Swangerskapgerugte het weer opgevlam nadat die hertogin van Sussex (37) Vrydag met ’n oorgrootte jas by haar man, prins Harry (34), se niggie prinses Eugenie (28) en haar liefie, Jack Brooksbank (32), se troue opgedaag het. Het Meghan ’n brood in die oond? is daar wyd gegis.

Nou is dit uiteindelik deur Kensington-paleis bevestig! Die hertog en hertogin van Sussex verwag hul eersteling!

Die paartjie het in Mei afgehaak. Nou, vyf maande later, het die paleis in die sosiale media die nuus bevestig waarop hul aanhangers die wêreld oor al lank wag.

“Die koninklike hoogheid, die hertog en hertogin van Sussex, is baie bly om aan te kondig dat die hertogin van Sussex (Meghan) in die lente van 2019 'n baba verwag,” lui die aankondiging op die paleis se Instagram-blad. 

“Hulle waardeer die ondersteuning wat hulle van mense regoor die wêreld gekry het sedert hulle in Mei getrou het en is verheug om hierdie gelukkige nuus met die publiek te kan deel.”

Die foto's by prinses Eugenie se troue wat tot gerugte van swangerskap gelei het. Foto: Getty Images
Foto: Getty Images

Die paartjie het onlangs in Australië geland vir hul eerste groot internasionale toer. Hulle het ewe liefies hande vasgehou toe hulle van die vliegtuig afgeklim het en Meghan het gegloei met haar aankoms in dié land. 

Luidens gerugte gaan Meghan se ma, Doria Ragland (62), wat in Los Angeles in Amerika woon, glo haar in Engeland vestig om hand by te sit met haar kleinkind. Doria is ook al gewaar in ’n babasorgklas in die Kaliforniese stad Pasadena.

Veels geluk, Meghan en Harry!

Ekstra bron: Daily Mail