Dit is rugby se grootste skouspel: die Wêreldbekertoernooi. En die afgelope weke sit Wêreldbeker al wat ’n Suid-Afrikaner is vasgenael voor televisieskerms in hul sitkamers of in sportkroeë om die naelbytaksie in Japan te volg.

Ons brul wanneer die Bokke agter kaptein Siya Kolisi op die veld stap; raak emosioneel wanneer ons nasionale rugbyspan met hul arms om mekaar ons landslied sing. Ons juig wanneer die energieke buksie Cheslin Kolbe ’n drie druk en raak woedend wanneer ’n teenstander Pieter-Steph du Toit hoogvat.

Op die veld is die 15 man wat ons verteenwoordig net Springbokke; tuis is hul aanhangers net Suid-Afrikaners. Een span, een rugbydroom, een land.

Maar weg van die veld woed ’n storm rondom ’n beweerde rassistiese aanval deur die Bokke se slot Eben Etzebeth – ’n storm wat ’n skadu werp oor daardie rugbydroom en bly draai in die gedagtes van rugbyliefhebbers én diegene wat minder ingestel is op sport.

Kort voor ons druktyd het die Bokke voorberei vir die belangrike kwarteindstryd teen die gasheerland, Japan – dieselfde Japan wat die Bokke teen alle verwagting in in die 2015-Wêreldbekertoernooi in Engeland geklop het.

Wen ons, wag die halfeindstryd en hopelik ook die eindstryd. As Suid-Afrikaners sal ons die Bokke se pyn deel as hulle uitgeskakel word en saam juig as hulle die Webb Ellis-trofee ’n derde keer hoog hou.

Dat Eben en sy spanmaats hul harte sal uitspeel, is verseker. Die Kaapse kragman stoomroller oor alles voor hom en rank hemelhoog in die lynstane. Maar wen of verloor, met sy tuiskoms in Suid-Afrika wag die lang skadu van daardie beweerde gebeure op Langebaan.

En dan sal Eben nie saam met sy spanmaats in die kollig wees nie, maar alleen, en sal dit nie sy rugbytalent wees wat ter sprake is nie, maar wat daardie nag op die Weskusdorpie gebeur het.

Eben se naam het kort voor die span se vertrek na Japan in die nuus geboer nadat hy en van sy vriende na bewering in Augustus ná ’n laatnagkuier op Langebaan die 42-jarige Enver Wilsenach ’n rassistiese skelnaam toegesnou en aangerand het.

Enver Wilsenach.

Die gebeure is by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) aangemeld. Toe al was daar uit sommige oorde oproepe dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Eben nie toelaat om vir die Bokke in Japan te speel voor die gebeure ondersoek word nie.

Voor sy vertrek na Japan het Eben op sy Facebook-blad die bewerings ontken, en die Bokke se afrigter, Rassie Erasmus, het laat blyk hy staan by Eben. Ook Saru het die Bokslot oënskynlik gesteun, en hy is saam met die Springbokke vort.

Maar adv. Buang Jones, waarnemende SAMRK-regshoof, het die vuur gestook en gesê hy “hoort in die tronk . . . Daar moet ’n voorbeeld van hom gemaak word.”

Kort voor ons druktyd het adv. Bongani Majola, voorsitter van die SAMRK, bevestig Eben dagvaar nou die SAMRK ná Jones se uitlating. Eben vra ook die hooggeregshof om te gelas dat die SAMRK die saak, wat voor die Gelykheidshof gehoor sou word, laat vaar.

Die SAMRK het teen druktyd geen reaksie op Eben se regsgeding gelewer nie. “Alles is in ’n baie sensitiewe stadium,” het Majola gesê.

Wat presies die oggend van 25 Augustus buite Die Watergat op Langebaan gebeur het, is aan die kern van die storm wat van die veld af woed. Die Sondagkoerant Rapport berig adv. Buang Jones van die SAMRK het vier verklarings by die Gelykheidshof op Hopefield ingedien nadat Enver, ’n inwoner van Langebaan, en drie ooggetuies beweer het Eben was betrokke by ’n rassistiese voorval op die Weskusdorp.

Die verklarings stel dit volgens Rapport dat ’n swart-en-wit Ford Mustang, glo Eben s’n, omstreeks tweeuur die oggend in sirkels buite die kroeg gejaag het. Die Mustang en drie ander voertuie het stilgehou en die insittendes het na bewering op Enver en sy vriende afgestorm.

