En Jennifer Lopez het die afgelope Saterdag op haar 52ste verjaardag gesorg dat haar hernude verhouding met die akteur Ben Affleck sy amptelike Instagram-status verkry.  

Die “Jenny from the block”-sangeres het ’n rits smeulende foto's van haar in ’n bikini op ’n seiljag in Saint-Tropez aan die Franse Riviera met haar 167 miljoen volgelinge gedeel. Op die laaste foto deel sy en Ben (48) ’n stomende soen wat die tonge behoorlik laat klap.

View this post on Instagram

A post shared by Jennifer Lopez (@jlo)

Oor dié soen het die koninklike verslaggewer Omid Scobie in ’n twiet geskryf: “Ek dink dis veilig om te sê @jlo en @BenAffleck het ’n beter naweek as ons almal”. 

In die kommentaarafdeling van Jennifer se inskrywing het haar goeie vriendin die Hollywood-vervaardiger Elaine Goldsmith-Thomas laat hoor: “As jy Instagram-amptelik gaan wees, doen dit soos @jlo”. 

Die paartjie, wat in die vroeë 2000’s vir ’n rukkie verloof was, kuier tans in die suide van Frankryk op ’n luukse seiljag, Valerie. 

Bronne het aan E! News verklap dat die duifies op pad is na Italië om tyd aan die Amalfi-kus deur te bring. Jennifer is Maandag ook in Monaco gewaar met ’n halssnoer met Ben se naam op. 

Dis eintlik die tweede keer dat Ben en Jen op ’n Instagram-foto gesien word. Jennifer se vriendin, die aktrise Leah Remini, het ’n paar dae gelede ’n video gedeel van haar 51ste verjaardagvieringe vroeër in Junie. Op een foto pryk sy saam met Ben en Jennifer.

Intussen is Jennifer se eksverloofde, die voormalige bofbalspeler Alex Rodriguez, ook in Saint-Tropez gewaar. Die twee se verhouding van vier jaar het in Maart tot ’n einde gekom. A-Rod, soos hy bekend is, vier vandag sy 46ste verjaardag. 

“Laat die feesvieringe begin,” het die oud-Yankee-speler verlede week op Instagram laat hoor van sy gehuurde seiljag af. 

Bronne na aan Jennifer en Alex vertel dat dit nie toevallig is dat albei hul verjaardae in die mooi omgewing deurbring nie. Voor die verbreking van hul verlowing was dit glo Alex se plan om Jennifer daarheen te neem vir haar verjaardag. 

Die bronne verklap ook dat Jennifer ernstig is oor haar en Ben se verhouding. 

“Sy het geweet A-Rod is in die omgewing en dit skeel haar min wat hy doen. 

“Sy is verlief op Ben en is dol op hom. Sy gaan met haar lewe aan en kyk nie terug nie. Sy is baie bly dat sy uit die verhouding met Alex is en is klaar met hom,” het hulle aan E! vertel. 

Bronne: Daily Mail, People, E!News 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.