Hulle het groot drome saam gedroom – die petite blondine en die singende reus met sy rasperstem en kitaar. Die toekoms het met eindelose moontlikhede gewink; selfs om saam in Amerika ’n nuwe lewe te gaan bou. Maar nou lê hul toekomsdrome saam met hul kortstondige huwelik aan skerwe.

En vir Kim Viljoen is die hartseer net so groot soos vir Dozi. “Dis die seerste seer wat ek nog gehad het,” het die bekende sanger onlangs oor sy derde egskeiding aan Huisgenoot gesê. “Ek glo dit. Dit is net so seer vir my,” sê Kim (29) nou op haar beurt waar sy op ’n wit rusbank in haar ma se huis in die swierige Pretoriase buurt Waterkloof sit.

Sy het in Januarie vanjaar tydelik hier kom intrek nadat sy sak en pak uit haar en Dozi (56) se tuiste op ’n kleinhoewe op Hartbeespoort weg is. “Ons het soveel drome saam gehad. Ons het gepraat van ’n maatskappy stig waar ek eiendomme op Harties kan verkoop,” vertel die eiendomsagent wat vroeër ook ’n wiskundeonderwyser was.

“Ons het daarvan gedroom om Amerika toe te gaan, en hy kan sing en Zoeloe gee en ek kan weer ’n onderwyseres wees. En ons hét gesê ons gaan van die kleinhoewe trek,” sê sy beslis. Maar toe blyk dit Dozi – oftewel Henk Opperman – het te diep daar wortelgeskiet.

Hy woon al die afgelope 35 jaar op die kleinhoewe en het ook daar begin met ’n kuierplek, Back to the Roots, waar hy en ander sangers Sondae optree. “Ons wou verskillende dinge hê,” het Dozi in Mei aan Huisgenoot oor sy en Kim se mislukte huwelik gesê en bygevoeg: “Ek sou happy wees om onder ’n olienhoutboom saam met haar te bly.”

Dit klink dalk of sy net in ’n spogbuurt wil woon, sê Kim nou, “maar ek sou saam met hom in ’n klein woonstel kon bly. Ek het nie verwag hy moet Back to the Roots of enigiets prysgee nie. Ek wou nét ’n kompromis hê.”

Foto’s: Lubabalo Lesolle
Sy het alles gegee, sê Kim, maar sy’t ’n ­kompromis nodig gehad wat hy nie kon ­aangaan nie. Foto: Lubabalo Lesolle

Sy vee ’n traan af. “Ek het met die man getrou by wie ek vir ewig wou wees. Ek het met Henk Opperman getrou. Ek kon en kan na myself omsien; ek het nie roem gesoek nie. Ek het op Henk verlief geraak, maar ek het met Dozi getrou.”

Sy het alles prysgegee, vertel sy: ’n suksesvolle onderneming en loopbaan as eiendomsagent; sy het haar eie huis in Pretoria verhuur en van familie en vriende weggetrek om by hom te wees. Tog is daar geen verwyt wanneer sy oor hul huwelik van net meer as ’n jaar praat nie. “Ek is net hartseer; so hartseer dat my hart pyn,” sê sy en trek haar skouers op.

Haar skraal hande bewe toe sy begin praat oor die gryskopman met die blou oë met wie sy ná ’n warrelwindromanse van net ses maande getroud is. Met Huisgenoot se besoek aan die egpaar ’n jaar gelede het Kim knus onder Dozi se arm gesit, dolgelukkig. Nie eens die ouderdomsverskil van 27 jaar kon hulle skeel nie. Saam het hulle gedroom van “tjokkers wat rondhol”.

Albei het toe vertel dié huwelik werk, want hulle is teenoorgesteldes maar vul mekaar aan. Kim is logies, prakties en het ’n kop vir syfers, en Dozi is die deurmekaar dromer, het hulle verduidelik. Sy was die bestuurder, boekhouer en bemarker van sy ondernemings op die kleinhoewe, Back to the Roots sowel as ’n intieme kroeg en restaurant, die Blues Bar.

Dozi
Dozi by sy kuierplek Back to the Roots. Facebook/@Dozisbacktotheroots

Sy het van vroeg soggens tot laat saans gewerk en ook die besprekings vir sy optredes en die finansies behartig. Sy het ’n nuwe webtuiste laat skep en met aanlyn verkope van kaartjies begin.

