“Ons gaan taamlik ver weg,” het prins Albert (60) vir die tydskrif People gesê, en bygevoeg die wegbreek sal baie pret in die son behels. 

Met sy vrou, prinses Charlene, se liefde vir watersport, is dit geen verrassing dat die wegbreek baie tyd in die water sal insluit nie.

“Dit sal ’n swem- en seevakansie wees,” het hy gesê. “Ons sal een blaaskans vat op pad na ons bestemming, want anders is dit ’n baie lang vlug vir die kinders.” 

Natuurlik laat dit die vraag ontstaan of hulle Suid-Afrika toe kom. 

Charlene (40), ’n boorling van Benoni, het lankal belowe om haar tweeling-seun-en-dogter huis toe te bring, maar dit lyk nie of dit binnekort sal gebeur nie. 

Al het Albert nie presies onthul het waarheen hulle op pad is nie, het hy wel gesê hulle sal “ver wes” reis. 

“Ek sien baie daarna uit, want dit gaan wonderlik wees en ek het beslis ’n blaaskans nodig.” 

Die gesinsvakansie is broodnodig. Prins Albert se vol program het die afgelope ruk sy tol geëis en sy dokters het hom verplig om van sy koninklike verpligtinge in Julie af te skaal. 

Hoewel sy hoogheid se “uitputting het ’n gesondheidsondersoek geverg het”, wek die uitslae “geen kommer nie”, het die Pienk Paleis in ’n verklaring gesê. 

“Ek het net gehoes,” het Grace Kelly se seun aan People gesê. 

“Alles is nou amper weer normaal,” het prins Albert gesê.

Nadat die diagnose gemaak is, is hy net toegelaat om twee verskynings te maak. Een daarvan was die jaarlikse Rooi Kruis-bal op 27 Julie – ’n geleentheid wat sy pa 70 jaar gelede begin het, berig Forbes.

Op die glansryke geleentheid het prinses Charlene die asem weggeslaan in ’n elegante vloerlengte Versace-rok.  

Bronne: People, Forbes, Royal Central