Langs sy sterfbed in die huis op die spoorwegdorpie Touwsrivier in die Wes-Kaap – daar waar haar man op ’n herfsdag dood is nadat dokters oortuig was hy sou nog maande lank leef – het die werklikheidsbesef haar getref: Sy sal nou vroualleen álles vir haar kinders moet wees.

Dit was 25 jaar gelede, en sy was maar in haar 20’s – dié dag toe haar man daar in hul slaapkamer sy stryd teen kanker verloor het, vertel Estelien Vermeulen.

Deur die rou smart het sy op daardie dag aan haarself ’n belofte gemaak: Haar kinders sou niks kortkom nie – al sou sy haar seuntjie en sy sussie, klein Duane en Leandi (toe 7 en 2 jaar oud), as enkelma alleen moes grootmaak.

Duane (toe 6) saam met sy sussie, Leandi (toe 1).
Duane (toe 6) saam met sy sussie, Leandi (toe 1). Foto verskaf

“En hulle het nie,” sê Estelien trots. “Al was die pad vol opdraandes en struikelblokke.”

Toe sy op 2 November in die stampvol Mustangs-kroeg in die hartjie van die Laeveld saam met ’n groep vrien­dinne kyk hoe haar seun as die speler van die wedstryd in die Wêreldbekereindstryd aangewys word, het dit ’n oomblik lank gevoel of die vreugdeskrete van die skare om haar verdoof. Op die kassie het haar seun se gesig verskyn: Duane Vermeulen, die Bokke se agtsteman – 33 jaar oud; sy ma se trots; dié speler van dié wedstryd.

En daar in die kuierplek het dit Estelien getref: Haar taak is volbring.

Die trane het oor haar wange gestroom – nes Duane s’n kort ná die Bokke se oorwinning met ’n telling van 32-12 teen ­Engeland.

“Joeg, ’n ma se hart kan dit nie hou nie,” vertel sy nou die ene glimlag en kuiltjies. “ ’n Mens sê tereg jy bars van trots, want dis presies hoe dit voel: ’n vreugde so groot, dit voel of jou hart kan bars.”

Leandi het na Japan gereis om haar ouboet in die W
Leandi het na Japan gereis om haar ouboet in die Wêreldbekereindstryd te ondersteun. Foto verskaf

Maar dat dít wat haar nou soveel vreugde bring eens haar lag van haar gestroop het . . . Die kanker het juis destyds by haar man, André, ontwikkel weens ’n ou rugbybesering. Hulle was net nege jaar getroud toe hy dood is.

“ ’n Mens kan nie help om terug te kyk oor jou lewe nie,” sê sy nou. “Nie om te tob nie, maar om vinnig oor jou skouer te loer. Om te onthou hoe seer dit was en hoe vinnig die drie jaar ná sy diagnose verbygeglip het; hoe ek gewonder het hoe ek die kinders alleen gaan groot kry . . .

“Jy dink jy sal nooit weer glimlag nie. En op ’n dag sê jou seun hy wil rugby speel – nes sy pa. O, en die ontbering van ’n moederhart . . . Maar gou vang jy jouself glimlag. Jy ervaar weer die groot vreugde – met jou seun op die rugbyveld.”

By haar ruim huis op ’n landgoed in Mbombela is dit met die intrapslag duidelik hoe trots Duane se ma op hom en sy suster is.

Oral is geraamde foto’s wat oomblikke tussen ma en dogter vasvang; oral is aandenkings van ­Duane se loopbaan.

“Ek sê altyd vir mense: Raak aan hulle, en jy sal sleg tweede kom. Vir hulle sal ek my vuiste stukkend baklei,” sê sy. “Ek’s bang vir g’n niks nie.”

Maar die tawwe tienie kan ook ’n tjankbalie wees, erken sy.

“Soos toe ons die eindstryd gekyk het. O, genugtig, ek kon die trane nie keer nie.

“Vroeg daardie week sê ’n vriendin ons moet sommer almal saam op ’n plek gaan kyk. Hoe meer siele, hoe meer vreugde – daai ding. Die plek was tot bars­tens toe volgepak, maar ek’t nie ’n ander mens gesien nie.

“ ’n Mens se senuwees is gedaan, man. Jy weet wat rus op daai manne se ­skouers. Jy weet hoeveel jare van harde werk en terugslae agter hierdie oomblik sit. ’n Week voor dit kon ek nie slaap nie; ek’t soos ’n gees in die huis rondgedwaal.

“Dan kyk ek maar weer een van die vorige wedstryde; sit daar in die middernagtelike ure en praat met myself. Maar op dáárdie dag was daar ’n rustigheid oor my – ek’t geweet ons gaan daai beker wen.”

Sy lag. “Ek’t nog een oomblik vir ’n vriendin gevra wie sy dink die man of the match gaan wees, toe duik sy naam op die skerm op. Hel, maar dis lekker.”

