Dit gons behoorlik in die media dat Meghan (37) glo nader aan die huis in Windsor geboorte wil skenk.

Volgens bronne besef die paartjie dat daar oorweldigende belangstelling in hul baba se geboorte is, maar omdat die nuweling nie ’n regstreekse aanspraak op die troon sal hê nie, wil hulle dit so privaat as moontlik hou.

Skynbaar is Meghan ook effens gespanne oor moontlike komplikasies tydens die geboorteproses en wil sy sover as moontlik die druk vermy om ure na die geboorte op die trappe van die Lindo-vleuel te poseer.

Komplikasies?

Meghan se ouderdom speel ’n rol in moontlike komplikasies wat tydens die geboorte kan intree, nie net vir haar baba nie, maar ook haar eie gesondheid kan ook daardeur geknou word.

Volgens Baby Center en die Mayo-kliniek word swanger vroue ouer as 35 aangeraai om vir "genetiese berading" te gaan sodat hulle die risiko’s beter verstaan.

Genetiese toetsing vorm deel van die proses om chromosoom- of ander geboorte risiko’s by die baba identifiseer. Babas is ook geneig om té vroeg op te daag en in gevalle is ’n keisersnee nodig.

By ’n ouer ma kan ’n chroniese toestand, soos hoë bloeddruk of diabetes, inskop.

Meghan doen glo alles in haar vermoë om deurentyd ’n gesonde leefstyl te handhaaf. Gedurende die week volg die voormalige Suits-aktrise ’n streng vegetariese dieet, drink sy kaffeïenvrye groen sap en mediteer om te ontspan.

Haar ma, Doria Ragland (62), is intussen besig om swangerskap-masseertegnieke in Los Angeles onder die knie te kry en ’n deel daarvan is asemhalingstegnieke en drukpunte vir pynverligting sodat sy Meghan tydens die geboorte kan bystaan.

Onopgesmuk

Bronne sê Meghan wil net op ’n natuurlike manier geboorte skenk en die tyd gegun word om ’n hegte band met haar baba te smee sonder om opgesmuk en met gedoende hare vir foto’s te poseer.

In November 2018 het die eerste gerugte die kop uitgesteek dat Meghan nie die koninklike geboorte roete gaan volg nie. Die naam van die Frimley Park-hospitaal in Surrey, wat minder glansryk as die Lindo-vleuel is, het opgeduik. Dié hospitaal is ongeveer 11 km nader aan die paartjie se huis as die Lindo-vleuel.

Die Portland-hospitaal vir vroue en kinders in Londen se naam is ook in die pot van moontlike hospitale gegooi. Dis waar Harry se niggies prinsesse Beatrice (30) en Eugenie (29) gebore is.

Raai, raai riepa

Maar dan is daar die opdrag aan die personeel van die Lindo-vleuel wat daarop dui dat Meghan tog gaan bes gee en na die Lindo-vleuel sal gaan. Al die personeel in dié afdeling is aangesê om alle verlof te kanselleer vir April en Mei, dieselfde tyd wanneer Meghan en Harry se eersteling na verwagting gaan opdaag.

Kensington-paleis het op 15 Oktober 2018 Meghan se swangerskap op Twitter aangekondig en gesê die baba sal in die lente gebore word.


Die Lindo-vleuel

Die Lindo-vleuel van die Sint Mary-hospitaal is in 1937 as 'n "betaalbed" of 'n vleuel vir privaat pasiënte van "gemiddelde inkomste" geopen. In daardie stadium was dit ’n vrywilligershospitaal waar "verdienstelike armes" behandel is.

Die koninklike verbintenis met die Lindo-vleuel strek so ver terug as 1977 toe koningin Elizabeth (92) se enigste dogter, prinses Anne (68), daar aan haar eerste kind, Peter Phillips, geboorte geskenk het. Haar dogter, Zara, is in 1981 ook daar gebore.

Wyle prinses Diana en prins Charles (70) se seuns, prins William en Harry, is onderskeidelik in 1982 en 1984 ook in die Lindo-vleuel gebore.

William (36) en sy vrou, Kate (37), het die tradisie voortgesit met die geboortes van hul drie spruite: prins George (2013), prinses Charlotte (2015) en prins Louis (2018).

Dit is ook waar Harry en Meghan se besties, George (57) en Amal Clooney (41) se tweeling, Ella en Alexander, in 2017 gebore is.

En in Oktober 2018 het Kate se suster, Pippa (35), ook geboorte geskenk aan haar en haar man, James Matthews (43), se eersteling, ’n seuntjie wat Arthur Michael William Matthews heet.

Bronne: mayoclinic.org, babycenter.com, imperialprivatehealthcare.co.uk, marieclaire.com, her.ie, graziadaily.co.uk, news.com.au, dailystar.co.uk, cosmopolitan.com,