“Ek het skeef getrap en toe sleg op my been geval. Ek wens daar was ’n cooler storie daaragter,” vertel die aktrise aan Huisgenoot. 

“Ek het verskriklik baie pyn. My eerste fisioterapiesessie was moeilik, maar ek is positief dat ek mooi sal aansterk.” 

Volgens Monique sou sy nooit "in ’n miljoen jaar" kon dink dat sy haar verjaardag in die hospitaal sal deurbring nie. 

“Ek dink eintlik my brein het nog nie heeltemal besef wat gebeur het nie. Ek moet pyn verduur en gaan nou baie versigtiger wees met myself,” sê sy.

Monique is darem later die dag ontslaan en kon die res van haar spesiale dag by die huis deurbring saam met haar man, die akteur Keenan Herman, en hul driejarige seuntjie, Axel.   

Die aktrise, wat ook al te sien was in die bekroonde fliek Nommer 37 en die SABC2-dramareeks Onder die Suiderkruis, was besig om aan ’n reeks te skiet, maar moes die rol afstaan nadat sy haar been gebreek het. 

Sy is vroeg volgende jaar te sien in die derde seisoen van die kykNET-dramareeks Sara Se Geheim en ’n nuwe SABC2-sitkom, The Riviera. 

Oor haar hoofrol in Die Spreeus sê sy: “Dit was verskriklik lekker om Beatrice Mack te speel. Sy was tough en hardcore. Dit was vir my lekker dat die dramaturg, Tertius Kapp, die karakter nie ’n stereotipe gemaak het nie en die regisseur, Jaco Bouwer, my vryheid gegee het om al haar gewoontes en maniere self uit te leef.”

Die slimkop Beatrice het op universiteit wetenskap en wiskunde studeer, maar opgeskop om by die polisie aan te sluit.

In die reeks ondersoek haar karakter en haar speurmaat, Bas (Chris Vorster), misdade wat hulle na ’n ander wêreld lei.

View this post on Instagram

This mornings location... ??????????????

A post shared by Monique Rockman (@mo_rockd) on

Sy sê dit was lekker om as bruin vrou so ’n sterk rol te speel, want jong bruin vroue moet hulself nie as stereotipes op televisie sien nie. "Ons kan ook sterk en intelligent wees,” sê Monique.

Die aktrise sê sy het by Beatrice geleer om nie bang te wees vir die donker nie, om haar man te staan en nie maklik geïntimideer te voel nie.

Monique gaan ook teen die einde van die jaar haar eerste teaterteks op die planke bring met haar Sara Se Geheim-medester Brendon Daniels as regisseur.