’n Chaotiese verkiesingsaamtrek, maniese twiets, bisarre bewerings, paranoia – selfs aan Kanye West se verlede gemeet, was dié onlangse ineenstorting taamlik skouspelagtig.

Sy verstomde aanhangers krap kop om daarvan te probeer sin maak. Was die superster-rapper en miljardêrsakeman se verregaande ontboesemings ’n set om sy plek in die komende Amerikaanse presidentsverkiesing te probeer verseker?

’n Publisiteitsfoefie om sy nuwe album te bemark? Of bloot ’n man wat ’n geestesgesondheidskrisis beleef terwyl die wêreld toekyk?

Dit kon natuurlik al die bogenoemde gewees het, maar die laasgenoemde val beslis in die “ja”-kategorie. Die 43-jarige rapper het al voorheen openlik oor sy stryd met bipolêre gemoedsteuring gepraat, en sy vrou, die werklikheids-TV-ster Kim Kardashian, “weet hy is siek”, sê ’n vriend.

Maar dit het haar nie gekeer om vir haar man van ses jaar woedend te wees nie – en baie mense meen die huwelik, wat blykbaar reeds wankelrig is, sal nou dalk nie oorleef nie.

Kim “kan nie glo” wat alles onlangs gebeur het nie, sê die vriend. “Sy’s raadop en moet besluit wat om volgende te doen.”

Kanye is duidelik siek, maar om te sê hy is nou op dun ys by die formidabele Kardashian-Jenner-familie is sagkens gestel.

Die jongste drama het ontvou by ’n byeenkoms in Charleston, Suid-Carolina, om sy verkiesingsveldtog te begin nadat Kanye bekendgemaak het hy wil hom in vanjaar se Amerikaanse presidentsverkiesing verkiesbaar stel.

’n Onsamehangende, tranerige Kanye, met ’n koeëlvaste baadjie aan en “2020” in sy hare geskeer, het tydens sy toespraak beweer Kim wou ’n aborsie kry toe sy met hul oudste kind, North (7), swanger was.

“My pa wou my aborteer,” het die huilende ster gesê. “My ma het my lewe gered. Daar sou nie vandag ’n Kanye West gewees het nie, want my pa was te besig.”

Toe skree hy: “Ek het my dogter amper doodgemaak! Ek het my dogter amper doodgemaak!”

Kanye het nog ’n herrie veroorsaak toe hy verklaar: “Harriet Tubman het nooit werklik slawe bevry nie; sy het net die slawe vir ander wit mense laat gaan werk.”

Harriet word daarvoor vereer dat sy teen die einde van die 19de eeu swart mense in Amerika van slawerny help bevry het, en Kanye se kommentaar het uit vele oorde verontwaardiging ontlok.

Kim het eers stilgebly terwyl die skok en woede losgebars het, maar Kanye was nog geensins klaar nie. Die volgende dag het hy getwiet Kim “probeer na Wyoming vlieg (waar hy ’n huis het) om my toe te sluit soos in die rolprent Get Out omdat ek gehuil het oor ek my dogter se lewe gered het”.

Dié fliek gaan oor ’n swart Amerikaner wat tydens ’n naweekwegbreek by sy wit meisie se ouers kuier. Alles lyk eers piekfyn en dan bars die duiwel los.

Kanye het sy twiet opgevolg met: “As ek soos Mandela opgesluit word, sal julle almal weet hoekom.” Sy skoonma, Kris Jenner, is nie gespaar nie. Hy het haar “Kris Jong-un” genoem en beweer sy en Kim is kop in een mus “om twee dokters te probeer invlieg”. Hy het haar en Kim ook voorstanders van wit heerskappy genoem. Baie van sy twiets is later uitgevee.

Kim en North
Aanhangers was geskok toe Kanye West onthul sy vrou, Kim Kardashian, wou hul oudste spruit, North, destyds aborteer. Foto: Instagram/@ kimkardashian

Kanye het al dikwels gepraat oor sy stryd met bipolêre gemoedsteuring en hoe dit voel wanneer hy “ ’n episode” beleef. “Wanneer jy in dié toestand is, is jy hiperparanoïes oor alles,” het hy verlede jaar vir die geselsprogramaanbieder David Letterman gesê.

“Alles is ’n sameswering. Jy voel die regering sit mikroskyfies in jou kop. Jy voel jy word opgeneem. Jy voel al hierdie dinge.”

“Jy ervaar ’n oomblik waar jy voel almal wil jou doodmaak. Jy vertrou eintlik niemand nie.”

Kanye het gedeel bipolêre gemoedsteuring is by hom gediagnoseer toe hy 39 was. “Maar soos ek op die album Ye gesê het, dis nie ’n gestremdheid nie; dis ’n superkrag.”

Hy het ’n paar maande later op dié stelling teruggekrabbel en gesê die diagnose was verkeerd; ly eintlik aan slaapontneming. Maar in ’n onderhoud met Vogue het Kim gesê Kanye het aanvaar hy is bipolêr, maar hy neem nie medikasie daarvoor nie. Kim het twee dae ná haar man se onlangse uitbarstings ’n verklaring op Instagram uitgereik.

