Dit gons oor prins Louis net soos Kate se pa lyk

akkreditasie
Hulle is mekaar se ewebeeld – so sê koninklike aanhangers oor prins Louis (2) en sy oupa aan moederskant, Michael Middleton.

Die jongste van die Cambridge-kroos was lank laas in die openbaar gewaar. Alle oë was dus op hom gerig toe hy saam met sy ouers, prins William en Kate, en sy ouer broer en suster, prins George (7) en prinses Charlotte (5), na ’n Kersfeespantomime in Londen se West End gaan kyk het.  

Die geleentheid, wat deur die Britse nasionale lotery aangebied is, is gehou om noodsaaklike werkers en hul gesinne vir hul merkwaardige werk in die stryd teen die coronavirus-pandemie vanjaar te bedank. Maar al waaroor aanhangers kon praat, was die ooreenkomste tussen Louis en Kate se 71-jarige pa, Michael.

Michael Middleton
Michael Middleton Foto: Gallo Images/Getty Images

“Louis lyk soos Kate se pa – sy spieëlbeeld,” het een skryf, en nog een het laat hoor: “Hulle lyk op ’n haar na mekaar.”

Nog een het geskryf: “Louis is sy ewebeeld.”

Talle het ook gekoer oor hoe goed die hele gesin gelyk het. “Mal oor William en Kate en hierdie pragtige gesin,” het een geskryf en nog een het saamgestem met: “Beslis. So oulik.”

Talle reken Charlotte lyk by die dag meer soos haar oumagrootjie, koningin Elizabeth.

“Charlotte se hele gesiggie is dié van die koningin!” het een geskryf en nog een het bygevoeg: “En sy lyk soos die koningin se ouma, koningin Mary. Ek stem saam, daar is baie ooreenkomste.”

George word ook vinnig groot en lyk al hoe meer soos ’n klein weergawe van sy pa, William.

Die Cambridges het in hul jaarlikse Kerskaartjie, wat onlangs in die sosiale media uitgelek het, personeel van die Britse nasionale gesondheidsdiens, die NHS, bedank.

Die kaartjie, met die gesin wat in winterdrag voor ’n hoop hout sit by hul huis, Anmer Hall, in Norfolk, is gerig aan “al die wonderlike werkers by die NHS – ons wens julle ’n baie geseënde Kersfees en Nuwejaar toe.”

Volgens die tydskrif Hello! het William ’n persoonlike nota bygevoeg: “Ons sal julle nooit genoeg kan bedank vir al jul toewyding nie.”

Bronne: dailymail.co.uk, hellomagazine.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees