Só sê die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen nadat hy die teiken geword het van kuberkrakers wat van sy e-pos, PayPal- en sosialemedia-rekeninge beheer oorgeneem het. Die misdadigers het hom boonop gedreig dinge gaan “nog erger raak” as hy nie R8 000 opdok nie.

Sedertdien het Duane alles in sy vermoë gedoen om die kuberkrakers in hul spore te stuit. 

Duane vertel die probleme het begin nadat hy ’n e-pos gekry het wat lyk asof dit van Instagram kom. In die e-pos was daar ’n skakel, en hy is gevra om die gebruikerstatus van sy rekening te verander vanaf ’n normale gebruiker tot dié van ’n stigter.

Toe Duane op die skakel klik, is hy na 'n vreemde webtuiste gestuur.

Duane vertel hy het dadelik die venster probeer toemaak, maar het vinnig agtergekom dat hy te laat was.

Die kuberkrakers het sy ID-nommer asook toegang tot sy rekeninge vir Instagram, Twitter, PayPal sowel as sy e-pos bekom.

Hulle het ook probeer om aankope deur sy PayPal-rekening te doen, maar sy vrou, Ezél, kon die transaksies keer. 

Die kuberkrakers het Duane op WhatsApp gedreig en gesê: “As jy my blok, sal alles erger word.”

Duane het intussen forensiese kenners om hulp genader en moes ’n nuwe Instagram-rekening oopmaak wat nou net oor die 8 500 nuwe volgelinge het. 

Op sy ou rekening het hy meer as 130 000 volgelinge gehad.

“Dit is maar sleg vir my, want jy verloor die kommersiële waarde van die mense wat jou volg, veral vir my borge,” sê hy. 

“Ek kan maar net hoop om my ou rekening terug te kry.”

Duane het Instagram van die kuberkraak-debakel ingelig en wag nog op terugvoer. 

“Ek het nog niks weer van die kuberkrakers gehoor nie. So nou wag ek maar.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe