Hulle beloof dalk die son, maan en sterre aan mekaar, maar wat voorspel die hemelliggame regtig vir die bekende paartjies wat so gereeld op glansblaaie oor mekaar koer?

Sal 2019 vir hulle maklik wees of teëspoed en trane bring?

Ons het die Kaapse astroloog Margarita Celeste gevra om te kyk wat volgens die sterre in die hemelruim vir die sterre hier op aarde voorlê.

GEORGE EN AMAL CLOONEY

George en Amal Clooney
Foto: Gallo Images/Getty Images

Met dié dat hulle eers later in hul lewe getroud is, het die Hollywoodakteur (57) en suksesvolle advokaat (40) tyd gehad om eers aan hul loopbane te bou en heelwat onafhanklikheid te geniet – maar dit kan ’n probleem wees.

WAT 2019 INHOU

Vir hom

Wat sy loopbaan betref, kan George, ’n Bul, na heelwat sukses uitsien. “Geleenthede sal instroom en hy sal dalk eers lugtig wees,” sê Margarita.

“Maar dit sal sy kans wees om vir die wêreld te wys hoe volwasse hy geword het.”

Vir haar

Amal kan nog regsukses – en nog geld – verwag.

“As ’n vrygeestige Water- draer sal sy vir haarself geleenthede skep, veral finansieel.”

Amal en die tweeling
Foto: Gallo Images/Getty Images

As ’n egpaar

“Hulle is ware individue; daarom kom hulle so goed oor die weg,” sê Margarita.

“Tog is hulle ook besonder toegewy aan hul verhouding?.” Dit kan in 2019 vir die ouers van die eenjarige tweeling Alexander en Ella uitdagings meebring.

“Hul verhouding sal getoets word, met Amal wat die een is wat ’n bietjie meer ruimte verlang,” verduidelik sy. “Sake kan skielik ernstig voel en hulle sal dit nie van die wêreld kan wegsteek nie.”

Oorsig

“Hulle het die kans om as ’n paar ontsaglik te groei en volwasse te word,” sê Margarita.

“Maar dan sal hulle hul verantwoordelikhede in die verhouding in oënskou moet neem en leer hoe om hul onderskeie eise vir vryheid te verenig.”

DAVID EN VICTORIA BECKHAM

Victoria en David Beckham
Foto: Gallo Images/Getty Images

Op 4 Julie is Posh (44) en Becks (43) 20 jaar getroud, maar saamwees sal dalk nie vir die modeontwerper en sokkerlegende ’n prioriteit wees nie.

WAT 2019 INHOU

Vir haar

As Ram hou Victoria daarvan om spontaan en impulsief te wees, sê Margarita van dié ma van vier. “Maar 2019 beloof om ’n groeikurwe vir haar te wees, veral wat haar verhouding met David betref.”

Posh kan voel haar huwelik begin in die pad van haar loopbaan staan en sal moet aanpas of veranderings maak om te keer dat sy terneergedruk voel, voeg Margarita by.

Vir hom

Loopbaan en beeld kom ook vir David, ’n Bul, eerste, en hy kan in 2019 baie hard werk.

“Hy ervaar stadigaan ’n groter begeerte om los te breek van hoe die wêreld verwag hy moet wees.”

As ’n egpaar

Daar wag dalk ’n sinkplaatpad op Posh en Becks, want albei ervaar ’n drang om hulself volwaardiger as individue te vind, meen Margarita. “Dit kan onverwagte stremming op hulle plaas omdat hulle meer vryheid soek. Daar sal baie agter geslote deure aangaan, maar hulle is ’n privaat egpaar en sal nie veel aan die wêreld onthul nie.”

Oorsig

In die geheel sal die persoonlike ruimte wat albei soek nie so ’n slegte ding vir hulle wees nie. “Die nuwe jaar bied vir hulle ’n kans om as individue te groei en persoonlike ruimte in hul verhouding te vestig.”

JAY-Z EN BEYONCÉ

Beyonce en Jay Z
Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar was al vele gerugte van moeilikheid in die superkragpaar se verhouding. Boonop skimp Bey (37) toe openlik oor Jay se beweerde ontrouheid op haar album Lemonade van 2016.

En in 2019 sal die 49-jarige Jay se voorneme om getrou te bly werklik getoets word.

WAT 2019 INHOU

Vir haar

Bey het haar hande vol met haar kinders, Blue (6) en die eenjarige tweeling, Rumi en Sir, maar die beskeie Maagd sal graag vanjaar dinge ’n bietjie rustiger wil vat. “Sy behoort baie te groei soos wat sy haar moederskapspligte onder die knie kry,” sê Margarita.

Vir hom

“Jay, ’n Boogskutter, sal ’n wonderlike jaar hê met baie persoonlike groei en volop goeie geleenthede.”

Maar hy het ook ’n interessante planeetgroepering, maan Margarita, wat “geneig is om misleidende gedrag te veroorsaak of onthul. Dit het die potensiaal om die verhouding te laat verbrokkel as hy nie eerlik is nie.”

Beyonce en die tweeling
Foto: Beyonce.com

As ’n egpaar

Asof Jay se groepering nie genoeg is nie, voorspel die sterre ’n verandering vir die egpaar wat hul huis en gesinsomgewing betref. “Hulle verwelkom dalk nog kinders, trek na ’n gesinshuis of hanteer ekstra gesinsverantwoordelikheid.”

Oorsig

Hul rykdom maak hul gesamentlike netto waarde meer as R14,5 miljard, maar 2019 kan ’n ekstra meevaller oplewer. “Hulle het die potensiaal om hul gedeelde finansiële mag uit te brei,” sê Margarita.

Vanjaar gaan vir Bey en Jay verrassend wees, voorspel sy.

“Sake kan vir hulle drasties verander, maar as hulle die verandering aangryp en unieke maniere vind om dit te hanteer, sal hulle die wipwarit geniet.”

KANYE WEST EN KIM KARDASHIAN

Kim en Kanye
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die rapper (41) en werklikheidster (38) vier in Mei hul vyfde huweliksherdenking, wat beteken hulle is nog twee jaar van die sewejaarjeuk af. Maar dit beteken nie 2019 sal seepglad verloop nie.

WAT 2019 INHOU

Vir haar

“Dit lyk of Kim, ’n Weegskaal, ’n verskuiwing in haar loopbaan sal ervaar wat haar later sterk kan bemagtig,” sê Margarita.

Vir hom

“Kanye, ’n nuuskierige Tweeling, sal ’n begeerte vir verandering en opwinding beleef.”

View this post on Instagram

Celebrating Saint with a Tarzan themed party ??

A post shared by Kim Kardashian West (@kimkardashian) on

As ’n egpaar

As individue ervaar hulle albei baie in 2019, “wat spanning tussen hulle as ’n paartjie kan meebring”. Maar dis nie al nie – Kim en Kanye het drie kinders onder ses (die vyfjarige North, tweejarige Saint en baba Chicago) en Kanye kan op dié gebied spanning begin ervaar.

“Hy ervaar dalk angs oor pawees en voel sy huwelik verbrokkel weens ekstra verantwoordelikheid. Hy kan ongesonde ontvlugtings soek en op onverwagte en selfs vernietigende maniere optree.

“Albei is dromers en dit lyk of 2019 ’n nuwe tydvak gaan inlui waarin hulle die werklikheid in die oë sal moet word kyk.”

Oorsig

In 2019 is dit tyd vir Kimye om ernstig te raak.

“Hul beeld gaan skuif van popsterstatus tot volwasse en bestendig.”

“Hulle sal waarskynlik baie meer sosiale verantwoordelikheid op hul skouers neem.

“Dit sal wys hulle is nie net vermaakkunstenaars nie, maar ook mense wat weet watter kragtige impak hulle kan maak wat goeie dade betref.”

BARACK EN MICHELLE OBAMA

Barack en Michelle
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die voormalige presidentspaar het in 2018 hard gewerk en Barack (57) en Michelle (54) sal in die nuwe jaar ook nie op hul louere rus nie.

WAT 2019 INHOU

Vir haar

“Michelle, ’n Steenbok, sal nog meer van ’n rolmodel vir die wêreld word,” sê Margarita. Michelle het in 2018 met haar onthullende memoires, Becoming, ’n opskudding veroorsaak. “Sy ervaar dalk innerlike kritiek, maar sy sal baie hard aan haar beeld werk.”

Vir hom

Ná sy presidentskap stort Barack, ’n Leeu, al sy energie in die Obamastigting, ’n liefdadigheidsorganisasie sonder winsoogmerk.

