Baba nr. 10 is 'n babaseuntjie vir hom en sy verloofde, die Australiese model en aktrise Paige Butcher (39).

Max Charles Murphy het Vrydag al sy opwagting gemaak, maar die paartjie het Maandag eers die nuus amptelik bevestig.

Die nuweling se middelnaam is ter ere van Eddie (57) se ouer broer, Charles Quinton, wat verlede jaar in die ouderdom van 57 jaar aan bloedkanker gesterf het. Charlie, soos hy bekend gestaan het, was ook ’n komediant soos Eddie en is deur die akteur Chris Rock ná sy dood as een van die "snaaksste, mees opregte mense" beskryf.

Eddie en Paige het mekaar in 2006 op die stel van die fliek Big Momma’s House 2 ontmoet. Maar dit het ses jaar geduur voor die twee amptelik in 2012 as ’n paartjie die kollig betree het. Hulle het reeds ’n dogter, Izzy, wat twee jaar oud is.

Eddie Murphy en Paige Butcher. Foto: Allen Berezov
Eddie Murphy en Paige Butcher. Foto: Allen Berezovsky/Getty Images


Eddie is nie net as akteur en komediant bekend nie. Die man het die vermoë om die spreekwoordelike sirkel ál groter te maak, met 10 kinders by vyf vroue.

Maar kinders is nie uit al sy verhoudings gebore nie.

Eddie het na bewering ’n “stil romanse” met wyle Whitney Houston gehad nadat hulle mekaar in die 1980’s ontmoet het. In 2012 het gerugte die ronde gedoen dat Eddie en die Breathe-sangeres Toni Braxton (51) in 'n verhouding was. Maar toe kom Paige op die toneel en sedertdien wil dit voorkom asof Eddie se rokjagterdae verby is.  

Murphykroos van nommer 1 - 8

Sy oudste kind is Eric (29), wat in Julie 1989 uit ’n kortstondige verhouding met Paulette McNeely gebore is.

Paulette is glo publisiteitsku en dit was bloot haar verbinding met Eddie wat daartoe bygedra het dat haar naam in die media beland het. Sover bekend bestaan geen foto's van Paulette in die vrye omgang nie.

Uit sy verbintenis met die model en juwelierswareontwerper Nicole Mitchell (50) is vier dogters, Bria (29), Shayne (24), Zola (18) en Bella (16), en ’n seun, Miles (26), gebore. Bria is in November 1989, net vier maande ná Eric, gebore.

Eddie Murphy en Nicole met hul gesin by die première van Shrek 2 in Los Angeles. Foto: Jon Kopaloff/FilmMagic

Hoewel hulle reeds vier kinders gehad het, het Eddie en Nicole eers in Januarie 1993 getrou. In November dieselfde jaar is Miles gebore. Eddie en Nicole se huwelik het in 2002 op die rotse geloop.

Christiaan (28) is die seun wat hy in 1990 by sy meisie Tamara Hood Johnson gehad het.

Terwyl Eddie in 2006 in ’n verhouding met die sakevrou Tracey Edmonds (51) was, het hy ook ’n verhouding met die Spice Girl Mel B (43) aangeknoop. Hulle twee het saam ’n 11-jarige dogter, Angel Iris.

Mel B het onder vlymskerp tonge deurgeloop wat haar swangerskap destyds as ’n doelbewuste daad afgemaak het deur iemand wat net agter sy geld aan was. Ook Eddie het aanvanklik betwis of Angel werklik sy kind is, maar DNS-toetse het bewys hy is wel haar biologiese pa.

Tracey moes baie vergewensgesind gewees het, want in 2008 is sy en Eddie getroud. Dit was egter nie ’n wettige, bindende seremonie wat op ’n privaat eiland plaasgevind het nie en twee weke later was dit die einde van die twee se troupraatjies.

Kitsfeite

Eddie se pa, Charles Murphy, was ’n polisieman en sy ma, Lillian, ’n telefonis. Die paartjie is uiteen toe Eddie drie jaar oud was.

Vyf jaar later is pa Charles deur sy meisie vermoor en Eddie is deur sy ma en stiefpa, Vernon Lynch, grootgemaak.

Sy eerste groot fliekrol was in 1982 teenoor Nick Nolte in die fliek 48 Hrs.

Twee jaar later het hy met die aksiekomediefliekreeks Beverly Hills Cop begin, waarin hy vir die eerste keer die hoofrol vertolk het.

In 1982 het hy sy eerste album, wat tydens sy vertoning opgeneem is, onder die titel Eddie Murphy: Comedian, uitgereik. En in 2013 het hy sy enkelsnit Red Light saam met Snoop Lion uitgereik. Dit was sy eerste nuwe musiek in 20 jaar.

Nadat hy vier jaar lank nie op die silwerdoek verskyn het nie, het hy in September 2016 in die titelrol van Mr Church teruggekeer.

 Bronne: rte.ie, images.dawn.com, todaynews.news, people.com, nypost.com, booomsbeat.com, cnn.com