Die grapjas-duo Hamilton Wessels, beter bekend as Hammie, en die langbeen blondekop Vanes-Mari du Toit, het die afgelope paar weke vir ons die komiese kant van die grootse sportgebeurtenis gewys in die kykNET-program, In Japan, Ja!

Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Hammie en Vanes-Mari verskyn in die kykNET-program, In Japan, Ja!

Huisgenoot het by hulle gaan uitvind wat hulle ervaring tot dusver van dié unieke land was. “Ek sou Japan as georganiseerde chaos beskryf,” vertel Hammie vanuit die vreemde. “Dis chaos oral, maar alles werk perfek. “Ons was by die Shibuya-kruising waar daar iets soos 2500 mense die pad oorsteek, elke keer as die lig groen slaan.”

“Die mense bondel nooit saam nie,” verduidelik Vanes-Mari. “Wanneer jy by ’n trein afklim en jy wil by ’n roltrap opgaan, loop hulle na die agterkant van die ry.” Die Japanese se vriendelikheid het hulle behoorlik uitgeboul, vertel die twee. “Dit is oorweldigend,” vertel Hammie. “By die stadions veral. Ek is nog nooit so in ’n stadion verwelkom nie. Hulle staan letterlik in ’n ry en gee al die mense wat instap ’n high five.” 

Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Hammie en Vanes-Mari saam met 'n Japanese Bok-ondersteuner. Foto: Verskaf

Vanes-Mari vertel dat een van die snaakste oomblikke tot dusver was toe Hammie in ’n groen Power Ranger-uitrusting op die trein gery het na een van die Springbokke se wedstryde. “Jy moes die Japanese se reaksie sien oor die ses voet Power Ranger wat op die stasie rondloop.”

Dan laat Hammie hoor: “En daai pakkie was ’n redelike tight fit. ’n Japaneses size aan ’n Afrikaner lyf. Dit het maar moeilik gegaan... en dit was koud!” 

Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Hammie en Vanes-Mari op pad na 'n Sprinkbok-wedstryd in twee Power Ranger-uitrustings. Foto: Verskaf
Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Hulle het altyd hulle Springbok-drag aan, ongeag wat. Foto; Verskaf

Dan onthou hy ook hulle ervaring met die somu-stoeiers. “Ons het so gesweet in daai pakkies, maar dit was nie ons eie sweet nie. Dit was sumo-stoeiers se sweet, waarvan ek so bietjie in die mond gekry het.”

Vanes-Mari haal vir Hammie aan: “Somu-stoeiers se sweet is soos ’n happie proteïene.” Hulle lag saam.

Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Hulle het ook die tradisionele vegkuns van nader leer ken. Foto: Verskaf
Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Hammie en Vanes-Mari in aksie. Foto: Verskaf

Die twee geniet die kos wat hulle tot dusver  geëet het, maar erken dat sommig disse en happies maar baie vreemd is. Die Japanese daarvan hou om eiers – rou of geposseer – saam met hulle kos te eet, verduidelik Vanes-Mari“Jy kry eier op sushi, in alles. Toe vind ons later uit dat eier tydens die wêreldoorloë vreeslik gesog en duur was. ’n Eier is nou soos ’n fynprowerskos.“Kyk ek hou van roereiers en omellette, maar moenie vir my eier in sop gee nie. Dit is vir my vreemd.”

Maar vreemder as dit was die seepampoentjie wat hulle mekaar uitgedaag het om by ’n vismark te eet.“Dit het vir my soos aas gelyk en geproe,” sê Hammie. 

“Ek dink ek het in my mond opgegooi,” laat hoor Vanes-Mari droog. 

Tog sê Hammie die vleis wat hulle hier geëet het was ongelooflik lekker. “Ons het ’n ding gehad met die naam Yakiniku waar jy om ’n tafel sit met ’n braaiertjie in die middel en dan bring hulle vir jou vleis vir twee ure lank en jy eet en drink soveel soos jy kan. “Die kos is heeltemal anders was waaraan ons gewoond is, maar baie lekker.”

Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Hulle geniet 'n eg Japanese maaltyd. Foto: Verskaf
Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Hulle geniet al Japan se vreemde disse. Foto: Verskaf

Die Japanese gewoontes wat tot duver vir hulle die meeste uitstaan is die bukkende groet. “Hulle buig behoorlik vooroor wanneer hulle groet, dankie en baai sê,” verduidelik Vanes-Mari. “Vir ons lang mense kan dit nogal erg raak en my lae rug is al seer.”

Hammie lag. “Ek dink Vanes het al ’n sespak op haar rug.

"Hulle is ook baie erg op tyd. Ons het ’n tolk wat saam met ons gaan en as jy ’n minuut laat is . . . Ek en Vanes-Mari is soms so 'n bietjie deur die weer, maar die span is gewoonlik betyds. Jy sien, ons moet grimering doen. Ek moet my snor in toom kry en Vanes moet netjies lyk.”

Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Ligte, kamera, aksie. Foto; Verskaf

“Maar dis nie eintlik ’n vreemde ding om op tyd te wees nie, Hammie,” val Vanes-Mari hom in die rede. “Dis eintlik hoe 'n mens moet wees.

“Weet jy wat is vreemd,” sê sy dan. “Daar is nêrens asblikke op straat nie. Ek weet baie mense het dit al opgemerk, maar daar is regtig nêrens asblikke nie en die plek is silwerskoon.”

Hammie sê hy dra maar ’n sakkie by hom waarin hy sy rommel kan sit. “Of jy moet ’n asblik op jou rug vasmaak.” Hulle altwee bars uit van die lag.

Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Hammie en Vanes-Mari by een van Wêreldbeker-wedstryde. Foto: Verskaf

“Die toilette is ook glad nie soos ons dit ken nie,” sê Vanes-Mari. “Dit het ’n minimum van vier of vyf knoppies om te druk om jouself te was. Ek het nou die dag by ’n toilet ingestap, toe lig die deksel op sodat jy nie daaraan hoef te vat nie. En die sitplek raak warm. Dit is nogal impressive.”

Hammie stem saam en sê: “Ja, ek gaan sommer toilet toe al het ek nie ’n nood nie.”

Hulle sê hulle het al menigte trots Suid-Afrikaanse oomblikke beleef, soos toe die Bokke Namibië geklop het en hulle ’n hele groep Suid-Afrikaners was wat Shosholoza op die trein gesing het. Maar hulle weet sommer nou al die trotste oomblik sal wees wanneer die Bokke die Wêreldbeker wen en die Web Ellis-trofee lig.

Hamilton Wessels en Vanes-Mari du Toit.
Groot opwinding in die stadion saam met mede-Suid-Afrikaners. Foto: Verskaf