View this post on Instagram

Happy Birthday to my King

A post shared by Kim Kardashian West (@kimkardashian) on

“Enigiemand wat aan bipolêre gemoedsteuring ly of ’n geliefde in hul lewe het wat daaraan ly, weet hoe ongelooflik ingewikkeld en pynlik dit is om te verstaan.

“Ek het nooit openlik gepraat oor hoe dit ons by die huis geraak het nie, want ek is baie beskermend teenoor ons kinders en Kanye se reg tot privaatheid wat sy gesondheid betref,” voeg sy by.

“Maar vandag voel ek ek moet daarop kommentaar lewer weens die stigma en wanopvattings oor geestesgesondheid. Diegene wat geestesiektes of kompulsiewe gedrag verstaan, weet dat die familie magteloos is tensy die mens met die siekte ’n kind is. Volwassenes moet deelneem aan die proses om hulp te kry.”

‘Jy ervaar ’n oomblik waar jy voel almal wil jou doodmaak’

Maar al staan sy haar man oënskynlik by, het Kanye haar weer aangevat. In nog onsamehangende twiets het hy teen Kim se verbintenis met die rapper Meek Mill uitgevaar.

Kim het met Meek saamgewerk om tronkhervorming te bespreek; ’n saak waaroor sy passievol is. Kim en Meek het in 2018 ’n spitsberaad oor strafreghervorming in Los Angeles bygewoon.

Kanye het gesê sy het “te ver gegaan” om met Meek te vergader en het daarop gesinspeel die twee het tydens die spitsberaad saam geslaap. Hy het ook gesê hy probeer van die werklikheidster skei.

As mense in die binnekring geglo kan word, spring sy hom dalk voor. Kim is glo “briesend” ná sy opmerkings oor aborsie en bekommerd oor watter uitwerking dit op North sal hê. “Sy weet North sal kort voor lank daarvan uitvind,” sê ’n bron.

View this post on Instagram

6 years down; forever to go Until the end

A post shared by Kim Kardashian West (@kimkardashian) on

Vir Kim was die opmerkings dalk die “laaste strooi”. Die tydskrif People het onlangs “verskeie bronne” aangehaal wat beweer gesprekke oor egskeiding “is al weke lank aan die gang” en “albei voel die huwelik is verby”.

“Hulle bespreek vriendskaplike en liefdevolle mede-ouerskap vir hul kinders,” het ’n bron aan People gesê. “Daar was genoeg kommunikasie om van albei kante vas te stel die huwelik is verby.

“Hulle is klaar. Nou moet werk gedoen word sodat almal op ’n gesonde wyse met hul lewe kan aangaan”.

Die glansnuuswebtuiste TMZ sê Kim en Kanye het weke lank “rusie gemaak” in die aanloop tot die saamtrek in Charleston en min hoop is nou oor.

“Kanye verwelkom ander mense by sy veeplaas in Wyoming, maar vermy steeds sy vrou,” het ’n vriend aan Page Six gesê.

Hy het eindelik in die openbaar verskoning gevra. “Ek wil graag my vrou, Kim, verskoning vra dat ek iets geopenbaar het wat eintlik ’n privaat saak was. Ek het haar nie beskerm soos sy my al beskerm het nie. Vergewe my, asseblief.”

En Kanye se politieke ambisies?

Dis nie die eerste keer dat hy aankondig hy rig sy visier op die Withuis nie; dit het in 2018 by die MTV-prysaand ook gebeur.

’n Paar weke later het hy saam met pres. Donald Trump in die Withuis vergader, waar Kanye geskiedenis gemaak het deur die eerste mens te word wat die woord “motherf*****” openlik in die Ovaalkantoor kwytgeraak het.

Kanye West
Kanye het aangekondig hy gaan in die komende Amerikaanse verkiesing pres. Donald Trump die stryd aansê. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het ook moeite gedoen om sy liefde en steun vir Trump uit te druk. Minder as drie weke later het die rapper die einde van sy verbintenis met Trump en sy politieke aspirasies bekendgemaak.

“My oë is nou wawyd oop, en ek besef nou ek is gebruik om boodskappe te versprei waarin ek nie glo nie,” het hy op Twitter aangekondig.

“Ek distansieer my van politiek en fokus volkome daarop om kreatief te wees.”

Nou is hy terug – en politieke ontleders is huiwerig om Kanye se toetrede tot die wedloop om die presidentskap te ignoreer.

Hulle wys daarop Trump se verkiesing was immers die definisie van ’n verrassende oorwinning. Die verkiesingskenner Robert Yoon sê Kanye kan “ ’n onbekende faktor in genoeg plekke wees om ’n impak te hê”.

Die rapper is ’n uitvoerende kunstenaar, voeg Robert by. “Hy beskou dalk sy veldtog as ’n vertoning.”

Hou vas aan jou hoed . . .

Bronne: washingtonpost.com, people.com, dailymail.co.uk, AFP, apnews.com, nytimes.com, tmz.com