Luidens berigte gaan William (36) en Kate (37) glo vandag Archie ontmoet – en dit ’n week ná sy geboorte.

Almal van wyle prinses Diana se ouer suster Lady Jane Fellowes (62) tot koningin Elizabeth (93) en haar man, prins Philip (97), het al die hertog en hertogin van Sussex se bondeltjie vreugde ontmoet kort ná hy op 6 Mei in die eksklusiewe Portland-hospitaal in Londen gebore is. Dit is dus g'n wonder dat mense nou meer inlees in die feit dat die hertog en hertogin van Cambridge ’n week lank gewag het nie.

Maar wag ’n bietjie, sê ander. Klein Archie Harrison Mountbatten-Windsor se eie oupa, prins Charles (70) en die se vrou, Camila (71), die hertogin van Cornwall, het hom ook nog nie ontmoet nie.

Meghan se ma, Doria Ragland (62), is nog heeltyd aan die sy van haar dogter en eerste kleinseun by Frogmore Cottage by die Windsorkasteel waar die Sussexe woon.

Harry en William se pa, Charles, gaan glo later dié week sy vierde kleinkind ontmoet. 

Toe William en Kate se drie spruite, prins George (5), prinses Charlotte (4) en prins Louis (1), gebore is, was hul oom Harry en oupa Charles binne dae daar om die kleingoed te ontmoet.

Die oorsese media glo dis weens Kate en Meghan se beweerde konflik met mekaar dat Kate nog nie by haar skoonsus was nie. 

William en Kate het kort ná Archie gebore is in die sosiale media vertel hoe opgewonde hulle oor sy geboorte is, berig Us Weekly. "Die hertog en hertogin van Cambridge is verheug oor die nuus en sien uit daarna om die jongste toevoeging tot die familie te ontmoet," lui ’n inskrywing op die Kensingtonpaleis se Instagramblad.

En daar is ’n goeie verduideliking hoekom van Harry se familie so lank neem om klein Archie te besoek, sê dié wat weet. "Hulle wou hom en Meghan tyd gee om gewoond te raak aan die gesinslewe en Meghan se ma, Doria, bly nog by hulle terwyl die baba by sy omgewing aanpas."

’n Bron beweer prins George en prinses Charlotte vra gedurig hul ouers wanneer hulle hul nefie kan ontmoet, berig Mirror UK.

"Al die familie is oorgehaal om klein Archie te ontmoet en is baie opgewonde om eindelik Harry en Meghan persoonlik geluk te wens," sê die bron. "William en Kate sien ook uit daarna om hulle te besoek, so ook hul eie drie kinders."

Volgens Express UK gaan die koninklike egpaar vandag Windsor toe reis terwyl prins Charles Donderdag sy kleinkind vir die eerste keer gaan ontmoet.

Intussen geniet Harry dit om met sy nuwe kleinding pop te speel.

Volgens bronne het hy en Meghan ’n "betowerende" tyd met klein Archie. Harry het reeds sy eerste babadoek geruil en geniet die vreugde van vaderskap, sê ’n bron. 

Bronne: DailyBeast, etonlineUs Weekly, Mirror UK, Express UK