Dit is amper ’n dekade sedert sy dood, maar die popkoning kan steeds die hoofnuus haal soos toe hy gereeld boaan die trefferlyste geboer het.

Dié keer is Michael Jackson in die nuus oor ’n nuwe dokumentêr wat op die Sundance-rolprentfees in Amerika vertoon sal word. Dit bevat nuwe bewerings dat hy jong kinders misbruik het.

Hy is weens soortgelyke aantygings in die hof vervolg toe hy nog geleef het, maar is onskuldig bevind.

“Op die kruin van sy roem het Michael Jackson langdurige verhoudings met twee seuns, sewe en 10 jaar oud, en hul gesinne begin,” lui die oorsig vir Leaving Neverland.

‘Die sogenaamde dokumentêr warm bloot die ou en reeds gediskrediteerde bewerings op’ – Michael Jackson se boedelbestuurders

“In hul 30’s vertel hulle nou die storie van hoe hulle deur Jackson seksueel misbruik is en hoe hulle dit jare later verwerk het.”

Die identiteit van die mans wat in die dokkie verskyn, is nie amptelik bekendgemaak nie, maar op ’n foto op die regisseur en vervaardiger, Dan Reed, se webtuiste verskyn Michael saam met die choreograaf Wade Robson (36).

Wade Robson
Wade Robson Foto: Gallo Images/Getty Images

Wade het in 2013 beweer die sanger het hom gemolesteer toe hy sewe jaar oud was.

Michael se boedelbestuurders het Wade sedertdien ’n “meester van misleiding” genoem en die dokkie afgemaak as “net nog ’n afstootlike produksie in ’n patetiese poging om Michael Jackson uit te buit en te melk”.

Bronne: Net-a-porter, Jezebel.com, Pagesix.com, Theblast.com