Toe die paleis versoek het dat hulle die handelsmerk Sussex Royal laat vaar, het die egpaar ongesteur voortgegaan om hul eie weg te vind met ’n verhuising na Los Angeles en planne om ’n nuwe liefdadigheidsorganisasie met die naam Archewell op die been te bring.

Die naam Archewell is deur hul eenjarige seun, Ar
Die naam Archewell is deur hul eenjarige seun, Archie, geïnspireer. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maar nou is daar luidens berigte ’n haakplek in Meghan en Harry se ambisieuse planne.

Die Amerikaanse departement van patente en handelsmerke het hul handelsmerkaansoek glo gestuit oor dit te vaag was en die vorms nie behoorlik ingevul is nie.

Die Britse koerant The Sun beweer hulle het vorms gesien wat op 3 Maart namens ’n Hollywoodse prokureur ingedien is wat glo voorheen saam met die hertogin van Sussex gewerk het.

Die kennisgewing lui: “Die bewoording wat ‘ ’n webtuiste voorsien met inhoud wat met filantropie, geldskenkings, vrywilligerswerk en loopbaangeleenthede verband hou’ in Internasionale Klas 35 is onduidelik en te breed en moet opgeklaar word om die aard van die inhoud te spesifiseer.”

Volgens die kennisgewing was daar ook uitstaande tariewe wat betaal moes word voor die dokument verwerk kon word en het die Sussexe se verteenwoordigers nie die vorm onderteken nie.

Hoewel patentaansoeke dikwels aanvanklik verwerp word, is die egpaar aangesê om verskeie veranderings te maak wat weer teen 22 Augustus ingedien moet word, anders loop hulle die risiko dat die aansoek uitgegooi kan word.

Meghan (38) en Harry (35) het vroeër aangekondig hulle het die amptelike bekendstelling van hul Archewell-projek uitgestel na aanleiding van die coronaviruspandemie en die Black Lives Matter-betogings.

Prins Harry en Meghan op 9 Maart 2020 in Londen. F
Prins Harry en Meghan op 9 Maart 2020 in Londen. Foto: Chris Jackson/Getty Images

Bronne: EXPRESS.CO.UK, THESUN.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK, APNEWS.COM, CNN.COM, DAILYMAIL.CO.UK, EONLINE.COM, USMAGAZINE.COM