Estelien het die eindstryd saam met ’n groep vrien
Estelien het die eindstryd saam met ’n groep vriendinne in ’n plaaslike kroeg gekyk. Foto verskaf

Die Sondagoggend ná die wedstryd het ma en seun die lyn tussen Suid-Afrika en Japan laat gons.

“Ek het ’n video-­oproep na hom gemaak en kon eenvoudig net uitkry: ‘Well done, boet.’ Hy was nog kaalbolyf met die medalje om sy nek – en hy’t so lekker met sy trofee gespog. Ek wou by hom weet of hy al geslaap het, maar hy’t net geantwoord: ‘Slaap? Nee wat – ek kan nie slaap nie, Moeder.’ ”

Dís sy troetelnaam vir haar. Toe Huisgenoot Duane kort ná die oorwinning daar anderkant die waters in die hande kry en Estelien se nommer vra, het hy dadelik ’n boodskap gestuur: “Hier is Moeder se nommer.” Net so trots op sy ma as sy op haar seun.

Duane en sy ma het ’n hegte band. Foto verskaf
Duane en sy ma het ’n hegte band. Foto verskaf

Die gesin het nog op Vredenburg aan die Kaapse Weskus gewoon toe André, wat klubrugby gespeel het, op ’n dag in 1994 tuiskom met die nuus: ’n Rugbybesering wat hy op die veld opgedoen het, het ’n gewas veroorsaak wat in testikulêre ­kanker ontwikkel het – en dit het reeds versprei.

Die gesin het na Touwsrivier getrek waar die droër klimaat glo goed sou wees vir André se gesondheid. Daar het hy en Estelien saam op ’n plaas help boer.

“Dit was moeilike jare. Ons moes die pot aan die kook hou – en ’n mens wonder hoe jy daardeur sal kom . . .”

En toe is André dood, en Estelien trek in 1997 Laeveld toe met Duane en ­Leandi en gaan woon by haar ouers, Daan (nou 78) en Lourencia (78), op hul plaas.

“Man, en voor ek my oë kon uitvee, sê Duane hy gaan rugby speel – nes sy pa het. Ek onthou die dae en ure wat my broer, ook Daan, en swaer, Johan, sommer vir die pret saam met hom gespeel het.

“Ons het gou besef hy het groot ­talent. En die spelery het gou ontaard in ure en dae langs die veld – tye wat ek my stem hees geskree het met skole­rugby en later op universiteit,” vertel sy oor Duane se jare toe hy ’n kwartaal lank aan die Universiteit van Johannesburg vir ’n sjef studeer het.

Hy het egter kort ná die eerste kwartaal opgeskop nadat hy ’n kontrak by die Pumas gekry het.

“En kyk,” voeg sy by, “ek’s nie die silent type nie. Ek gíl. En dan gee ek nog sommer raad ook van die kantlyn af. Hy was nog jonk toe hy op ’n keer vir my sê: ‘Toe nou, Moeder, net nie so hard nie.’

“Maar ek kan dit nie help nie.”

Sy moes “maar baie plannetjies maak” om as enkelma dinge te betaal: allerlei produkte verkoop om haar inkomste as ’n makelaarsassistent aan te vul vir “nuwe tokse, want die kind groei so vinnig; nóg ’n toer”.

Baie dinge het gevolg: haar seun se tyd by die Pumas, die Cheetahs, die Stormers, die Bulls. Sy huwelik met Ezel; die koms van hul seuntjies, Anru (6) en Zian (3).

Duane saam met sy gesin – sy anker: Van links is s
Duane saam met sy gesin – sy anker: Van links is sy vrou, Ezel, Zian (3), pa Duane en Anru (6). Foto verskaf

Soms duik die vrees nog in haar op.

“Ek weet ’n speler kan enige oomblik seerkry. Ek’t net vir hom gesê: Jy maak net seker jy is nooit in daai skrum nie – ma se hart sal dit nie hou nie. Maar tog hou ma se hart nog al die jare. Ek moet net keer dat hy wraggies nie bars van die trots nie.”

Nou, sê sy, is haar raad aan ­Duane en die res van sy spanmaats eenvoudig: “Elkeen van hulle se voete moet op die aarde bly. Vandag het jy die wêreld in jou hande, en môre het jy dalk niks. Ons kan so vinnig van iets gestroop word.”

Maar selfs dan, keer sy, kan jy weer ’n keer opstaan. Nes sy.

“Ek dink in die laaste weke baie terug oor daardie moeilike eerste jare ná André se dood. Maar dan besef ek weer: Ek sou dit weer kies – al het ek geweet hoeveel seer lê voor. Ek sou dieselfde pad weer stap. Want kyk nou net: Ons is die geseëndste mense op aarde.”