Rugby is lankal nie meer net ’n spel van sweet, gebreekte neuse en modderige kouse nie.

Deesdae is die voorkoms van die spelers ewe aanskoulik as hul vernuf met die bal. Trouens, soms word meer gegons oor hoe die manne lyk as oor hoe hulle speel.

In vanjaar se Superrugbyreeks, wat op 4 Augustus sy eindstryd bereik, was dit die brekers se hare wat soms van hulle hoofkarakters op die veld gemaak het.

Daar was byderwetse kapsels en bossiekoppe, lang lokke en woeste baarde. Langer hare en baarde is deesdae die in ding onder rugbyspelers, sê die voorkomskonsultant Leana Rodrigues.

‘Sy sagte krulle is byna koninklik’

Hannon Bothma, die Glam Guru, sê ook vervelige haarstyle op die veld is iets van die verlede. Hy meen die nuwe neiging is heel gepas.

“Rugby is ’n kontaksport wat herinner aan Wikingstamme wat hulself so skrikwekkend moontlik moes stileer om die opposisie af te skrik.”

Hier is van die kapsels wat in vanjaar se Superrugby en op internasionale rugbyvelde die aandag getrek het.

Elton Jantjies (28), Lions

Elton Jantjies. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié losskakel is die verkleurmannetjie van rugby wat haarstyle betref. ’n Man wat gereeld sy haarstyl en voorkoms verander, neem homself nie te ernstig op nie en is nie bang om ’n fout te maak nie, sê Hannon.

“Dit stuur ook die boodskap uit dat mense jou nie as voorspelbaar moet beskou nie – ideaal vir ’n spel soos rugby.”

Elton se haarstyl is “modern, modieus en netjies”, sê die voorkomskenner Hettie Mills.

Sy haarstyl versinnebeeld sy “jeugdigheid”, meen die stylkonsultant Mariska Botha. “Dit is dalk ’n vreemde styl, maar dit is prakties op die rugbyveld.”

Evan Olmstead (27), Kanada

Evan Olmstead. Foto: Gallo Images/Getty Images

Oor Evan raak die voorkomskonsultant Sumarie Uys skoon liries: “Die grofheid is aantreklik, en sy sagte krulle is byna koninklik.”

Sy reken hy sou in ’n fliek goed in die rol van koning Arthur pas. “Die baard verklap dat hy nie nonsens duld nie.”

Met sy lang hare laat Evan Carissa Bosman, ’n stylkonsultant, aan die Bybel se Simson dink.

“Miskien is dit waar hy sy inspirasie vandaan gekry het,” sê sy.

Sy voorkoms kan teenstanders afskrik of ’n teken van swak dissipline wees, meen Leana. Vir die stylkonsultant Sonja Eloff lyk Evan se hare wild en deurmekaar.

“Dit getuig van ’n man wat nie regtig ’n indruk wil skep nie.”

Adam Kleeberger (34), Kanada

Adam Kleeberger. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tydens 2011 se Wêreldbekerrugbytoernooi in Nieu-Seeland het dié flank soveel aandag getrek dat sowat R250 000 later daardie jaar in Kanada ingesamel is vir hom om sy baard voor ’n skare te laat afskeer.

Dit was tydens die internasionale Movember-bewusmakingsveldtog oor manlike gesondheidskwessies.

“My kop voel 5 kg ligter,” het Adam daarna gesê. Met sy hare en baard herinner Adam nou weer aan die karakter Tormund Giantsbane in die TV-reeks Game of Thrones, sê Carissa.

Sy haarstyl is “rof, grof en onbeskof”, sê Sumarie. Dit laat hom soos ’n brullende leeu lyk, meen sy.

“Dalk is dit ’n teken van vreesloosheid en ’n hoë pyndrempel. Ek neem aan mense sal versigtig vir hom wees op die rugbyveld.”

Leana sê: “Met hierdie haarstyl wil hy dalk die stereotiepe beeld van sterk, manlik en rof uitstraal.”

Sonja sê Adam wil hê mense moet vir hom bang wees. “Hy probeer ’n bietjie agter sy haarstyl wegkruip.”

Moontlik ’n geval van sy brul is erger as sy byt . . .

Josh Strauss (31), Skotland

Josh Strauss. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié Kapenaar speel deesdae vir Skotland rugby en het voorheen vir die Lions in die Superrugbyreeks uitgedraf. Sy styl lyk soos ’n Wiking s’n, sê Carissa.

“Miskien wil hy met die baard sy innerlike vegter wys.”

Maar Hettie reken dit lyk “slordig en sweterig”.

Die voorkomskonsultant Minnette Oliver vind dit nie aantreklik of stylvol nie. “Dis wild,” sê sy.

Sbu Nkosi (22), Sharks

Sbu Nkosi. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié Sharks- en Springbokvleuel het onlangs sy vlegsels afgeskeer en het nou ’n kort kapsel, tot Hettie se ergernis. Dit was “tradisioneel en manlik”, sê sy oor sy vorige styl.

Carissa het ook van Sbu se vlegsels gehou.

‘Die vlegsels kon maklik op die rugbyveld getrek word’

“Dit was stylvol en het netjies en goed versorg gelyk.”

Maar die vlegsels kon maklik op die rugbyveld getrek word, gee Carissa toe. Omdat dit die hare uit sy gesig weggehou het, het dit nie sy beweging beperk nie.

Aaron Smith (29), All Blacks

Aaron Smith. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hierdie aantreklike Nieu-Seelandse skrumskakel se vierkantige Afro-haredos herinner Ma- riska aan dié van Will Smith in die TV- reeks The Fresh Prince of Bel-Air uit die 1990’s.

Esté beskryf dit as ’n “rebelse militêre” styl en sê dit wys vir haar hy is gemaklik met sy identiteit en persoonlikheid. “Hy kom voor as ’n man wat nie onderskat moet word nie.”

Hy lyk goed met sy baard wanneer sy hare kort is, sê Carissa.

Dit is “netjies en hedendaags”, sê Hettie. “Al dra hy soms die Afro te hoog, is dit beheerbaar.”

Willie Britz (29), Sunwolves

Willie Britz. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié Kapenaar wat deesdae vir die Japannese span die Sunwolves uitdraf, word dikwels in rugbyberigte as “bossiekop-losvoorspeler” beskryf. Sy haarstyl herinner aan dié van ’n poedelhondjie, sê Hettie.

Mariska se beskrywing is ewe onvleiend: Dit lyk asof Willie sy vingers by ’n muurprop ingedruk het, sê sy.

“Dit lyk onnet en onversorg. Ek wil nie weet hoeveel hande vol hare elke wedstryd uit sy kop getrek word nie.”

Ook die voorkomskonsultant Esté van Wyngaard meen Willie se “wilde bos krulle” is nie die beste keuse vir die sportveld nie. “Rugby is ’n kontaksport, en sy hare kan maklik gegryp word. Dit kan ook sy sig belemmer.”

’n Man met sulke hare is min op sy voorkoms gesteld, sê Esté. Sy voeg by sy hare “dui op ’n man wat instinktief reageer en enigiets sal doen om homself of sy eiendom te beskerm”.

Ardie Savea (24), All Blacks

Ardie Savea. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ardie se Afro is wilder as sy spanmaat Aaron s’n, maar Hettie reken dit werk vir hom.

Dit dui op ’n man wat hom nie aan sosiale verwagtings steur nie en volgens sy eie reëls leef, sê Esté.

Mariska meen hy lyk skrikwekkend – ’n pluspunt vir ’n rugbyspeler.

“Dit gee hom ’n mate van gesag as ’n man met wie daar op die veld rekening gehou moet word.”

Maar prakties is dié styl beslis nie. “As dit begin reën, kan al daai nat hare oor sy oë val,” sê Mariska.

JJ Engelbrecht (29), Stormers

JJ Engelbrecht. Foto: Gallo Images/Getty Images

Met sy haredos herinner dié Oos-Kapenaar so byna aan Gerard Butler se karakter Attila die Hun in die 2001-minireeks Attila. Vir Carissa bly JJ aantreklik ongeag watter haarstyl hy het.

“Maar hy het baie beter met kort hare gelyk,” voeg sy by. “Die manbolla hou sy hare uit sy gesig, maar dit is te lank en onprakties vir die rugbyveld.”

Ten spyte van die feit dat dit ’n vroulike haarstyl is, werk dit by sy gesig, wat baie sterk en manlik is, sê Minnette.

“Dit is glad nie manlik nie. Mans moenie ’n poniestert dra nie,” sê Hettie.