Hoewel prins William en prins Harry ’n hegte band het, sal ouboet waarskynlik nie die peetouer wees nie.

“Veral nie as Harry en Meghan die hertog en hertogin van Cambridge se voorbeeld gaan volg en nie sibbes as peetouers vir hul kinders kies nie, berig Tea Time with the Cambridges, ’n blog oor die koninklikes.

“Toe William en Catherine hul kinders se peetouers gekies het, het hulle besluit op hegte vriende en familie wat deel van hul lewe sou wees, maar nie soveel soos die kleingoed se oom of tannie nie.

“Dit gee die baba ’n groter ondersteuningstelsel. Maar dis ook nie ongehoord om broers of susters as peetouers te kies nie.

“Prins Andrew is byvoorbeeld prins Harry en Zara Tindall se peetpa. Ons sal maar moet wag en sien wat die hertog en hertogin van Sussex gaan doen.”

Harry is die peetpa vir ’n hele klomp van sy vriende se kinders, waaronder Florence van Custem (3) en Zallie Warren (2), en Meghan is die peetma vir haar boesemvriendin, Jessica Mulroney, se kinders Ivy (4) en die tweeling Brian en John (7), berig Hello

Die gelukkige paartjie het hul swangerskap tydens hul besoek aan Australië verlede jaar amptelik aangekondig. “Hul koninklike hoogheid, die hertog en hertogin van Sussex, is verheug om aan te kondig dat die hertogin van Sussex ’n baba in die lente van 2019 verwag,” het die paleis aangekondig. 

“Hul koninklike hoogheid waardeer al die ondersteuning wat hulle sedert hul troue in Mei van mense oor die wêreld heen ontvang het en is verheug om die blye nuus met die publiek te deel.”

Meghan sal na verwagting in April die lewe skenk.

Bronne: Cosmopolitan, Hello, Town and Country Mag