Enver vertel hy het weggehardloop, maar Eben het hom na bewering met ’n vuurwapen geslaan, hom ’n “h*****” genoem en gedreig om hom te skiet.

Rapport berig Enver se verklaring is ingedien saam met dié van Siyaad Smith (21) en twee vroue, Yorayda Papier (43) en Kay-Lee Davids (19). Hulle beweer in die verklarings Eben het ’n rassistiese woord kwytgeraak, en Siyaad beweer dat hy ook aangerand is.

By navraag het die SAMRK egter aan Huisgenoot gesê hulle het geen kennis van enige klaerverklarings wat deur Jones by die Gelykheidshof ingedien is nie. Hulle sê ook Buang se uitlating dat Eben “in ’n tronksel” hoort was ongehoord omdat die saak nog ondersoek word.

Kort voor Huisgenoot se druktyd het Netwerk24 gedeeltes van ’n verklaring gepubliseer waarin Eben sy weergawe van die gebeure van die aand uiteensit.

In dié verklaring, wat by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is as deel van Eben se saak teen die SAMRK, erken Eben daar was daardie aand omstreeks tweeuur ’n voorval buite Die Watergat toe hy en sy vriende die kroeg verlaat het.

Die Watergat.

Hy sê daar was ’n konfrontasie, maar hy wou daarvan wegkom, want hy was bang dinge ruk handuit. Eben beweer in die verklaring iemand het sy motor met ’n bottel gegooi, en daar was nog ’n konfrontasie toe hy uit die motor klim, maar hy ontken hy het ’n rassistiese aanmerking gemaak of enigiemand aangerand.

Hy ontken ook dat hy ’n wapen by hom gehad het. Sy broer en nefie was by tydens die voorval.

Eben se regsverteenwoordiger, André Calitz, het ná die voorval sewe verklarings by die SAMRK ingedien. Daarin word ook ontken dat Eben by ’n rassistiese voorval betrokke was. By navraag wou Calitz nie verder kommentaar lewer nie.

“Ons gaan tans geen verklarings maak nie aangesien die tydsverskil (tussen ons en Japan) nie toelaat dat ek met Eben daaroor kan konsulteer nie.”

Al woed die storm oor Eben se kop, staan sy naastes bankvas agter hom.

“Ek het nul twyfel dat my seun onskuldig is,” sê sy ma, Karen Etzebeth. “Hy ontken dit, en ons glo hom heelhartig.”

Sy glo hy word geteiken omdat hy die enigste persoon buite die kroeg was wat die klaers kon herken.

“Die Eben wat ek ken, my seun, is nie ’n rassis nie. Hy is veels te oopkop. Om hierdie aantygings te hoor is aaklig. Hy sou nie so iets doen nadat hy so hard vir die Wêreldbeker voorberei het nie.

“Eben is ’n goeie persoon, en ek glo hy is oukei, maar daar hang ’n donker wolk oor hom, net soos oor ons. Ons wil net hê hierdie ding moet verbygaan. Daar is geen bewyse teen hom nie.

“Weet maar net my seun sal nie toelaat dat die bewerings hom keer om sy beste spel in Japan te lewer nie. Hy bly gefokus, en ons ondersteun hom. Die waarheid sal seëvier.

Moes hy bly of nie?

Daar is uiteenlopende menings oor die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se hantering van die herrie.

Dit was regstegnies korrek vir Saru om Eben nie uit die toernooi te onttrek nie aangesien hy nie skuldig bevind is aan die bewerings teen hom nie, stel dr. Francois Johannes Cleophas, lektor in sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, die een kant van die saak.

Maar Saru kon Eben ook dalk eerder tuis gelaat het hangende die ondersoek, som hy die ander kant van die saak op.

“Laat hom die situasie by die huis trotseer om óf sy naam in ere te herstel óf die regstelsel sy gang te laat gaan.”

’n Saru-woordvoerder wou by navraag nie sê hoe hulle die aangeleentheid sal hanteer wanneer Eben terugkeer van Japan nie.

“Ná ons besprekings met die SAMRK het ons ’n interne proses begin waarvan die detail ’n werkaangeleentheid tussen Saru en die speler bly,” sê hy.

’n Woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag sê die polisie ondersoek die saak, en ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder bevestig ’n saak van aanranding is ingedien, maar nie een van die twee wil bevestig dat Eben spesifiek betrek word nie.

Foto's: John Rodger, Gallo Images/Getty Images, Facebook/Grant Simon