Die paartjie het die nuus in 'n gesamentlike verklaring aan die tydskrif People gedeel. 

"Ons het besef ons is beter af as vriende en sien uit daarna om dit so te hou. Ons sal aanhou om saam te werk en mekaar te ondersteun in ons gedeelde ondernemings en projekte," lui die verklaring.

Jennifer Lopez en Alex Rodriguez. Foto: Instagram/
Jennifer Lopez en Alex Rodriguez. Foto: Instagram/ @JLo

"Ons hoop vir die beste vir mekaar en ook ons kinders. Uit respek vir hulle is die enigste ander kommentaar wat ons het om dankie te sê aan almal wat vriendelike woorde en ondersteuning gestuur het," lui die verklaring.

Jennifer het 'n 13-jarige tweeling, Max en Emme, by haar eksman die sanger Marc Anthony. Alex, wat ook bekend is as A-Rod, het ook twee dogters, Natasha (16) en Ella (12), uit sy huwelik met sy eksvrou, Cynthia Scurtis.

Gerugte het vroeg in Maart die ronde begin doen dat J.Lo en Alex se verhouding verby is. Albei het daarna 'n gesamentlike verklaring uitgereik en laat hoor dat hulle nog steeds 'n paartjie is. 

"Al die berigte is onakkuraat. Ons werk tans deur 'n paar dinge," het hulle in 'n verklaring aan die tydskrif People vertel.

Vroeër vandeesweek het gerugte weer die kop uitgesteek oor hul verhouding nadat Jennifer op Instagram 'n rits selfies gedeel het van haar op die stel van haar nuwe fliek Shotgun Wedding. In dié foto's is haar verloofring nêrens te sien nie.

In Maart het People berig die paartjie "probeer om dinge deur te werk" nágerugte rondgevlieg het dat hulle uitmekaar is.

"Hulle het deur 'n rowwe tyd gegaan. Maar hulle het nie opgebreek nie," het 'n bron aan People verklap. "Sy werk in die Dominikaanse Republiek en hy is in Miami, so dit is moeilik om mekaar te sien, veral met kwarantyn en die covid-19-pandemie, maar hulle wil probeer om bymekaar te bly."

Alex het toe nog na die Dominikaanse Republiek gevlieg en hy en J.Lo het tyd saam deurgebring terwyl sy daar haar fliek Shotgun Wedding skiet. Hulle het toe nog hul verhouding probeer laat werk.

Maar sedertdien het dinge drasties verander. Bronne het nou aan E! News bevestig Jennifer "is al vir 'n ruk nie gelukkig nie". Sy het nou "vrede" gemaak met haar besluit om die verhouding te beëindig nadat hulle vier jaar lank saam was. Hulle was twee jaar lank verloof.

"As haar vertroue eers gebreek is, is daar geen omdraaikans nie," vertel iemand in die binnekring. "Sy voel goed oor haar besluit, want sy weet A-Rod gaan nog in haar lewe wees, net in 'n ander kapasiteit."

Jennifer en Alex het in Maart 2019 hul verlowing aangekondig. Hulle sou in Junie 2020 in Italië afhaak, maar moes sedertien hul troue al twee keer weens die covid-19-pandemie uitstel.

Dit sou Jennifer se vierde huwelik en Alex se tweede wees.


Die skandaal

Die Southern Charm-ster Madison LeCroy (30) het aan Page Six vertel dat sy net die beste vir Alex en Jennifer toewens nadat hulle aangekondig het hul paadjies skei.

Gerugte het ook in Maart die ronde gedoen dat Madison en Alex die kat in die donker geknyp het. 

Madison het toe geswyg. "Julle het my soort van onkant gevang," vertel sy nou aan Page Six.

Maar noudat Jennifer en Alex amptelik uitmekaar is, stuur sy net die beste wense vir hulle.

Madison was vasgevang in 'n skandaal toe dit op haar program, Southern Charm, se reünie-episode uitgekom het dat sy video-oproepe gehad het met 'n naamlose beroemde bofbalspeler - wat blykbaar Alex was.

In die episode het Madison ontken dat sy die man in persoon ontmoet het, maar erken dat sy wel vir die persoon privaat boodskappe in die sosiale media gestuur het. 

'n Bron met kennis van die situasie het aan Daily Mail bevestig dat Alex nog nooit vir Madison of enigiemand van die reeks ontmoet het nie. 

Madison het intussen aan Page Six gesê dat sy al met Alex "oor die telefoon" gesels het en dat dit onskuldig was, en volgens haar is die voormalige New York Yankees-ster net 'n kennis.

BRONNE: PAGESIX.COM, EONLINE.COM, PEOPLE.COM, DAILYMAIL.CO.UK

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.