Sy is “effens te vet,” het die modeontwerper Karl Lagerfeld eenkeer gesê. Aanhangers van die sangeres met die fluweelstem was vies oor dié opmerking, maar Adele het nie omgegee nie. 

Sy was wie sy was – die sensuele koningin van meesleurende liedjies, en basta met ander se gekerm oor haar vol figuur en voorliefde vir vloeiende rokke. 

“Ek hou van goeie kos en haat dit om gim toe te gaan,” het sy aan die tydskrif Rolling Stone verklaar.

Maar as hy nog geleef het, sou Karl Lagerfeld nou sy woorde moes sluk. Want die geliefde Britse sangeres (31) het ’n transformasie ondergaan en onlangs sowat 20 kg afgeskud.

Sy het onlangs op haar vriend Drake se 33ste verjaardagpartytjie in Los Angeles met haar lenige nuwe lyf gespog nadat sy drie maande lank uit die kollig gebly het. Sy lyk soos ’n ander mens. 

Op ’n smeulende selfie wat sy op Instagram gedeel het, straal sy van selfvertroue terwyl sy haar slanke skouers en ferm arms in ’n laaggesnyde fluweelrok vertoon wat haar perdeby-middeltjie beklemtoon. 

View this post on Instagram

I used to cry but now I sweat ?? #gingermckenna Happy birthday to one of the kindest and funniest people I’ve met @champagnepapi ??

A post shared by Adele (@adele) on

Die geheim van haar gedaantewisseling? Maande van gereelde oefensessies by persoonlike afrigters en hervormer-Pilates, ’n variasie van die program wat op jou kernspiere fokus. 

Dit behels druk- en trekoefeninge met ’n spesiale oefenmasjien om die liggaam te verferm en versterk. 

Die Britse persoonlike afrigter Joe Wicks, bekend as The Body Coach, het glo ’n sleutelrol in haar gewigsverlies gespeel. 

Adele het ook met die Hollywoodse glansafrigter Dalton Wong saamgewerk. Haar vriendin Jennifer Lawrence het hom vir haar aanbeveel.

“Adele het in die geheim saam met die persoonlike afrigters gewerk,” sê ’n bron na aan die sangeres. 

adele,sangeres,gewig
Op ’n Instagram-foto straal sy behoorlik van selfvertroue terwyl sy haar slanke skouers vertoon. Foto: RealTime Images/Mega

Blykbaar was sy eers huiwerig om met ’n oefenprogram te begin, maar daarna was sy “ontsettend toegewyd”.

“ ’n Mens kan duidelik die vordering sien wat sy die afgelope ses maande gemaak het,” sê ’n kennis.

Adele het al in die verlede gesê sy wil ter wille van haar seun, Angelo (nou 7), gesonder leef en fiks word. 

Maar al het sy af en toe ’n bietjie gewig verloor, was sy nooit daarop ingestel om met ’n gesonde leefwyse vol te hou nie. Maar nou het sy ’n nuwe blaadjie omgeslaan. 

Sedert sy in April van haar man, Simon Konecki (45), geskei is, het die “borrelende ou Adele” teruggekeer, sê haar vriende – ’n kant wat so te sê verdwyn het in haar agt jaar saam met Simon.

Adele het al in die verlede gesê sy wil ter wille van haar seun, Angelo (nou 7), gesonder leef en fiks word.

Hy het voorheen ’n span makelaars by die beleggingsbank Lehman Brothers bestuur voor dit in 2008 gevou het en werk sedertdien as die hoof van die liefdadigheidsorganisasie drop4drop, wat skoon water na ontwikkelende lande bring. 

Volgens Katie Hind, ’n vriendin uit die dae voor Adele se roem, het sy “byna oornag” verander nadat sy en Simon mekaar in 2011 ontmoet het. 

Oor die jare voor Simon sê Katie: “Niks was vir haar lekkerder as om oor ’n wodka of ’n pint bier te sit en skinder nie.”

Maar namate haar loopbaan op dreef gekom en sy en Simon nesgeskop het, het sy haar agter geslote deure begin onttrek. 

“Sy het net uitgekom as dit deel van ’n fynbeplande reklameveldtog was om haar musiek te bemark,” sê Katie. 

adele,sangeres,gewig
Adele met haar voller figuur, soos die wêreld haar leer ken het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Haar privaat lewe het ook skielik verbode terrein geword. “Nadat sy altyd haar hart op haar mou gedra het, het sy nie eens vir haar aanhangers vertel of sy ma geword het of nie.” 

Simon, wat aan die Britse topskool Eton opgevoed is en ’n afkeer van die kollig het, was glo die oorsaak van dié groot ommeswaai. 

Adele het verander om hom gelukkig te hou en by hom aan te pas en so te sê die lewe ontwyk waarvoor sy altyd lief was, sê Katie. 

In ’n seldsame insig in haar huwelik het Adele in 2015 aan 60 Minutes Australia gesê Simon “gee meer vir my as vir enigiets anders in die wêreld om, maar hy stel nie belang in die soort musiek wat ek maak en sulke goed nie”. 

