AKSIESTER

Hy is op die silwerdoek veral bekend as die vlieënde superheld Falcon in Marvel se Avengers-flieks.

In die wetenskapsfiksiefliek Outside the Wire speel Anthony Mackie (42) nou die robot-supersoldaat Leo, wat met ’n vlieënier (Damson Idris) kragte saamsnoer om ’n kernaanval te stuit.

“Dit voel soos ’n aksiefliek uit die 1990’s,” sê die akteur.

“Ek wou nog altyd Wesley Snipes wees. Dit is die perfekte Wesley Snipes-fliek dié.”

OUTSIDE THE WIRE, â??Damson Idris as Harp, Anthony
Die sjarmante akteur, Anthony Mackie, het die internet aan die gons oor sy nuutste rol in Outside the Wire. Foto: Getty Images/Gallo Images

SY INSPIRASIE

Dié boorling van New Orleans, Amerika, was in gr. 3 toe ’n onderwyser hom in hul dramaprogram plaas sodat hy sy energie elders kan kanaliseer en nie die klas ontwrig nie.

Anthony was later ’n student aan die New Orleans-sentrum vir Kreatiewe Kunste. Eendag het ’n oudleerder, die Suits-akteur Wendell Pierce, ’n praatjie kom lewer.

Damson Idris en Anthony Mackie in die fliek Outsid
Damson Idris en Anthony Mackie in die fliek Outside the Wire. Foto: Netflix

“Hy het in ’n rooi Porsche stilgehou en het ’n wit linnepak gedra. Ek het gedink liewe hemel, die ou lyk soos geld. Van toe af wou ek alles doen wat Wendell doen.”

Dis dié dat hy in 1997 by Wendell se alma mater, die Juilliard-kunsskool, in New York ingeskryf het.

Vyf dinge wat jy oor Anthony moet weet

1. Hy is versot op Betty White (99) van die reeks The Golden Girls. Met hul ontmoeting jare gelede het Betty sy wang gestreel en gesê: “O, jy laat my wens ek is 40 jaar jonger.”

2.“Van my gunstelingwerk soos Half Nelson en The Hurt Locker het ek vir niks geld gedoen nie,” verklap hy.

3.Hy het in sy grootwordjare Westerns saam met sy pa gekyk. “Ek wil graag ’n gatskop-Western doen waarin ek kan perdry en ’n vrou kan red.”

4.Anthony is van Maart te sien as Falcon in die Disney+-reeks The Falcon and the Winter Soldier.

5.In sy vroeë dae in die Marvel-heelal is hy dikwels verwar met Don Cheadle, wat War Machine speel. “Ek het altyd gesê: ‘Dis die ander swart ou.’ Nou weet hulle presies wie ek is.” 

DEURBRAAK

Sy deurbraak was in 2008 as ’n weermagsersant in die oorlogsdrama The Hurt Locker.

Die fliek is vir nege Oscars benoem, maar Anthony het nie een benoeming losgeslaan nie. Dit het hom “seergemaak”, bieg hy nou.

“Ek moes ’n jaar van werk af vat.”

Hy het toe pas sy eerste seun gehad en ’n jaar vroeër is sy pa, Willie, oorlede ná die verwoesting van die orkaan Katrina.

OUTSIDE THE WIRE, â??Damson Idris as Harp, Anthony
Anthony as die vlieënde superheld Falcon in die fliek Captain America: The Winter Soldier. Foto: Disney

Hy het ’n jaar tuisgebly en ’n Mustang in sy motorhuis gerestoureer.

“Dit was terapeuties,” vertel hy.

Sy droom was om ’n superheld te speel. Hy het ’n e-pos aan Marvel gestuur: ‘Yo, ek is die swart ou van The Hurt Locker. Ek wil graag met julle saamwerk,” het dit gelui.

Hy het ’n oudisie vir die rol van die skurk Mandarin in 2013 se Iron Man 3 afgelê, maar dit nie gekry nie. Toe onthou hulle hom vir 2014 se Captain America: The Winter Soldier. En die res is geskiedenis.

HUISLEWE

Anthony het vier seuns by sy eksvrou, Sheletta Chapital.

Hulle het mekaar as sewejariges op skool ontmoet en is in 2014 stil-stil getroud, maar het in 2018 geskei.

Wanneer hy vrye tyd het, bou en verkoop hy huise in sy tuisstad, New Orleans. Dis ’n jare lange stokperdjie.

BRONNE: NEWS.AVCLUB.COM, MEN’S HEALTH, INDIEWIRE.COM, FORBES.COM, BOSSHUNTING.COM.AU
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe