Maar aangesien mure nie kan praat nie, het die Britse joernalis Tom Quinn diep gedelf om ’n fassinerende nuwe boek, Kensington Palace: An Intimate Memoir from Queen Mary to Meghan Markle, te skryf.

’n Nuwe boek oor Kensington­paleis laat die monde
’n Nuwe boek oor Kensington­paleis laat die monde oophang. Foto: Getty Images/Gallo Images

Dit het omtrént ’n beroering onder koninklike aanhangers veroorsaak – en in dié sappige uittreksel sal jy sien hoekom.

Prinses Margaret

’n Mens se herinnerings aan prinses Margaret en haar man, Antony Armstrong-Jones, word helaas altyd gekenmerk deur die passie en pyn van hul jare saam.

Prinses Margaret en haar man, Antony Armstrong-­Jo
Prinses Margaret en haar man, Antony Armstrong-­Jones, het vurige rusies in die paleis gehad.Foto: Getty Images/Gallo Images

Nes die meeste tragiese verhoudings het hulle s’n snaakse oomblikke gehad, byvoorbeeld hul gewoonte om briefies in hul Kensingtonwoonstel te los wat lui: “Hier is 10 redes hoekom ek jou haat . . .”

Ron Wilson, wat in die 1960’s in die paleis gewerk het, onthou “venynige rusies” wat oral in die paleis gehoor kon word.

“Sy (prinses Margaret) sou die aakligste dinge skree en het nie ’n duit omgegee of die vensters en deure oop was en almal kon hoor nie. Baie van hul rusies het gegaan oor die feit dat hulle meegeding het om te kyk wie kon by die meeste mense slaap – dit was hul manier om mekaar in eie munt terug te betaal.

“Sy sou seks hê met iemand en daaroor spog, en dan sou hy dieselfde gaan doen en haar daaroor inlig. Ek dink sy het eenkeer met een van sy mansvriende geslaap en hy het toe aspris met dieselfde man geslaap.

“Toe sy dus skree: ‘Ek het jou vriend so en so ge****,’ het hy teruggekap met: ‘Ek het ook.’

Ek dink hy het gewoonlik hierdie skermutselings gewen omdat sy altyd sonder ’n antwoord was wanneer hy haar vertel hy het seks met ’n man gehad. Ek dink nie sy het seks met vroue gehad nie – hoewel daar fluisterings onder die personeel was.”

Ná die paartjie se egskeiding in 1978 het Margaret alleen by Kensington gewoon.

Sy is verskeie kere in die media uitgebeeld as óf ’n hartseer, eensame vrou óf ’n kettingrokende feeks – die laasgenoemde beskrywing het haar ál meer agtervolg weens haar stralerjakkerbestaan en haar langtermynverhouding met die veel jonger Roddy Llewellyn, ’n tuinkundige en baronet.

Toe die verhouding in 1973 vlam vat, was sy 43 en hy 25.

Prinses Margaret se reusewoonstel het die uithangplek geword vir die kunssinnige of dalk eerder “ongure” mense na wie se geselskap sy sedert haar jeug gesmag het.

‘Sy sou die aakligste goed skree en het nie ’n duit omgegee of almal kon hoor nie’

Daar’s min twyfel dat dit Antony se leefstyl tussen Vogue-modelle, modeontwerpers, skilders en fotograwe was wat Margaret aanvanklik bekoor het – ’n huwelik met Antony was vir haar die deur na ’n lewe vol dwelms en drank, in sterk kontras met haar eie bestaan in daardie stadium, wat sy as bekrompe en beperkend beskou het.

Wanneer sy met Roddy Llewellyn, die sanger Cleo Lane, die dramaturg Noël Coward, die aktrise Elizabeth Taylor, die modeontwerper Mary Quant en ander uitgehang het, het sy gevoel sy is een van hulle – boheems.

: Margaret (heel regs) het saam met talle beroemde
: Margaret (heel regs) het saam met talle beroemdes uitgehang, insluitend Elizabeth Taylor (tweede van links). Foto: Getty Images/Gallo Images

Dis moontlik dat sy slegs gelukkig was wanneer sy gefuif het en later ál swaarder begin drink het.

Dit kon ook tot uiters vernederende oomblikke lei, onthou Ron Wilson: “Ek het eenkeer drankies by een van haar partytjies in woonstel 1A voorgesit, en sy het opgestaan om te sing.

Almal het rondom die klavier gestaan terwyl sy ’n jazz-nommertjie sing, en terwyl sy gesing het, het ek seker gemaak ek staan doodstil. Sy sou my agterna omtrént uitgetrap het as ek voortgegaan het om in die vertrek rond te beweeg. Sy het almal se volle aandag verwag.

“Hoe dit ook al sy, selfs ek kon agterkom sy kon nie eintlik ’n noot sing nie – sy was heel van deuntjie af en haar tydsberekening was ook nie waffers nie. Die pianis, wat werklik goed was, het sy bes gedoen om vir haar te skerm, maar dit was hopeloos.

“Dit was dalk oor sy dronk was, maar selfs nugter was sy nie so ’n goeie sangeres as wat sy gedink het nie. Teen die einde het almal natuurlik met goedkeuring gejuig en hande geklap. Sy was verheug.”

Margaret se probleem, of dit by haar eie partytjies of elders was, was dat sy onvervuld en ongelukkig was. Sy was diep ontevrede toe sy in 2002 op 71 dood is.

Prinses Diana

Verskeie boeke het al vertel van die mense wat Diana ondersteun het terwyl haar huwelik verbrokkel het.

Prinses Diana se huwelik met Charles het verbrokke
Prinses Diana se huwelik met Charles het verbrokkel terwyl hulle in Kensingtonpaleis gewoon het. Foto: Getty Images/Gallo Images

Baie van dié vertellings fokus op Diana se ongelukkigheid, haar bulimie en romantiese verhoudings ná haar egskeiding.

Minder is geskryf oor hoe Kensingtonpaleis en sy tuine ’n amper fisieke troos vir die prinses geword het.

Die ontdekking dat haar man haar verneuk en selfs voor en tydens die vroeë dae van hul huwelik ontrou was, was ’n geweldige skok, en die rusies wat gevolg het terwyl Charles gemaak het asof dit sy geboortereg was om ’n minnares te hê en dat Diana nie werklik so ’n bohaai moet opskop nie, het afgespeel in daardie pragtige opgeknapte woonstelle by Kensington.

Volgens een voormalige bediende by Kensingtonpaleis het die huwelik nie eens ’n gelukkige begin gehad nie.

“Daar is ’n mite dat Charles en Diana gelukkig saam was in hierdie pragtige paleis, minstens vir hul eerste paar jaar saam, maar die waarheid is jy kon hulle hoor baklei vanaf die dag dat hulle ingetrek het.

“Ek het dikwels gehoor hoe word foto’s en borde, blompotte en enigiets anders waarop hulle hul hande kon lê, rondgegooi in hul woonstel, tesame met ’n geskree en gegil, maar ons moes altyd diskreet wees, en soms wanneer ek ’n stryery gehoor het, het ek in die gang gewag tot dit bedaar.”

Terwyl die nagmerrie ontvou het, het Kensingtonpaleis ’n toevlug vir Diana geword, dalk omdat dit altyd meer van ’n tuiste vir haar as vir Charles was.

’n Bediende wat in daardie jare by Kensingtonpaleis gewerk het, onthou: “Diana was werklik lief vir Kensington. Dis waar haar kinders grootgeword het en waar sy gelukkig was; dis waar sy teen Charles opgestaan het.”

Diana het maar ’n eensame bestaan gevoer in Kensin
Diana het maar ’n eensame bestaan gevoer in Kensingtonpaleis terwyl sy met Charles ­getroud was. Foto: Getty Images/Gallo Images

Nadat Charles in 1992 permanent uit Kensingtonpaleis getrek het, was dit duidelik dat Diana ’n gevoel van verligting ervaar.

Kensington was die plek waar sy haar grootste hoogte- en laagtepunte beleef het: die een oomblik uitgelate en die volgende oomblik op die randjie daarvan om haar eie lewe te neem.

In die vyf jaar van 1992 tot met haar dood in 1997 was Diana se lewe by Kensington ’n vreemde mengsel van die ernstige, die stemmige en die uiters ligsinnige – laasgenoemde het haar soms eksentrieke sin vir pret en haar gewoonte om ander soos ’n stout skoolmeisie te skok en te vermaak verklap.

Daar was ’n deel van Diana wat die absurde beperkings verpes het, en sy het dikwels weggebreek op maniere wat haar sekuriteitspersoneel, of haar “tronkbewaarders” soos sy spottend na hulle verwys het, bang gemaak het.

Daar was verskeie voorvalle wat tot ’n geskinder in die paleis gelei het, vertel iemand in die binnekring.

Soos die keer toe sy op die punt van ’n parkbankie by die Round Pond (in Kensingtonpaleis se tuine, waarvan sekere dele oop vir die publiek is) gaan sit het en skynbaar nie opgemerk het ’n boemelaar knip ’n uiltjie aan die ander kant van dieselfde bankie nie.

