Hy het Donderdagmiddag laat onraad gemerk toe hy ’n vreemde kennisgewing op sy Facebook-profiel ontvang het, vertel Dirk Vrydag telefonies aan Huisgenoot.

Die kennisgewing het die sanger gemaan om sy wagwoord vir sy Facebook-profiel te verander en het gesê ’n anonieme rekening vanuit Amerika probeer toegang tot die profiel verkry.

Dirk sê hy het derhalwe sy wagwoord verander – maar daarna toegekyk hoe sy Facebook-profiel met meer as 90 000-aanhangers eensklaps verdwyn . . . 

“Ek kon dit nie glo nie. Ek was totaal uit die veld geslaan en het gewonder of dit nie dalk net ’n fout is nie,” vertel die sanger.

Hy het sy vriend en agent, die publisiteitsbestuurder Wian Smith, gevra om na sy Facebook-profiel te soek, verduidelik Dirk, maar die profiel was skoonveld.

“Ek het na my Instagram rekening gegaan – wat ook net duskant 70 000 volgelinge gehad het – en het met my eie oë gesien hoe die rekening uitgewis word,” vertel Dirk.

Die sanger sê hy het sy webmeester, Janie van der Walt, gevra om ondersoek in te stel. Maar haar gevolgtrekking was verdoemend: kuberkrakers het deur middel van ’n ou webadres – wat met sy Facebook en Instagram-rekeninge verbind was – toegang tot sy profiele verkry en dit toe uitgewis. 

“Daar is absoluut niks wat ons daaraan kan doen nie. Nie een enkele ding nie,” sê Dirk.

Sy profiele in die sosiale media was een van die gewildste maniere wat hy gebruik het om interaksie met sy aanhangers te bewerkstelling, sê Dirk. 

“Die Facebook-profiel is minstens 12 jaar oud. En dis nie net die blaaie vir my ondersteuners nie: my persoonlike rekening het ook in die slag gebly. Dis jare en jare se herinneringe en foto’s – alles in ’n oomblik weg. ’n Mens bars sommer in trane uit.” 

Foto verskaf
Foto: Verskaf

Die sanger het Vrydagoggend nuwe rekeninge op beide Facebook en Instagram geskep. In ’n video op Facebook, waar hy oor die kuberkrakers praat, het ’n emosionele Dirk in trane uitgebars.

Maar hoekom was hy ’n teiken? 

“Ek het vanoggend opgegooi – dit was asof ek ’n angsaanval kry. ’n Mens voel of die wêreld rondom jou neerkom. Maar dis ’n aanval van die duiwel, daarvan is ek seker. 

“Net anderdag het ek nog ’n regstreekse video op Facebook gedeel waarin ek praat oor God; oor hoe ons aan Hom moes vashou in hierdie moeilike tyd. Daar was honderde kommentare – en nou dit. Dis iemand wat my wil stil hê want hulle weet ek is ’n stem vir God.” 

Hy beoog nie om ’n klag aanhangig te maak of die saak verder te ondersoek nie, verduidelik Dirk. 

“Nes soveel keer vantevore, nes soveel terugslae in die verlede, gaan ek weer ’n keer by God se voete sit. En ek weet Hy sal dit uitsorteer – dis nie my battle om te fight nie. Ek sal terugkom, groter as ooit, as dit die Here se doel vir my is.” 

Kunstenaars soos die Suidooster-akteur Dean Smith, Ilne Nienaber van Binnelanders-faam en die 7de Laan-aktrise Nadia Herbst is in die verlede ook al deur kuberkrakers geteiken.