opgeskop en kortverhale geskryf, waarvan baie in die tydskrif Kuier verskyn het.

Gou het hy Danie Odendaal, destyds die uitvoerende vervaardiger van 7de Laan, se e-pos op Google gesoek en vir hom storie-idees begin stuur.

“Toe bel hy en sê hy’s in die Kaap en kan ons mekaar ontmoet; dalk kan ek vir dié sepie skryf,” onthou hy.

Tot Theltom se teleurstelling het die ontmoeting nooit plaasgevind nie.

“Iets het voorgeval. Maar Danie het my toe later genader om ’n toetsepisode te skryf.”

Drie maande van naels kou het verbygegaan – en toe kom die wonderlike uitnodiging: Skryf vir 7de Laan! En boonop in die gerief van sy Kaapse woning.

“Ek was in gr. 2 toe 7de Laan begin het, en hier begin ek op 22 vir hulle skryf,” vertel hy steeds verwonderd.

Episode 3 450, wat in Junie 2015 uitgesaai is, was die eerste waarin hy ’n aandeel gehad het. Van daar het sy loopbaan momentum gekry.

Theltom Masimila is op 27 die hoofskrywer en verva
Theltom Masimila is op 27 die hoofskrywer en vervaardiger van een van die land se gewildste telenovelles. Foto: Verskaf

In 2015 het hy ook as draaiboekskrywer vir die gewilde Kaapse sepie Suidooster begin werk.

“Ek het gegaan van kortverhale skryf na iemand wat aan twee sepies op twee verskillende kanale skryf.”

Wat hy van skryf weet, het hy meestal self geleer, of by vriende soos die Arendsvlei-skrywers Wilmien Rossouw en Quanita Adams.

Ná byna drie jaar by 7de Laan en Suidooster het hy as ontwikkelingshoof vir Penguin Films begin werk – die vervaardigers van Arendsvlei. Ná baie jare kon sy spesiale baba eindelik die lig sien.

In Augustus vanjaar is aangekondig nog ’n seisoen van die suksesvolle telenovelle gaan vervaardig word. En dit sal voortaan vier keer per week te sien wees.

“Ek voel dankbaar en geëerd om vir nog ’n jaar die mense van Arendsvlei se stories te vertel,” sê Theltom beskeie.

Waarna kan aanhangers uitsien? Die feeks Wendy Newman (Rehane Abrahams) se verlede haal haar in nadat Debra (Kay Smith) ontdek het wie haar regte ma is, verklap Theltom. En die Hoërskool Arendsvlei kry dalk ’n nuwe hoof . . .

Theltom vertel hy besoek die Arendsvlei-stel net vier of vyf keer per jaar.

“Ek is nie nodig daar nie; dis hul playground.

Gewoonlik sal jy hom tuis agter sy lessenaar vol plante aantref.

“Ek skryf saans op my beste, want dan is die wêreld afgeskakel. Ek kan heelnag deur skryf.”

Omdat hy graag tuis werk, was die inperking draagliker. Ook omdat sy broer, hul ma en hul suster, Lynn Heathcote (37), by hom was. Ma en dogter is verpleegsters.

Die mense in sy leefwêreld was nog altyd sy inspir
Die mense in sy leefwêreld was nog altyd sy inspirasie. Van links is sy tweelingbroer, Thelren, suster, Lynn, ma, Thelma, en Theltom. Foto: Verskaf

Theltom is nog propvol kreatiewe energie: “Ek wil soveel moontlik doen voor ek 30 is!” ’n Vollengtefliek en ’n internasionale loopbaan is hoog op sy lys.

Voor ons groet, haal hy die Hollywood-aktrise Susan Sarandon aan: “I am where I am because all of my plans failed.” Dis Theltom se mantra.

“Ek kan dieselfde sê, want as my planne uitgewerk het, was ek vandag ’n dokter en nie ’n skrywer en vervaardiger nie.” 

  • Arendsvlei kry vanaf Maandag, 5 Oktober ’n ander tydsgleuf. Die telenovelle word nou van Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie uitgesaai.  
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.