Hy het nie ’n benul gehad wie sy was nie, maar het wakker geskrik en met haar begin gesels; en alle eer aan haar, sy was nie in die minste gepla nie en het heel vrolik met hom gesels.

‘Jy kon Charles en Diana hoor baklei vanaf die dag dat hulle ingetrek het’

Hy het selfs vir haar ’n drankie aangebied uit ’n uiters verdagte bottel wat in sy sak was.

Sy het beleef geweier, maar hulle het 20 minute lank heel gelukkig gesels. Hy het nie ’n benul gehad wie sy was nie.

Benewens die park was sy versot op haar klein, privaat ommuurde tuin, asook ’n daktuin wat nie altyd so privaat was as wat sy gedink het nie.

Sy het dwarsdeur die somers van die laat 1980’s en vroeë 1990’s op haar dak gesonbaai, dikwels heeltemal kaal.

Sy het af en toe, lomerig van die hitte, vergeet waar sy was en opgestaan – gerus in die wete dat niemand haar kon sien nie.

Daar was egter een geleentheid toe ’n spesifieke versperring weg was en Diana skielik deur twee bouers aangestaar is.

Voor sy vir haar klere kon duik, het albei diep gebuig en weggedraai.

“Hulle was dalk net bouers,” het een van die knegte later vertel, “maar hulle was nietemin ware gentlemen.”

Kensingtonpaleis is in Londen se Hyde Park geleë.
Kensingtonpaleis is in Londen se Hyde Park geleë. Foto: Getty Images/Gallo Images

Kensingtonpaleis was ook waar talle van Diana se liefdesverhoudings afgespeel het nadat haar huweliksbootjie op die rotse beland het.

Winnifred (’n skuilnaam) vertel hoe die atmosfeer by Kensington in daardie tyd was: “Diana het erg obsessief geraak met ’n oudleerling van Eton, die kunshandelaar Oliver Hoare – amper op ’n versteurde wyse. Sy sou in vermomming in Kensington loop op soek na telefoonhokkies van waar sy honderde oproepe na hom gemaak het.

“Dit het later so erg geword dat Oliver se vrou voorgestel het hulle bel die polisie. Dit moes hartverskeurend vir Diana gewees het toe ’n klein pakkie by Kensingtonpaleis aankom – daarin was ’n pragtige paar van haar oorlede pa se mansjetknope wat sy vir Hoare as geskenk gegee het.”

Die jong klomp

William en Kate woon in dieselfde woonstel as wat prinses Margaret en haar man se tuiste was – hoewel “woonstel” ’n absurde woord is vir ’n vierverdiepinghuis wat die helfte van Clock Court beslaan – ’n groot deel van die paleis wat nooit vir die publiek oop is nie.

Toe Harry en Meghan by William en Kate aansluit, het die twee paartjies aanvanklik goed oor die weg gekom, maar daar was later onvermydelik spanning.

Soos een persoon in die binnekring verduidelik: “Daar was altyd die waarskynlikheid dat William en Harry aangetrokke sou wees tot selfversekerde, sterk vroue omdat hulle hul ma op so ’n vroeë ouderdom verloor het.

Kate is eintlik een van die gaafste koninklikes en het nie toegelaat dat die lewe in haar uiters spoggerige woning by Kensington kop toe gaan nie.

Pres. Barack Obama ontmoet William, Kate en klein
Pres. Barack Obama ontmoet William, Kate en klein George tydens ’n besoek aan Kensingtonpaleis in 2016. Foto: Getty Images/Gallo Images

Sy is gaaf teenoor haar personeel en was baie hartlik teenoor Meghan met haar aankoms.

“Maar dit was onafwendbaar dat die spanning sou opbou omdat Meghan moes aanvaar dat hoewel sy ’n hertogin is sy nie getroud is met die toekomstige koning nie.

“Ek dink dit was vir haar moeilik, en hoewel Harry mal was oor hul kothuis op die perseel van Kensingtonpaleis, het Meghan geweet dis piepklein in teenstelling met die uitgestrekte woonstelkompleks waar Kate en William woon.

“Harry het niks om te bewys nie. Meghan het alles om te bewys. Dis die probleem. Ek weet, byvoorbeeld, die spanning het so hoog geloop dat die koningin self van Buckinghampaleis na Kensington geneem is om die gekibbel te probeer stop.”

Prins Harry en Meghan Markle het buite die paleis
Prins Harry en Meghan Markle het buite die paleis foto’s laat neem toe die nuus van hul verlowing gebreek het. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maar dit was dalk onregverdig om van William en Harry se vroue te verwag om vriendinne te word.

