Dié stap is glo geneem omdat prins Harry en sy vrou, Meghan, meer privaatheid soek, iets wat hulle bly ontwyk het in die reusagtige 12-slaapkamerherehuis wat die Hollywood-ster Tyler Perry vir hulle in Beverly Hills beskikbaar gestel het.

Onlangs is daar foto's vermoedelik met ’n hommeltuig van die gesin geneem terwyl Harry (35) met sy swart labrador baljaar het. Die gehalte van die foto’s is so goed dat die pers balhouer wat gebruik is om die bal mee te gooi, duidelik herkenbaar is.

Dit is in skrille kontras met die twee jaar wat Meghan (39) in Engeland deurgebring het. Geen foto van haar en Harry by Frogmore Cottage het tot dusver die lig gesien nie, behalwe ’n paar foto’s wat in ’n paar onbewaakte oomblikke geneem is.

Prins Charles en prins Harry Foto: Keith Mayhew/SO
Prins Charles en prins Harry Foto: Keith Mayhew/SOPA Images/LightRocket via Getty Images

Volgens bronne in die koninklike binnekring het prins Charles (71) sy hand diep in eie sak gesteek om sy jongste seun te help met die kopie. Maar Clarence House is tjoepstil oor dié bewering.

’n Bron beweer ook dat Charles gretig was om Harry te help. “Hy is toegewyd aan sy seuns en sal enige tyd help waar hy kan,” het die bron gesê.

Intussen is daar natuurlik nog die kwessie van restorasiewerk aan Frogmore Cottage waarvoor Harry en Meghan verantwoordelikheid moes aanvaar. Toe hulle in Januarie amptelik hul koninklike pligte opsy geskuif het, is daar ooreengekom dat hulle maandeliks sowat R407 000 sou terugbetaal om die byna $3 miljoen (toe R42,7 miljoen) te delg wat die restourasie die Britse belastingbetaler uit die sak gejaag het.

Frogmore Cottage, Meghan en Harry se tuiste in Eng
Frogmore Cottage, Meghan en Harry se tuiste in Engeland.

Volgens die MailOnline het Harry en Meghan stilletjies vanaf April vanjaar wel die maandelikse terugbetaling begin maak, ’n ooreenkoms wat meer as 11 jaar gaan neem om die volledige bedrag te delg. Dit hou egter die agterdeur oop vir die gesin om daar te gaan bly wanneer hulle Windsor eendag weer gaan besoek.

Die gesin het glo in Julie reeds hul nuwe huis betrek. Dis die eerste keer dat Meghan en Harry hul eie huis besit en hopelik beteken dit ’n “normale lewe” vir hul seun, klein Archie (1).

Wie bly nog in dié pragtige stad?

Santa Barbara, ook bekend as die Amerikaanse Riviera, is die toevlug vir talle bekendes wat óf tans hier woon of huise het. Hieronder is Oprah Winfrey, Ellen DeGeneres en haar vrou, Portia de Rossi, die akteurspaar Ashton Kutcher en Mila Kunis, die Star Wars-skepper George Lucas en talle ander Hollywood-sterre soos Drew Barrymore, Charlize Theron, Brad Pitt, Angelina Jolie, Kevin Costner en Rob Lowe. Ook die wyle koning van pop, Michael Jackson, se Neverland-landgoed val in die Santa Barbara-distrik.

Bronne: montecito-estate.com, pagesix.com, telegraph.co.uk, dailymail.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe