“Ons is heeltemal verlief op haar,” skryf Ed (29). Hy voeg by dit gaan goed met ma en baba en dat albei gesond is. “Ons is in die wolke hier.”

Hul dogtertjie, wat met die unieke name Lyra Antarctica Seaborn Sheeran geseën is, het reeds verlede week haar opwagting gemaak.

Daar word beweer die naam Lyra spruit voort uit Philip Pullman se trilogie His Dark Materials, wat een van Ed se gunsteling-boekreekse is. In 2015 het die rooikopsanger agter treffers soos "Shape of You" en "Perfect" getwiet Pullman se boeke is die beste wat hy nog gelees het. 

Die heldin in die boek is Lyra Belacqua, wat ook bekend is as Lyra Silvertongue.

In die Instagram-plasing versoek Ed dat die gesin se privaatheid gerespekteer word en dat hy almal sal sien “wanneer dit tyd is om terug te keer”.

So gepraat van privaatheid . . . die hoërskool-liefies Ed en Cherry (28), wat op Kersdag 2018 tydens ’n intieme seremonie getrou het, hou daarvan om ’n lae profiel te handhaaf. Die nuus van Cherry se swangerskap het eers tydens die inperking vroeg in Augustus amptelik bekend geraak het.

Ed Sheeran en Cherry Seaborn in 2018 in Ipswich, E
Ed Sheeran en Cherry Seaborn in 2018 in Ipswich, Engeland. Foto: Stephen Pond/Getty Images

Die egpaar is glo vir oulaas op 7 Maart in die openbaar by die Cambridge-hokkieklub gewaar. Dit was tóé dat valkoë iets soos ’n babamagie onder haar baadjie gewaar het.

Cherry, wat as ’n risikobestuurder vir die internasionele rekenmeestersmaatskappy Deloitte werk, het volgens die Irish Mirror vir ’n onbepaalde tyd verlof gekry om met ’n gesin te begin.

Ed en Cherry. Foto: Instagram/@cherry.seaborn
Ed en Cherry. Foto: Instagram/@cherry.seaborn

“Cherry het die jaar vantevore ’n 'monster-dokument' vir die maatskappy oor tegnologie en digitale risiko saamgestel,” het ’n bron vertel. Sy is glo met die seën van die maatskappy onbepaalde verlof gegun, maar of sy ’n langtermyn-tuisbly ma gaan wees, is in hierdie stadium nog onseker.

Ook Ed het planne gemaak vir 'n rustiger lewe. Ná sy Divide Era-toer het hy op 24 Desember 2019 ook van Instagram gebruik gemaak om sy voorlopige uittrede uit die kollig aan te kondig.

Ed se voorlaaste plasing op Instagram op 24 Desemb
Ed se voorlaaste plasing op Instagram op 24 Desember 2019 voor die geboorte van hul dogter. Foto: Instagram / @teddysphotos

“Ek is vanaf 2017 sonder ophou aan die gang, so ek gaan net ’n breek vat om te reis, te skryf en te lees,” was sy laaste boodskap. Dis nou tot hy Dinsdag die babanuus gebreek het.

Bronne: dailymail.co.uk, mirror.co.uk, irishmirror.ie