Tom Cruise en Hayley Atwell
Tom Cruise en Hayley Atwell. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die 59-jarige Mission: Impossible-ster is die naweek saam met die Captain America-aktrise (39) by die tenniseindstryd by Wimbledon opgemerk.

Die aktrise Pom Klemetieff (35), saam met wie Tom en Hayley in die komende Mission: Impossible 7 sal verskyn, was saam met hulle.

Die glansryke paartjie het geglimlag en gesels terwyl hulle na die aksie op die baan gekyk het. Gerugte van ’n romanse tussen die twee het in Desember die eerste keer die rondte gedoen toe hulle by ’n vertoning in Londen hande vasgehou het. 

“Tom en Hayley het van dag een af goed gekliek. Die inperking en al die probleme wat dit meegebring het, het hulle nog nader aan mekaar gebring, en hulle het taamlik onafskeibaar geword,” vertel iemand wat aan die produksie werk aan The Sun

Tom en Hayley geniet omtrent mekaar se
Tom en Hayley geniet omtrent mekaar geselskap. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Hulle sien mekaar na-ure, en sy was al by sy blyplek in Londen. Hulle kom baie goed oor die weg en lyk albei baie gelukkig.”

Die Britse aktrise is die bekendste vir haar rol as Peggy Carter, die meisie op wie Steve Rogers (Chris Evans) in Captain America verlief is. Sy het ook rolle in Cinderella en Christopher Robin vertolk.

Hayley is in Rome en Londen gesien waar sy saam met Tom tonele vir die jongste aflewering van die Mission: Impossible-rolprentreeks tonele geskiet het. Sy sal in die sewende en agtste aflewerings van die silwerdoek-aksie-extravaganza verskyn.

In ’n podsending verlede jaar het Hayley gesê sy is nie seker of haar karakter veronderstel is om teen Ethan Hunt (Tom) te baklei of hom te ondersteun nie. “Ek ervaar sedert Oktober ’n bestaanskrisis en dink ‘Wie is ek? Wie is ek?’ ”

Tom en Hailey
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die rolprent is deur heelwat pandemie-verwante struikelblokke vertraag, en in Desember het ’n video uitgelek waarin Tom op sy span skree omdat hulle nie covid-19-protokolle volg nie.

“Baie van ons sou dinge eerder ’n ruk lank laat wag en dan optel waar ons kan,” het ’n bron in die fliek in daardie stadium gesê. Maar die Top Gun-ster is vasbeslote om die rolprent te voltooi. 

Tom het oor die jare slegte geluk met die liefde gehad. Hy is drie keer geskei – eers van die aktrise Mimi Rogers in 1990, toe van Nicole Kidman in 2001 en in 2012 van Katie Holmes.

Hayley het twee jaar met die musikant en model Evan Jones (30) uitgegaan voor hulle in 2015 uitgemaak het.

Haar naam is ook romanties aan dié van die akteur en komediant Stephen Merchant (46) verbind, maar hulle het die bespiegelinge afgemaak en gesê hulle is net vriende.

Bronne: vanityfair.com, pagesix.com, collider.com, hellomagazine.com, indianexpress.com, thesun.co.uk, hitc.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe