Volgens ingeligte bronne het die twee ’n romantiese wegbreek van drie nagte in ’n luukse boetiekhotel, Villa La Coste, geniet. “Hy het saam met haar in New York uitgehang voor hulle sy verjaardag in Frankryk gaan vier het,” vertel die bron. 

Kanye het op 8 Junie sy 44ste verjaardag gevier.

Die paartjie is later afgeneem toe hulle op ’n lughawe in New Jersey land nadat hulle in ’n privaat vliegtuig uit Frankryk gevlieg het. 

Hul eerste foto’s saam kom vier maande nadat Kanye se vrou, Kim Kardashian (40), om ’n egskeiding aansoek gedoen het ná ’n huwelik van byna sewe jaar. 

Dis nie die eerste keer dat Kim en Irina (35) met dieselfde man verbind word nie. Kim het in April 2010 ’n kortstondige verhouding met die sokkerster Cristiano Ronaldo gehad voor Irina ’n vyf jaar lange verhouding met hom aangeknoop het. 

Kim se warrelwindromanse met die 36-jarige Juventus-speler het gevolg op die verbrokkeling van haar verhouding met die Amerikaanse voetbalster Reggie Bush. Hulle is in Spanje saam gesien terwyl Cristiano vir Real Madrid gespeel het en het glo oor middagete in ’n restaurant ’n soen gedeel. 

Bronne het destyds vertel die paartjie het daarna na Ronaldo se woning gegaan. Hulle het mekaar blykbaar in Los Angeles ontmoet nadat Ronaldo uitgevind het Kim het hom in Spanje sien speel. Dis onbekend hoe lank die twee saam was. 

Irina Shayk en Kanye West is gekiek in New Jersey.
Irina Shayk en Kanye West is in New Jersey afgeneem. Foto: TheImageDirect.com/Magazine Features.

Irina en Cristiano het mekaar ontmoet kort nadat sy en Kim se romanse verby was. Hulle het in Mei 2010 op ’n seiljagreis saam vertrek. 

Cristiano het ’n maand later ’n seun, Cristiano jr., ryker geword (die identiteit van die ma is nooit bekendgemaak nie). Dit het nie verhoed dat hul romanse vlam vat nie en die twee was teen die volgende jaar verloof.

Maar hul paadjies het in 2015 geskei.

Irina het daarna met die Oscarbekroonde akteur Bradley Cooper (46) uitgegaan, saam met wie sy ’n vierjarige dogter, Lea de Seine, het. Kanye is in 2014 met Kim getroud en die twee het vier kinders, North (7), Saint (5), Chicago (3) en Psalm (2).

Kim het in Februarie vanjaar 'n egskeiding van die rapper gevra.

En nou is Irina en Kim se vervreemde man ’n paartjie. 

“Hulle ken mekaar op beroepsvlak al jare lank. Hy het haar ’n paar weke gelede die hof begin maak. Kanye is ’n man met ’n sterk oorredingsvermoë,” sê ’n bron.

“Sy lyk smoorverlief. Hy het haar Frankryk toe genooi en sy het met graagte ingestem. Hulle vat dit nog rustig, maar hou baie van mekaar. Dit gaan al vir 'n paar weke aan.”

Irina en Christiano het in 2010 begin uitgaan, voo
Irina en Cristiano het in 2010 begin uitgaan en het vyf jaar later hul verlowing verbreek. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Irina en die Yeezy-stigter ken mekaar al langer as ’n dekade.

Sy was in 2012 deel van sy modevertoning by die Paryse Modeweek, word genoem in sy liedjie "Christian Dior Denim Flow" en het in 2010 in die musiekvideo vir sy liedjie "Power" verskyn.

“Dis soveel pret om saam met Kanye te werk omdat hy ’n uitstekende kunstenaar is en ook ’n wonderlike mens,” het Irina destyds aan The Wall Street Journal oor haar kameerol gesê.

Kim is glo min gepla met hoe vinnig haar eks met sy lewe aangegaan het.

“Sy het die gerugte oor Kanye en Irina Shayk gehoor en gee glad nie om nie. Solank dit nie ’n impak op haar kinders het nie, gee sy nie om as Kanye op afsprake gaan nie,” sê ’n bron.

“Irina en Kim is nie vriende nie, en daar is dus geen ongemaklikheid nie,” sê nog ’n bron. 

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, USMAGAZINE.COM, EONLINE.COM, PAGESIX.COM, TMZ.COM, MIRROR.CO.UK
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe