Prinses Eugenie sal binnekort tydens ’n spoggerige seremonie by die Windsor-kasteel “ja” sê vir Jack Brooksbank, haar droomprins.

Terwyl almal Eugenie se troue vergelyk met prins Harry en hertogin Meghan se rojale affêre, het sommige mense, wat fanaties is oor die koninklikes, die ooreenkoms tussen Eugenie en Kate se verloofringe raakgesien.

Die prinses van York se ring is ’n yslike rooskleurige Padparadscha-saffier omring deur 10 volmaak geslypte diamante, met twee geslypte diamante weerskante, terwyl die hertogin van Cambridge se ring ’n ewe yslike koningsblou saffier is, ook met diamante rondom.

Eugenie se ring is ’n yslike rooskleurige Padparadscha-saffier omring deur 10 volmaak geslypte diamante, met twee geslypte diamante weerskante. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Hoewel prinses Eugenie se verloofring ’n mens herinner aan Kate s’n, die reusesaffier in die middel en diamante rondom, is dit ’n klassieke ontwerp vir ’n koninklike verloofring,” het Eloise Parker, ’n koninklike verslaggewer, gesê.

Prinses Diana se verloofring skitter aan Kate, die hertogin van Cambridge, se vinger. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Volgens Parker was dit nie bedoel dat Eugenie se ring ’n duplikaat van Kate s’n, wat deur prinses Diana se verloofring geïnspireer is, moes wees nie. William het destyds sy ma, Prinses Diana, se verloofring met die reuse-saffier vir Kate gegee toe hulle in November 2010 verloof geraak het.

Trouens, Jack wou hê Eugenie se ring moes soortgelyk wees aan die een wat haar pa, prins Andrew, vir haar ma, Sarah, die hertogin van York, gegee het, berig Marie Claire.

“As dit deur ’n vroeëre koninklike verloofring geïnspireer is, is dit meer waarskynlik die een wat haar ma gedra het: ’n Birmaanse robyn omring deur diamante,” verduidelik Parker.

“Die kleure van die rooskleurige en rooi stene is baie nader aan mekaar as die diepblou steen wat oorspronklik aan prinses Diana behoort het.”

Jamie Samhan, die adjunkredakteur van die Royal Central, het gesê die ringe lyk ook eenders aangesien dieselfde ontwerper Fergie en Diana se ringe geskep het.

Garrard & Co. het Diana se ring in 1981 ontwerp. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Dit lyk eenders omdat Garrard & Co. Diana se ring in 1981 ontwerp het, en Sarah se ring is in 1986 deur dieselfde ontwerper geskep,” het Samhan verduidelik.

Sarah se ring is in 1986 ook deur Garrard & Co. ontwerp. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Prins Andrew het self Sarah se ring ontwerp, in teenstelling met Diana s’n wat uit die versameling gekom het, maar die meeste ontwerpers hou by ’n voorgeskrewe styl.

“Toe Jack begin om ’n ring vir Eugenie te ontwerp wat presies soos haar ma s’n lyk, was die grondslag reeds gelê vir die moontlikheid  dat daar ’n ooreenkoms met Diana en Kate s’n sou wees.”

Prinses Eugenie en Jack se huwelik sal op Vrydag, 12 Oktober, in die St. George-kapel voor 800 gaste voltrek word. Dit is ook waar Meghan en Harry afgehaak het,” berig die Express.

Ná die seremonie sal koningin Elizabeth ’n onthaal in die Windsor-kasteel aanbied vir die pasgetroude egpaar en hul gaste.

Bronne: mirror.co.uk, express.co.uk, marieclaire.com, romper.com