Dis Instagram-amptelik! Als oor Adele en haar nuwe liefde

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Die Britse sangeres Adele het onlangs op sosiale media haar verhouding met die Amerikaanse sportagent Rich Paul bevestig.

Die Grammy-bekroonde sangeres (33) het eers net foto's van haar in ’n elegante swart en wit Schiaparelli-skepping op Instagram gedeel. Maar as jy deurkliek op die rits foto's wat sy met haar 39,6 miljoen volgelinge gedeel het, pryk Adele se nuwe liefie, Rich (39), aan haar sy. Sy het selfs ’n rooi hartjie-emoji bygevoeg.

Die foto's is by die basketbalspeler Anthony Davis se troue in Los Angeles in Amerika geneem. Adele en Rich is by die troue saam op die dansvloer gewaar. En noudat sy hul verhouding op Instagram bevestig het, gons dit omtrent oor die nuwe paartjie.

Adele en Rich het in Julie vanjaar die eerste keer die tonge laat klap toe hulle alte danig met mekaar gelyk het by ’n NBA-eindstryd waarin die Milwaukee Bucks die Phoenix Suns geklop het.

Rich was daar saam met sy kliënt, die basketbal-ikoon LeBron James, om sy vriend Chris Paul te ondersteun wat vir die Suns speel.

Tydens die wedstryd het Brian Windhorst van die sportkanaal ESPN, ’n goeie vriend van Rich, hul romanse bevestig toe hy geskerts het: “Rich Paul bring sy meisie na die wedstryd om langs LeBron te sit. Sy meisie is Adele.”

Nog ’n nabye bron sê die “Hello”-sangeres gaan “beslis” met die invloedryke NBA-makelaar uit.

Adele en Rich het hul romanse taamlik privaat gehou, maar dit klink of die twee nou al maande lank uitgaan. In ’n onderhoud met die The New Yorker in Mei vanjaar het Rich verklap hy “hang uit” saam met ’n groot popster. En dit blyk nou die einste popster is Adele.

Hier’s wat ons van die nuwe man in Adele se lewe weet:

Hy is self baie suksesvol

Rich wou kleintyd ’n atleet word en basketbal en voetbal speel. Maar al is sy “hart groot”, sê Rich, was hy “klein in grootte”; daarom het hy sy passies aangepas om ’n entrepreneur en sakeman in die sportwêreld te word.

Hy het begin deur sporttruie te verkoop en het sy eerste kliënt, LeBron, in 2002 ontmoet terwyl hy vir ’n vlug na Atlanta gewag het. 

Maar hy verkoop lankal nie meer vintage truie uit sy kattebak nie. Deesdae bestuur hy die Klutch Sports Group, wat LeBron en ander Amerikaanse basketbalswaargewigte soos Ben Simmons, John Wall en Anthony Davis verteenwoordig. Klutch, wat in 2012 gestig is, het tot dusver kontrakte ter waarde van meer as $1 miljard gekry.

Hy het moeilike kinderjare gehad

Rich kom uit ’n nederige agtergrond, nes Adele.

Sy ma, Peaches, het met dwelmverslawing geworstel en hy moes by sy ouma gaan bly.

“Ek was nooit regtig kwaad nie, maar ek was beslis beskermend en op baie maniere hartseer,” sê hy. “Want as ’n kind sien jy ander kinders en hul ervaring met hul ouers en jy wil dieselfde hê.”

Rich het nie toegelaat dat sy agtergrond verhoed dat hy sy drome najaag nie.

Die NBA-superster LeBron (36) skryf trouens Rich se sukses in die mededingende sportbestuurwêreld aan sy moeilike kinderjare toe. “Baie van die spelers wat in hierdie situasies gebring en gewerf word, is eerste-generasie-geldverdieners,” sê LeBron. 

“En ek en Rich kom ook daaruit; daarom kan hy by die spelers aanklank vind,” sê hy. “Daar is niks wat hulle gesien het wat hy nie gesien het nie. Hy kan dus eerlike gesprekke met hulle voer.”

Hy is op die punt om ’n gepubliseerde skrywer te word

Die suksesvolle sportagent is besig om sy memoires, Lucky Me, vir Roc Lit 101, die uitgewersafdeling van die rapper Jay-Z se maatskappy Roc Nation, neer te pen. “Ek kan nie vir jou sê wat dit beteken om met my vriend en mentor, Jay-Z, aan hierdie projek saam te werk nie,” sê hy.

Die boek sal delf in sy vroeë agtergrond, sy grootwordjare in Cleveland, Ohio, en die lesse wat hy in sy pad na roem geleer het. “Lucky Me is meer as my storie,” sê Rich. “Lucky Me is die storie van elke jong swart man wat soos ek grootgeword het. 

“Ek wil my storie gebruik om mense op te hef en te inspireer wat dit geleef het, asook dié wat dit nie beleef het nie.”

Vorige vlamme

Rich het drie kinders, maar is nooit getroud nie. Nie veel is oor sy liefdeslewe bekend nie, maar sy naam is in 2019 gekoppel aan dié van Jennifer Meyer, ’n juweliersontwerper en die Spider-Man-akteur Tobey Maguire se eksvrou.

Adele se egskeiding van Simon Konecki (47), ’n bankier, is in Maart 2021 afgehandel. Hulle was sewe jaar saam en het ’n agtjarige seun, Angelo.

Bronn: eonline.com, pagesix.com, tmz.com, espn.com, newyorker.com, elle.com, time.com, nytimes.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees