Die twee het onlangs aan die nuwe reeks Maniac gewerk. Hulle het die tonge laat klap nadat Emma einde April saam met Justin op sy Instagram-rekening verskyn het.

Hul gemeenskaplike vriend die televisiepersoonlikheid Jonathan van Ness was ook op die kiekie. Dié het gou die gerugte van ’n romanse probeer wegpraat.

“Hulle is vriende. Ons is almal vriende,” beweer Jonathan. “Mans en vroue kan net vriende wees.”

April: Justin plaas ’n Instagram-foto waarop hy saam met Emma en Jonathan poseer. Foto: Instagram/@justintheroux

Onder die byskrifte wat die Wanderlust-ster daarby geskryf het, is ’n duidelike boodskap oor sy vriendskapstatus: “Bffffffs. En ja. NET bfffffs”. Maar kort daarna is hy en Emma gewaar waar hulle saam aandete eet.

Ons wil nie sê iemand jok nie, maar hulle bring darem bitter baie tyd saam deur . . .

Steelfotograwe het ook vir Justin en Emma gekiek toe hulle op 7 Mei Rihanna se Met-galapartytjie in New York saam verlaat.

Die vriende was nie alleen nie; hulle ry op die foto in ’n limousine weg saam met die Big Little Lies-aktrise Shailene Woodley. ’n Bron sê hulle was heelaand saam. 

En op 28 Mei is hulle saam afgeneem in die voorste gestoeltes by 'n modeparade in Parys, Frankryk, maar hulle het gesorg dat ’n paar mense tussen hulle sit.

Mei: Die twee is weer saam gesien by die onlangse bekendstelling van ’n Louis Vuitton-voorseisoenreeks in Frankryk. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bronne: People.com, DailyMail.co.uk,Eonline.com