“Jy moet verstaan,” sê sy met nadruk. “Ek haat dit om met iets te misluk, en as ek enigiets doen, doen ek dit so goed ek moontlik kan. Maar daar was dae by Back to the Roots wat dit net ek en ’n bestuurder was wat 1 500 mense moes behartig. Een aand by die Blues Bar was ek hostess en die sjef. Ek het steeds ’n pizza elke vyf minute uitgestuur, maar ek is nie ’n sjef nie,” sê sy en skud haar kop.

Sy het ook byna al haar eie geld in Dozi se ondernemings gestort, vertel sy. “Ek kan regtig met alle eerlikheid sê ek het in soveel aspekte my alles gegee.”

Tog was dit nooit die plan dat hulle permanent op die hoewe sou bly nie, hou Kim vol. Voor hul troue het Dozi saamgestem en gesê hulle moet trek, vertel sy. “Hy het selfs gesê hy sal Pretoria toe trek, maar ek, die realis, het gesê ons moet eers die onderneming op Harties uitsorteer.”

Sy het op die kleinhoewe onveilig gevoel. Daar is geen omheining nie en ’n informele nedersetting langsaan. “Henk wou my ook nooit alleen daar los nie omdat hy oor my veiligheid bekommerd was. En wanneer ons iewers heen gegaan het, het ons ekstra sekuriteit op die hoewe gekry omdat sy ma ook daar woon,” sê sy.

Foto’s: Lubabalo Lesolle
Sy het alles gegee, sê Kim, maar sy’t ’n ­kompromis nodig gehad wat hy nie kon ­aangaan nie. Foto: Lubabalo Lesolle

Haar besluit om self daar weg te trek – al is dit sonder Dozi – is nie oornag geneem nie. “Sedert November verlede jaar was daar ’n vibe in die huis,” sê Kim.

Dit was nadat sy ’n huurder, iemand wat die bedryf ken, vir Back to the Roots en die Blues Bar gekry het. Maar steeds wou Dozi nie die kleinhoewe agterlaat nie. Toe sy net ná Nuwejaar sak en pak daar weg is, was sy steeds besorg oor haar vervreemde man.

“Ek het self vir Theuns Jordaan gebel en gevra hy moet ’n ogie hou en Dozi help. Hy het ’n goeie sakesin,” sê sy oor die bekende sanger. Trane loop weer oor Kim se wange toe sy praat oor die aantygings van sy vriende dat sy Dozi glo “verander” het. “Ten goede, ja,” gee sy toe.

Dan erken sy: “Dit maak seer. Ek is die een wat presente vir sy pelle gekoop en hom aan verjaardae herinner het; die een wat moeite gedoen het. Ek weet dit is nie wat daai vriende sê nie. En ek is soms bekommerd oor hom.”

Net meer as ’n week tevore het Kim weer vir Dozi gesien. “Ek het my laaste goed by die huis gaan haal en toe praat ons. Hy het na die plot gewys en gesê: ‘Hierdie is my lewe; dis wie Dozi is.’ Dit is erg, want ek het aan vir ewig commit, maar hy kies iets materialisties bo my.”

Die soveelste keer tydens ons gesprek probeer Kim die trane keer, maar dit vloei vrylik oor haar wange. Haar halfsuster, Kelci Cronjé (18), kom gee haar ’n vertroostende drukkie. “Ek het vir hom ’n brief geskryf, maar dit nie vir hom gegee nie,” vertel Kim verder van haar laaste besoek aan die kleinhoewe.

“Ek sê daarin ek het met Henk getrou. Die beroemde Dozi beteken niks in ons huwelik nie. Ek het nie gekies om verlief te raak op iemand in die kollig nie, maar ek het Henk gekies. Ja, wees true to yourself, maar jy kan nét een mens wees.”

Ja, sy mis hom steeds. Tog sê sy daar is geen kans op ’n versoening nie.

Foto’s: Lubabalo Lesolle
Dozi en Kim op hul troudag in ­Desember 2018. Hul paadjies het net meer as ’n jaar later geskei. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek sal nie kan nie . . . Ek het ’n kompromis nodig, en Henk sal nie toegee nie,” sê sy en haal weer haar skouers op.

Op sy nuwe album, Vrede, is vier liedjies wat hy vir haar gef het.

“Kim gaan hulle hoor en weet ek het dit vir haar geskryf,” het Dozi in Mei aan Huisgenoot gesê toe dit aanlyn uitgereik is.

Het sy al na een van die liedjies geluister? Sy het ’n enkelsnit daarvan, “Partykeer somtyds”, gehoor, antwoord Kim. Dan voeg sy by: “Maar partykeer somtyds is die liefde nie genoeg nie . . .”