Treffermasjien

Dis moeilik om jou lyf nié te wikkel wanneer Deeper oor die ­radio blêr nie. Die liedjie boer al geruime tyd op trefferlyste hier en was tot onlangs nog op Google Play se top-10-­trefferlys.

“Deeper is regtig ’n fenomeen. Ek het nie verwag dit gaan so goed doen nie,” sê Holly.

En om te dink die snit het so amper nie die lig gesien nie.

“Ek het vir my honneurs (in kulturele kommunikasie) geregis­treer en was van plan om nog ’n jaar op my studie te fokus tot ek my graad behaal. Maar die span het my oortuig om nog ’n enkelsnit uit te reik. En die res is geskiedenis.”

Deeper, wat sy onafhanklik uitgereik het, gaan oor jong liefde.

“Die pragtige soort liefde wat jou hele wese oorneem.”

Ma en ouma se trots

Die house-sangeres is grootgemaak deur haar enkelma, Vivienne Wasserfall (48), eienaar van ’n bakkery, wat groot opofferings gemaak het sodat Holly privaat onderrig by die Eden-kollege in Durban kon ontvang.

In 2013 het Eden haar met agt matriekonderskeidings beloon. Sy doen tans haar honneurs in kommunikasie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Haar ma het haar geleer om in haarself te glo.

“My ma het my selfvertroue opgebou. Sy en my ouma Margaret Wasserfall (76) het my gewys watter krag daar in positiwiteit lê en hulle het my gewys hoe ’n plan lyk. Ek is opgevoed deur twee ongelooflik sterk vroue wat altyd vriendelik is.”

Haar ma en ouma inspireer haar

Haar familie is baie trots op haar sukses in die musiekbedryf.

“Ek het ’n vyfjarige kleinsus, Mimi, wat vir almal vertel ek is die Deepermeisie.” 

Musiek

Sy’t altyd geweet sy wil ’n musikant word, sê Holly. Sy het saam met haar enkelma, ouma en oom in Westville gewoon.

'Ek is gaande daaroor om deur taal bande te smee met gehore.' Foto: Verskaf

Haar ma se ouer broer, Russel Wasserfall, was vroeër jare ’n musiekjoernalis en het ’n reusemusiekversameling gehad. Sy onthou hoe hulle ­altyd Sondagmiddae na kunstenaars soos Miriam Makeba, Lady­smith Black Mambazo, Stimela en Busi Mhlongo geluister het.

Baie plaaslike musikante was dikwels gaste by hul Sondagmiddagetes by die huis, onthou sy.

“En daar was altyd iemand met ’n kitaar. Ek was ses toe ek my eerste kitaar gekry het.”

Sy is nie al sanger in die familie nie. Haar ma se jonger broer, Martin Wasserfall, wat deesdae in Kanada woon, sing ook.

“Ek het my eerste kitaar­lesse by hom gekry,” vertel sy.

Verbreed horisonne

Holly breek gereeld spreekwoordelike mure af, veral as ’n wit musikant wat Zoeloe- en housemusiek in Suid-Afrika sing.

“As jy nie grense verskuif nie, wat is die punt?” vra sy passievol.

Dis belangrik dat ons ’n groter begrip van mekaar en meer verdraagsaamheid as ’n land ontwikkel, sê sy.

'Ek maak housemusiek vandat ek 16 is, so dit is wie ek as ’n musikant is en ek is mal daaroor dat mense dit eindelik verstaan en my ondersteun.' Foto: Verskaf

“Musiek is die beste manier om mense bymekaar te bring. Ek sien myself glad nie meer as ’n wit meisie wat housemusiek maak nie.

“Ek maak housemusiek vandat ek 16 is, so dit is wie ek as ’n musikant is en ek is mal daaroor dat mense dit eindelik verstaan en my ondersteun.”

Madiba-magic

Holly het op 12 haar eerste liedjie, Siyabonga Madiba, geskryf en dit op 13 opgeneem.

“Dit was eintlik ’n geskenk vir (oudpres.) Nelson Mandela.”

Sy het die liedjie destyds deur ’n wedersydse familievriend aan Mandela gestuur.

“Mandela se vrou, Graça Machel, het een jaar tydens ’n toespraak gesê Tata het in sy laaste jare dikwels na die liedjie geluister.”

Dié liedjie het gelei tot ’n kontrak by ’n musiekvervaardiger, Sony/ATV Publishing. En dit op die ouderdom van net 13!

Die sangeres het tot dusver een EP, een album, Vanilla House, en vier enkelsnitte uitgereik. Sy skryf boonop die meeste van haar liedjies se lirieke.

“Ek hou van skryf oor hoe dit is om ’n bemagtigde vrou in die Suid-Afrikaanse konteks te wees.”

Holly skryf en sing ook in Zoeloe, wat sy as tiener geleer het toe sy saam met Zoeloesprekende musikante gewerk het.

“Ek is gaande daaroor om deur taal bande te smee met gehore.”

Sy kan nog nie die taal vlot praat nie, maar leer elke dag.

Eie baas

“Ek het voorheen gesukkel omdat ek in ’n sekere rigting gedruk is en nie kreatiewe beheer oor my musiek, beeld en handelsmerk gehad het nie,” vertel sy.

Holly het toe op 18 besluit om haar eie platemaatskappy, Holly Music, te begin.

“Ek het al ’n paar enkelsnitte onder my eie platemaatskappy se naam uitgereik.”

Huishen

Wanneer sy nie treffers maak nie, kyk sy televisiereekse soos Ray Donovan. Sy hou van uithang saam met haar sussie, Mimi, en is ook gaande daaroor om saam met haar Great Dane-hondjie, Charlie, te “chill”.

“My vriende is my lewe. Ek het ’n klein, hegte vriendekring, en wanneer ek by die huis is, kuier ons altyd saam.”

Slimkop

Holly het in 2017 haar B.A.-graad in joernalistiek, kommunikasie en sielkunde voltooi. Sy studeer tans vir ’n honneursgraad in kulturele kommunikasie.

“Ek gaan ’n tweejaarblaaskans van my studie neem en wil daarna my meesters- en doktorsgraad voltooi.”

Sy het haar B.A.-graad met 26 onderskeidings voltooi.

“Dit was ongelooflik om te weet my harde werk het vrugte afgewerp.”

Sy bieg dit was wel moeilik om ’n balans te vind tussen haar studie en haar musiekloopbaan.

“Maar om sukses op albei gebiede te behaal was ongelooflik!”

Toekomsplanne

“Ek beplan om binnekort nog musiek uit te reik en verder gaan ek tot Januarie oor die hele land en in Suider-Afrika optree.” Holly werk ook aan ’n reeks EP’s wat deel van haar komende album sal wees.