Ten minste weet ons nou hoekom Master Archie Harrison Mountbatten-Windsor se ouers op sy naam besluit het. Archie beteken "eg, dapper of braaf" en Harrison "seun van Harry". Heel gepas.

Maar wat beteken die res van koningin Elizabeth (93) se agterkleinkinders se name?

Archie Harrison Mountbatten-Windsor

archie
Foto: Gallo Images/Getty Images

Harry (34) en Meghan (37) is "opgewonde verby" oor hul seuntjie wat Maandag 6 Mei gebore is – dit nogal op een van hul vriende, die Hollywood-akteur George Clooney (58), se  geboortedag.

Die kleinman is sewende in lyn vir die Britse troon. Voor sy geboorte is daar onder koninklike aanhangers gegis dat hy moontlik Alexander, James of selfs Spencer – Harry se ma, wyle prinses Diana se nooiensvan – sou heet. Die naam Archie was beslis nie ’n voorloper nie.

Volgens koninklike kenners het klein Archie se naam geen Britse koninklike verbintenis nie. "Ek dink nie enigeen van ons het een van die twee name sien kom nie," sê Joe Little, die redakteur van Majesty, ’n tydskrif oor die koninklikes. 

Mountbatten-Windsor is natuurlik die koninklikes se van wat hulle sedert 1960 gebruik toe Elizabeth en haar man, prins Philip (97), hul familiename gekombineer het. Koninklikes gebruik gewoonlik net ’n titel en eerste naam.

As daar ’n van nodig is, vir byvoorbeeld ’n troue, gebruik die koninklikes gewoonlik Mountbatten-Windsor. Maar vir die alledaagse lewe, soos om skool by te woon, gaan Archie sekerlik die naam Archie Sussex op sy skoolrapport kry.

Prins William en Catherine se oudste spruit, prins George (5), gebruik juis die naam George Cambridge by sy skool. 

Savannah Phillips

Savannah (8) is die koningin se oudste agterkleinkind. Sy's die oudste spruit van koningin Elizabeth se oudste kleinkind, prins Peter Phillips, en sy vrou, Autumn (albei 41), en 16de in lyn vir die Britse troon.

Savannah was nooit voorheen ’n gewilde koninklike naam nie. Dit beteken "boomlose vlakte" in Spaans. Haar naam klink egter baie meer modern as die ander agterkleinkinders se name soos dié van William en Kate se kroos.

Savannah Phillips
Savannah Phillips Foto: Gallo Images/Getty Images

Isla Phillips 

Savannah se kleinsus, Isla (7), is 17de in lyn vir die troon. Isla is ’n baie bekende Skotse naam en is ook die naam van 'n rivier in Skotland. Nes Archie, het Isla geen koninklike titel nie. 

Isla Phillips
Isla Phillips Foto: Gallo Images/Getty Images

Prins George van Cambridge

Prins William en Catherine se oudste kind, prins George (5), heet George Alexander Louis. Hy is die Britse nasie se sewende koninklike George. Koningin Elizabeth se pa, George VI, was die laaste George wat die Britste koning was.

Koning George se pa, koning George V, was in 1917 die stigter van die huis van Windsor. Die nuwe George is derde in lyn vir die troon en sal dus die sewende koning George wees.

Sy middelnaam Alexander is glo ’n huldeblyk aan die koningin, wie se middelnaam Alexandra is. Die middelnaam Louis is dieselfde middelnaam as dié van sy pa, William, wat eintlik William Arthur Philip Louis Windsor heet.

Prinses Charlotte van Cambridge

William en Kate se middelkind, prinses Charlotte (4), is vierde in lyn vir die Britse troon. Haar volle naam is prinses Charlotte Elizabeth Diana. Haar eerste naam, Charlotte, is die vroulike weergawe van haar oupa, prins Charles (70), se naam. Dis ook haar ma, Catherine, se suster, Pippa (35) se tweede naam.

Klein Charlotte se tweede naam, Elizabeth, is dié van haar oumagrootjie, die koningin. Haar laaste naam kom van haar ontslape ouma, prinses Diana. 

Prins Louis van Cambridge

Charlotte en George se kleinboet, die eenjarige prins Louis Arthur Charles van Cambridge, is vyfde in lyn vir die Britse troon.

Dié prinsie se naam is afkomstig van sy oupagrootjie, prins Philip, se oupa, prins Louis Alexander van Battenberg. Philip se oom was ook heer Louis Mountbatten.

Prins Louis se ouer boetie, prins George, en hul pa, William, het ook Louis as middelname. Louis beteken "befaamde vegter". Klein Louis se tweede naam, Arthur, is nog een van William se vele name, sowel as dié van prins Charles.

Dit was ook ’n middelnaam van Elizabeth se pa, koning George VI. Sy derde naam, Charles, is natuurlik geïnspireer deur sy oupa Charles. 

Mia Grace Tindall

Die vyfjarige Mia is die dogter van koningin Elizabeth se oudste kleindogter, Zara Phillips (37), en haar man, die oudrugbyspeler Mike Tindall (40). Mia beteken in Spaans en Italiaans "ek" of "myne".

Die naam is ook nie afkomstig van enige ander Britse monarg nie. Prinses Anne (68) se dogter, Zara, is bekend daarvoor dat sy haar spruite name gee wat nie deel van Britse tradisie is nie.

Mia Tindall
Mia Tindall Foto: Gallo Images/Getty Images

Lena Elizabeth Tindall

Mia se kleinsus, die 10 maande oue Lena, se naam beteken "lig". Die naam het nie enige spesiale betekenis vir die ouers gehad nie. Hulle het net daarvan gehou, berig Daily Mail. 

Bronne:  BBC, GOODHOUSEKEEPING, THEBUMP, HELLOMAGAZINE, DAILY MAIL, CHEATSHEET