Die 38-jarige Magic Mike-akteur het op Instagram liries geraak oor die Britse sangeres se uitvoering in die Albert Hall op Dinsdag 13 November. 

“Dié vrou het so pas op die verhoog in die Royal Albert Hall haar hart uitgestort,” skryf Channing by sy plasing. “Wie ook al daar was, het iets spesiaals aanskou. Sjoe.”

Die Amerikaanse hartebreker het ook ’n kort video van Jessie (30) op sy Insta Stories gedeel met die byskrif: “Sy was vanaand aan die brand!#RoseTour.”

Channing het Jessie se ma, Rose Cornish, ook glo by die konsert ontmoet en ’n paar sitplekke van haar af gesit, berig Metro News

Maar dis nie die eerste keer dat die Step Up-akteur sy meisie sien optree nie. 

Vroeër dié maand het Channing sy dogter, Everly (5), na Jessie se konsert in die Wiltern-teater in Los Angeles geneem, berig People.

“Channing is haar grootste aanhanger,” sê ’n bron. “Hy vlieg oral in Amerika om haar konserte by te woon.”

Foto: Insta-stories.

Jessie J het ook haar steun vir haar nuwe ou gewys toe sy Channing se Magic Mike-verhoogproduksie op Saterdag 10 November bygewoon het, berig E news

“Magic Mike London-openingsaand,” het Jessie J by haar foto op Instagram gesê. 

“Geluk aan @channingtatum, wat ’n vertoning . . . Dames en here, julle wil dit nie misloop nie.” 

Channing, wat in April van Jenna Dewan Tatum geskei is, en Jessie het in Oktober in Seattle, Amerika, saam minigholf gespeel en gerugte het toe die ronde begin doen dat hulle uitgaan.

Bronne: People, E News, Celebrity Nine, Metro