“Ek stem saam,” sê ’n voormalige personeellid. “Dis onregverdig, veral in die gespanne atmosfeer by Kensington, waar die ouer koninklikes die nuwelinge verkwalik omdat die nuwes glansryker is en meer mag binne die familie het.

“Die twee paartjies – ek bedoel Harry en Meghan, William en Kate – het aanvanklik oor die weg gekom en het mekaar nie eintlik baie gesien nie ten spyte daarvan dat hulle naby mekaar gewoon het.

Maar om ’n koninklike te wees gaan later na enigeen se kop toe, en William en Harry het mekaar ná ’n ruk sonder hul vroue gesien om ’n gestry en stiltes te vermy.”

Luidens ’n berig in die satiriese tydskrif Private Eye: “Die wedywering tussen Meghan en Kate is ’n werklikheid. Kate bly so half op ’n afstand van alles, verseker in haar posisie as toekomstige koningin en die vrou en moeder van konings, met niks om te bewys nie.

Maar haar skoonsuster besef nou sy sal nooit weer die grootste ster op haar kleedkamerdeur hê nie en dat haar rol op die koninklike verhoog net kleiner sal word.”

Die paniek wat dit veroorsaak het, was tasbaar by Kensingtonpaleis en verklaar hoekom Harry en Meghan na Frogmore-kothuis op die perseel van Windsorkasteel getrek het.

Die feit dat Meghan die septer swaai, is onthul toe Harry erken het: “Meghan kry wat Meghan wil hê.”

Hierdie spesifieke stelling het na die paartjie se troureëlings verwys, maar dis moeilik om te glo dat Meghan slegs so gefokus en vasberade in die aanloop tot die troue sou wees, en nie ook wat die res van hul lewens betref nie.

Wat die personeel by Kensington betref: Hulle het volgens betroubare berigte uiters onvleiende byname vir Meghan binne weke van haar aankoms begin gebruik.

Sy is gedoop “Me-Gain” of die “hertogin van moeilikwees” of selfs “Di 2” en “Di Lite” – ’n wrede verwysing na wat sommige beskou as haar begeerte om Diana, prinses van Wallis, te oorskadu.

‘Die spanning was onafwendbaar omdat Meghan moes aanvaar dat hoewel sy nou ’n hertogin is sy nie getroud is met die toekomstige koning nie’

’n Voormalige lid van die publisiteitspan by Kensingtonpaleis het gesê: “Meghan benader dit als asof sy steeds ’n aktrise is. En natuurlik is om deel van die Britse koninklike familie te wees soortgelyk aan toneelspel.

“Sy gaan nie toelaat dat ander vir haar voorskryf watter soort rol sy moet speel nie – sy wil die rol interpreteer soos sy goeddink en is bekommerd mense sal neerkyk op haar of haar anders behandel omdat sy ’n geskeide Amerikaner van gemengde afkoms is.

“En daar is die meer reaksionêre elemente in die koninklike familie wat op haar neersien, en sy weet dit. Dit laat haar soms oorreageer – sy het nie Kate se selfversekerde manier van met mense omgaan nie.

“Dis wydbekend dat Kate met afgryse gevul was toe Meghan op ’n lid van Kate se personeel geskree het – dit was beslis die begin van gesprekke om Kensingtonpaleis te verlaat.

En nes baie mense wat nie gewoond is aan bediendes nie, gaan Meghan te ver met die baasspelerigheid; aan die een kant wil sy soos Diana ’n prinses van die mense wees, en aan die ander kant wil sy hê mense moet spring wanneer sy haar vingers klap.” 

’n Ondankbare taak

In die moderne era is baie personeellede al afgedank omdat hulle te vriendelik of te voor op die wa was.

Selfs moderne, “doodgewone” koninklikes soos Meghan en Kate verpes dit as hul personeel die grense oorskry – in die verlede is beskermingspersoneel om dié rede “verwyder” vir die geringste protokoloortredings.

Soos ’n joernalis wat vir Private Eye skryf, verduidelik: Personeel is al afgedank of geskuif “op grond daarvan dat ’n koninklike nie gehou het van hul naskeermiddel nie, ’n onooglike moesie walglik gevind het of beswaar gemaak het teen die dra van dasse wat nie van sy gemaak is nie.

“Een is uit sy pos geskuif nadat hy vir ’n kinderprinses lekkergoed aangebied het voor haar ouer.

“Vriendelikheid word nie toegelaat nie.”

  • ’n Geredigeerde uittreksel uit Kensington Palace: An Intimate Memoir From Queen Mary To Meghan Markle deur Tom Quinn, gepubliseer deur Biteback Publishing Ltd. © Tom Quinn 2020. Vanaf September in Suid-Afrika beskikbaar.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.