Die ster van treffers soos The Rock, Con Air, Face/Off en, les bes, Leaving Las Vegas, was laas maand presies vier dae met die veel jonger Erika Koike getroud toe hy besluit hy het 'n moewiese fout begaan.

Nicolas (55) en Erika (34) het op 'n Saterdagaand waarvan hy blykbaar nie veel kan onthou nie in Las Vegas afgehaak. Maar die akteur, bekend daarvoor dat hy met dieselfde oorgawe werk én kuier, het slegs dae later in 'n oomblik van terugkerende helderheid aansoek gedoen om die huwelik nietig te laat verklaar. Sy verweer in regsdokumente was dat hy "impulsief opgetree het en nie in staat was om die volle impak van my handelinge te begryp nie".

Kortom, hy het erken hy was so kwaai aangeklam dat hy iets aangevang het wat hy nooit andersins sou doen nie.

Maar dit skeel Erika, 'n grimeerkunstenaar met wie hy sowat 'n jaar gelede begin uitgaan het blykbaar min. Volgens haar tel hul kitstroue steeds, ondanks die bedenklike omstandighede waarin dit geskied het. Sy's nie te vinde vir 'n nietigverklaring nie, maar wel 'n egskeiding… en sy eis onderhoud. 

Nic het voorts aangevoer dat Erika hom mislei het: Sy het hom onder meer in die duister gehou oor haar "misdaadgeskiedenis". Sy vierde vrou is naamlik twee keer van dronkbestuur aangekla en een keer weens huishoudelike geweld in hegtenis geneem.

Erika voer egter ook nou aan Nicolas het haar naam skade berokken en haar verhouding met hom het haar verskeie loopbaangeleenthede gekos.

Media soos Entertainment Tonight en die Daily Mail het einde laas maand oor Nic se blitshuwelik berig nadat beeldmateriaal versprei is van 'n hewige woordewisseling tussen hom en Erika kort voor hulle hul troulisensie sou kry.

Hy het glo onder meer geskree dat sy "al sy geld gaan vat". Ooggetuies het toe vertel die pa van twee, wat onlangs sy San Francisco-huis van R185 miljoen te koop aangebied het, "meestal dronk" en "buite homself" gelyk het.

Die akteur was voorheen met Patricia Arquette, Lisa Marie Presley en Alice Kim getroud.

Bronne: people.com, mirror.co.uk, et.com, tmz.com