Op die eerste Obamastigtingkonferensie in 2018 het hy gesê hy wil ’n nog groter verskil deur sy werk by die stigting maak as in sy tyd in die amp – en in 2019 kom hy dalk goed op dreef.

“Sy loopbaan sal sy sukses vergroot, wat hom volop vertroue sal gee en in beheer sal laat voel.”

Obama gesin
Foto: Gallo Images/Getty Images

As ’n egpaar

Onverwagte verandering of moontlike opstand van hul dogters, Malia (20) en Sasha (17), kan vanjaar ’n groot uitdaging vir die kragpaar wees, voorspel Margarita.

“Gelukkig is sowel Michelle as Barack oopkop en verlig. Hulle sal die stormwaters maklik baasraak.”

Oorsig

Dit gaan ’n opwindende jaar vir die egpaar wees, sê Margarita.

“Hul beeld sal in positiwiteit toeneem en die wêreld sal hulle as vrygewig, openhartig, onbevooroordeeld en wys sien. Hulle behoort heelwat te reis en waardevolle werk oor die hele wêreld te doen.”

JADA PINKETT SMITH EN WILL SMITH

Will en Jada Smith
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die akteurs was nog altyd openlik oor die probleme wat hulle in hul verhouding gehad het, maar deur al hul hoogte- en laagtepunte was skei nooit ’n opsie nie, het Jada (47) onlangs gesê. Watter uitdagings 2019 ook al meebring, sy en Will (50) sal sterk staan.

WAT 2019 INHOU

Vir hom

“Will, ’n diplomatiese Weegskaal, sal aanhou met wat hy die beste doen – ’n goeie toekoms vir sy kinders skep,” sê Margarita van die pa van Trey (26), Willow (18) en Jaden (20).

Vir haar

Die praktiese Maagd Jada sal meer op werk ingestel wees, al sal sy verward wees oor waarheen haar loopbaan op pad is, sê Margarita.

“Sy behoort nietemin ’n bedrywige jaar te geniet wat werk betref. Sy en Will behoort goeie geleenthede te hê om saam te werk.”

Smith gesin
Foto: Gallo Images/Getty Images

As ’n egpaar

“Die toegewyde egpaar sal in 2019 deur verhoudingsuitdagings in die gesig gestaar word. Hulle sal hul huwelik moet herstruktureer, spesifiek wat kwessies rondom geld en gedeelde hulpbronne betref. In ag genome hoe lank hulle saam is, behoort hulle die uitdaging maklik baas te raak.”

Oorsig

Hul kinders sal vanjaar vir hulle ’n groot bron van vreugde wees – veral vir Will. “Will en Jada kan oor die jaar baie meer energie belê in tyd saam met hul kinders deurbring,” sê Margarita. Die sterre dui ook op “broodnodige groei” in hul huwelik.

CHRISSY TEIGEN EN JOHN LEGEND

Chrissy Teigen en John Legend
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die pittige Chrissy (32) en dierbare John (39) is een van Hollywood se geliefste egpare, maar 2019 kan dié sorgelose twee verplig om harde werklikhede die hoof te bied.

WAT 2019 INHOU

Vir haar

Dit gaan ’n bedrywige jaar vir die model wees. “As ’n lighartige Boogskutter sal sy groter genot in haar dag-tot-dag-roetine vind en kan sy skielike en onverwagte geleenthede in haar loopbaan gebied word.”

Vir hom

Chrissy se vol program sal ekstra druk op haar man plaas, wat Luna (2) en baba Miles sal moet versorg. “John, ’n standvastige Steenbok, kan oorweldig voel en gevolglik siek word,” sê Margarita.

As ’n egpaar

Sake gaan binnekort ernstig raak. “Hulle kan óf uitmekaardryf óf bestek opneem van wie die ander een is en die keuse maak om saam te groei. “Dis ’n bietjie van ’n maak-of-breek-jaar vir die twee. Daar kan baie werk vir hulle voorlê, veral wat die emosionele kant van sake betref.”

Oorsig

“Vir die egpaar lê vanjaar se groei in verantwoordelikheid aanvaar nie net in hul verhouding nie, maar ook in hul loopbane. Daar kom ’n verskuiwing en dit sal beïnvloed hoe hulle vir die wêreld lyk.”

Ekstra bronne: Daily Mail, People, The Telegraph, US Weekly