Adele het toe erken sy het “liggaamsbeeldprobleme”, maar toe ook volgehou: “Ek laat dit nie toe om my lewe te oorheers nie.” 

Adele het verander om hom gelukkig te hou en by hom aan te pas en so te sê die lewe ontwyk waarvoor sy altyd lief was, sê Katie.

In 2016 het sy om haar kind se onthalwe probeer om haar ongesonde eet­gewoontes te laat staan, asook die 25 sigarette wat sy per dag gerook het. 

“Ek het graag gerook, maar dit sal nie koel wees wanneer ek aan ’n rook­verwante siekte sterf en dit my kind se lewe verwoes nie,” het sy gesê.

Dieselfde het vir haar drinkgewoontes gegeld. “Ek kon altyd almal onder die tafel in drink, maar met kinders is ’n babelas ’n marteling.”

Tog het sy steeds min of meer gelyk soos ons haar leer ken het.

Maar sedert haar huwelik verbrokkel het, leef sy gesonder as ooit, en noudat sy gereeld oefen, is haar ekstra kilo’s iets van die verlede.

sangeres,adele,musiek,gewig
Soos sy nou lyk, byna 20 kg ligter. Sy het dit glo met die hulp van persoonlike afrigters gedoen. Foto: RealTime Images/Mega

Boonop is sy glo weer haar ou self en gelukkiger as ooit.

“Adele doen weer waarvoor sy altyd lief was; sy hang saam met haar vriende uit en geniet die lewe,” sê Katie.

Haar huwelik was glo reeds ’n geruime tyd op die rotse. “Hulle het te veel tyd weg van mekaar deurgebring,” het ’n kennis aan die tydskrif People gesê. 

“Simon was weke aaneen in Afrika en op die Indiese subkontinent. Hulle het ’n ongewone verhouding gehad, maar party van ons het gedink sy hou daarvan. Maar op die ou end was hulle skaars bymekaar.” 

In September het sy ’n egskeiding gevra en sedertdien verdeel sy haar tyd tussen Brittanje en Amerika, waar sy verskeie eiendomme besit.

Haar huwelik was glo reeds ’n geruime tyd op die rotse. “Hulle het te veel tyd weg van mekaar deurgebring,” het ’n kennis aan die tydskrif People gesê.

Die twee is glo op vriendskaplike voet met mekaar en toegewyde mede-ouers vir Angelo. 

Adele is ook finansieel vrygewig teenoor haar eks – sy het blykbaar vir Simon een van hul huise in Los Angeles “as geskenk gegee” en hy sal ook die helfte van haar fortuin van sowat R2,9 miljard kry.

Nou is daar ook ’n nuwe man in Adele se lewe – die Britse rapper Skepta (37). Volgens vriende was die twee al op ’n rits afsprake en deel hulle “ ’n spesiale verbintenis”, veral aangesien albei van Tottenham in Londen kom. 

Tog meen hulle dit is waarskynlik net ’n ligte romanse en sal heel moontlik nie hou nie.

Die sangeres en die rapper Skepta is 'n paartjie. Foto's: Gallo Images/Getty Imgaes

“Sy’s opgewonde daaroor om weer met mans te praat,” verklap een van haar vriende. “Maar sy wil nie oorhaastig iets ernstigs aanknoop nie.”

Adele se deurbraak-debuut­album, 19, wat sy op 19 geskryf het, is destyds geïnspireer deur haar gedoemde romanse met ’n man wat haar verkul het. 

Haar volgende album, 21, twee jaar daarna, is ook deur ’n man geïnspireer – die fotograaf Alex Sturrock, met wie sy van 2008 tot 2009 uitgegaan het en wat sy eens “die liefde van my lewe” genoem het.

’n Paar maande nadat hulle uitgemaak het, het sy uitgevind hy is aan iemand anders verloof. 

Haar gebroke hart was die inspirasie vir een van haar grootste treffers, “Someone Like You”.

“Sy’s opgewonde daaroor om weer met mans te praat,” verklap een van haar vriende. “Maar sy wil nie oorhaastig iets ernstigs aanknoop nie.”

In 2015 is haar derde album, 25, uit­gereik. Dit het haar trefferlied “Hello” ingesluit en aan haar vyf Grammy-musiekpryse besorg, onder meer vir album van die jaar.

Sedertdien hoop haar aanhangers op nog ’n album.En dit lyk behoorlik of al die drama van die afgelope tyd dalk weer die muse by haar laat aanklop het. 

Haar vierde album sal waar­skynlik binnekort die lig sien, voorspel ’n nabye kennis.

“Sy praat oor verlede jaar as ’n baie moeilike jaar, en sy het in die verlede gesê die skep van nuwe musiek is amper soos terapie vir haar.”

Want al lyk en voel sy deesdae goed, sal die seer van haar egskeiding van Simon waarskynlik weer in haar musiek uiting vind.

Die sangeres is en bly immers die Adele wat so rou oor die liefde kan sing, of sy nou 20 kg ligter is of nie. 

Bronne: msn.com, dailymail.co.uk, mirror.co.uk, edition.cnn.com, people.com, usmagazine.com, nickiswift.com
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.