As daar nou ’n ster is aan wie 2019 behoort, is dit Keanu Reeves.

Dié Hollywoodakteur het die trefferfliek Avengers: Endgame by die loket ’n uitklophou gegee met sy spel as die onstuitbare huurmoordenaar in die rolprent John Wick 3.

Op Netflix laat hy kykers skater in die romkom Always Be My Maybe. En in Toy Story 4 sal jy hom hoor as die stem van die waaghalsige speelding Duke Caboom.

Boonop het Keanu by Microsoft se Xbox-voorlegging op die E3-saamtrek opslae gemaak toe hy bevestig het hy gaan in die speletjie Cyberpunk 2077 verskyn.

Ná byna vier dekades in die rolprentbedryf is die 54-jarige akteur se loopbaan steeds kookwater en bewys hy dat Vader Tyd nie sy gewildheid – of smeulende voorkoms – laat taan het nie.

Danksy sy nuwe witwarm status het aanhangers hom “die internet se kêrel” gedoop. Toe hy hiervan hoor, het hy op sy tipies beskeie manier gelag en gesê: “Ek is wát? Dis . . . dis wacky. Wel, dis absoluut wonderlik.”

Keanu is gereeld die onderwerp vir internetgrappies – soos die “Hartseer Keanu”-een wat in 2010 soos ’n veldbrand versprei het van hom wat alleen op ’n parkbankie ’n toebroodjie sit en eet.

Die jongste meme oor die aantreklike donkerkop het te doen met sy gewoonte om nie aan vroueaanhangers te raak wanneer hy foto’s saam met hulle neem nie.

Meme
Toe mense agterkom Keanu raak nie aan vroueaanhangers nie, het dit tot verskeie internetmemes gelei. Foto: Instagram/@KemziLinzi

Hy word nie daaroor gespot nie; eerder geloof vir wat as ’n respekvolle gebaar teenoor vroue gesien word in die era van die #MeToo-veldtog.

Dis asof daar nie ’n einde aan lofgesange vir die akteur is nie. Toe die aanlyn redakteur van die tydskrif The New Yorker onlangs stories oor Keanu vra, het aanhangers hom oorval – en almal het dieselfde ding gesê: Hy is die gaafste, dierbaarste ou wat jy kan kry.

Een inskrywer het vertel van ’n ontmoeting met Keanu in ’n straat in New York.

“Ek het na hom gekyk en besef wie dit is; hy het geglimlag, gewaai en gesê: ‘Hoe gaan dit met jou?’ Dit was vinnig, maar ek sal dit nooit vergeet nie.”

Keanu in toystories
Hy is die stem van ’n waaghalsige speelding genaamd Duke Caboom in Toy Story 4. Foto: Walt Disney Productions

Die New Yorkse joernalis Naomi Fry het selfs gesê hy is “te goed vir hierdie wêreld” nadat sy gesien het hoe hy op een van die goedkoop sitplekke in ’n plaaslike teater gaan sit.

Toe Keanu ’n paar weke gelede in The Late Show verskyn het om voorbrand vir John Wick 3 te maak en die aanbieder, Stephen Colbert, hom vra wat hy dink gebeur nadat ons gesterf het, het sy antwoord diep getref: “Ek weet dié wat ons liefhet, sal ons mis.”

Dit lyk asof die man nie ’n voet verkeerd kan sit nie.

Agter al dié stories skuil ’n akteur wat, ten spyte van sy Hollywood-supersterstatus, nooit die roem en rykdom kop toe laat gaan het nie.

Hy neem homself ook nie te ernstig op nie en spot heerlik met homself in die nuwe Netflix-fliek Always Be My Maybe.

Daarin speel hy die ergste moontlike weergawe van homself – ’n aggressiewe, egoïstiese rolprentster en rokjagter wat in die bed spring saam met ’n televisiesjef, Sasha, gespeel deur die komediant Ali Wong.

“Dis moeilik om te verduidelik presies hoe ongelooflik snaaks hy is,” sê Ali, en voeg by die akteur het ook talle van sy snaaksste kwinkslae uit die vuis gelewer.

Keanu en Ali Wong
Saam met Ali Wong, sy medester in die nuwe Netflixrolprent ­Always Be My Maybe.

Al ken kykers Keanu meestal as aksieheld, is dit eintlik nie verbasend dat hy so tuis voel in ’n komedie nie – dit was in dié genre dat hy sy groot deurbraak gekry het met die rol van die benewelde Ted in die 1989-kultusfliek Bill and Ted’s Excellent Adventure.

Hy het deur die jare weggeskram van snaakse flieks en liefdesverhale en het aksieflieks met groot begrotings verkies – dalk as teenmiddel vir sy eie persoonlike hartseer. Want die lewe het Keanu al swaar getref.

Hy was net 23 toe sy beste vriend en medeakteur, River Phoenix, in 1993 aan ’n dwelmoordosis dood is. Keanu het dwelms al as “werklik boos” beskryf en gesê: “Ek gebruik dit nie eens nie, maar dit het my lewe in ’n nagmerrie verander.”

Keanu and River Phoenix
Hy en sy vriend River Phoenix, wat in 1993 aan ’n dwelmoordosis dood is, saam in die fliek My Own Private Idaho. Foto: Gallo Images/AFP

Sy pa, Sam Reeves, wat hom, sy suster en hul ma verlaat het toe Keanu net drie was, is in 1994 vir dwelmbesit gevang en 10 jaar tronkstraf opgelê. Keanu het sy verhouding met sy pa beskryf as “baie swaar – vol pyn en ellende”.

Op 29 het hy die liefde van sy lewe, Jennifer Syme – die rolprentmaker David Lynch se assistent – ontmoet. “Ons was dadelik verlief,” het hy vertel.

Hulle was jare lank saam voor sy swanger geraak het. Die paartjie was in die wolke oor die vooruitsig om ouers te word. Maar hul dogter, Ava, is in 1999 op agt maande doodgebore, en Keanu en Jennifer is kort daarna uitmekaar.

Jennifer is ’n jaar later dood toe sy beheer oor haar Jeep verloor het. Hy het nog nooit openlik oor die dood van Jennifer en Ava gepraat nie, maar dis glo die rede dat hy sedertdien nooit ’n ernstige verhouding gehad het nie.

Die begrip vir gebrokenheid het hom gehelp om in die karakter John Wick se kop te kom – ’n man wat gedryf word deur die verlies van sy vrou en geliefde hond.

Keanu Reeves in John Wick
Keanu Reeves as die onstuitbare John Wick. Foto: Lionsgate

“Ek hou van sy hartseer,” het hy aan The Guardian verduidelik. “Ek vind absoluut aanklank daarby en ek dink nie ’n mens verwerk dit ooit nie. Hartseer en verlies bly jou by – dis maar die eb en vloei van die lewe.”

Hy het ook al aangrypend opgemerk: “Hartseer verander van vorm, maar dit eindig nooit.”

Eerder as om sy seer as wapen te gebruik, probeer Keanu om sy meegevoel met broosheid ten goede aan te wend. “Hy is die teenoorgestelde van bitter en verwronge,” sê ’n ingeligte bron.

“Hy is ’n filantroop, maar die beste soort – die soort wat nie enige aandag soek nie.”

Hy finansier die afgelope ses jaar kinderhospitale en kankernavorsing deur sy eie stigting. Dis die gevolg van sy suster Kim se leukemiestryd in die 1990’s.

“Ek hou nie daarvan om my naam daaraan te koppel nie,” sê hy.

“Ek laat die stigting toe om te doen wat dit moet doen.” Hy vermy die glansryke partytjietoneel in Los Angeles en word dikwels op sy eie op een van sy klassieke motorfietse gewaar.

Die laaste persoon aan wie hy romanties verbind was, was die transgender aktrise Jamie Clayton, en min is oor Keanu se privaat lewe bekend.

Keanu en Sandra in Speed
Keanu en Sandra Bullock, sy medester in Speed. Foto: 20th Century Fox

Tog het hy onlangs in die Ellen DeGeneres Show verklap hy was destyds smoorverlief op Sandra Bullock, sy medester in die 1994-fliek Speed. “Sy het natuurlik nie geweet nie,” het hy erken toe Ellen vir hom sê Sandra het ook van hom gehou.

“Hoekom het julle nie ’n verhouding aangeknoop nie?” wou Ellen weet.

“Ons het gewerk,” het hy geantwoord. Want ondanks sy swaarkry was sy hart en kop nog altyd op die regte plek.

Hy sê immers self: “Dis ’n cliché dat geld nie geluk koop nie. Dit koop wel vir jou die vryheid om jou lewe te lei soos jy wil.” 

Bronne: Radiotimes.com, Huffpost.com, Cheatsheet.com, TheGaurdian.com, E! Online, DailyMail.co.uk