Hoekom sal ’n vrou met topontwerpers wat haar tevrede wil stel, dan rondloop in skoene wat te groot vir haar is?

Die antwoord: Om blase en knokkeleelte te vermy.

Toe Meghan, hertogin van Sussex, haar eerste koninklike verskyning by Ascot maak, het sy die koppe laat draai in ’n rok deur Givenchy met ’n bypassende hoed.

Maar die aandag het vinnig verskuif na haar swart leerhakskoene wat merkbaar te groot was.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Bekendes dra dikwels skoene na ’n glansgeleentheid of op die rooi tapyt wat een of selfs twee groottes te groot is en dis om ’n rede wat ons almal kan verstaan: om blase te vermy,” het die modekenner Harriet Davey aan die Britse poniekoerant The Sun gesê.

“Daar’s niks erger as ongemaklike skoene nie (ons almal ken daai gevoel tydens ’n aandjie uit) en wanneer bekendes soos Meghan lang tye hakskoene dra, sal hul voete dikwels swel.”

Dis nie die eerste keer dat Meghan in veel groter skoene gewaar word nie. 

Toe sy en prins Harry in November verlede jaar hul verlowing aankondig, het sy beige bandjies-hakskoene gedra wat ook ’n hele paar sentimeters te groot gelyk het.

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Ons veronderstel dis haar idee van skoonheid sonder wreedheid . . .

“Die geswel kan blase en eindelik knokkeleelte veroorsaak – soos dié waarmee Victoria Beckham, ’n groot hakskoen-liefhebber, glo sukkel,” sê Harriet.

“Die geheim is om snesies of watte by die toongedeelte in te druk, wat uitgehaal kan word wanneer hulle voel hulle makeer ’n bietjie meer ruimte in hul skoene.”

Sien, selfs die rykes en beroemdes doen soms doodnormale goed!

Bronne: Thesun.co.uk, Metro.co.uk, Harpersbazaar.com