Edwin van der Walt
Die akteur Edwin van der Walt se meisie, Izél van der Merwe, stoei al jare lank teen ’n outoimmuunsiekte wat nou haar beweeglikheid aantas. Foto: Verskaf

Die eerste keer dat hy werklik na haar gekyk het, het die blik van haar donker oë sy maag laat bollemakiesie slaan. 

Jare lank het hy haar van ’n afstand bewonder, vertel die akteur Edwin van der Walt oor sy meisie, Izél van der Merwe. Tot hy eindelik ses jaar gelede, toe hulle nog albei rolprentstudente was, oplaas die moed bymekaargeskraap het om vir haar te sê hoe hy voel.

Saam was hulle drome uitgekarteer: ’n Vol lewe voor en agter die skerms en om saam-saam die wêreld te verken. Maar nooit was siekte ter sprake nie – veral nie een wat nes ’n breekbal verwoesting in hul sprokie sou saai nie. 

“Dis asof die noodlot kom sê: Hokaai vir eers met jou eie wil, daar is ander planne vir jou,” vertel Edwin (29). 

Want kort nadat hy en Izél (29), ’n videoredigeerder, in 2014 begin uitgaan het, is die outo-immuunsiekte psoriase artritis by die mooi donkerkop gediagnoseer.

“Ons het nog gedink dit klink amper nie so ernstig nie – en beslis nie noodlottig nie. Daar was selfs ’n soort verligting; dis tog behandelbaar,” onthou Edwin van Izél se diagnose in 2014.

Today's Gameplan: We need to do your own PR: Personal Responsibility. Take charge. Make a conscious decision every...

Posted by Edwin van der Walt on Tuesday, September 8, 2020

Eers later het die skok gekom. “Dis dán wanneer jy besef hierdie ding kan dalk die res van jou lewe oor jou kop hang. Erger nog: Dit kan jou lewensgehalte kortknip.” 

In die jare sedertdien was daar eindelose doepas en boererate, inspuitings en selfs proefmedikasie. Maar vergeefs.

“Waar sy destyds net af en toe pyn ervaar het, is dit nou daagliks,” sê Edwin.

Izél kan nie meer draf of in die see swem nie. Sy stap moeilik en sukkel om self op te staan – dít moet sy met Edwin se hulp doen. 

Boonop lê die vrees tydens die covid-19-pandemie selfs vlakker as voorheen. Izél se outo-immuunsiekte plaas haar in ’n hoër risikogroep. 

Ja, hy ervaar soms frustrasie en hulpeloosheid oor die siekte wat dreig om alles te steel van die een wat hy die meeste liefhet, sê Edwin. 

“Maar deur alles bly ek net hier, aan haar sy. Hoekom? Want ek het steeds elke dag die voorreg om my lewe te deel met die beste mens wat ek ken.” 

Edwin van der Walt
Al het psoriatiese artritis daartoe gelei dat hulle nie meer saam kan draf of selfs op staptogte gaan nie, bly Izél die middelpunt van Edwin se lewe. Foto: Verskaf

Die siekte wat ons beroof

Dis ironies dat ’n siekte hulle juis sou beroof van die goed wat vir hulle albei eens so belangrik was, vertel Edwin per video-oproep vanuit die paartjie se huis in Durbanville, Kaapstad. Izel wil eerder nie saamgesels nie.

“Ons eerste date was ’n halfmarathon. Ons albei was nog altyd ontsettend aktief; dis een van die dinge waaroor ons besonder passievol is,” onthou Edwin.

Buite loei die wind; die onweerswolke hang dreigend oor die somerdag. Maar Edwin se gemoed is ver van grou; trouens, dis hul positiewe houding jeens haar siekte wat hulle dra.

“Jy moet dit beleef,” spog hy. “Sy het ’n ongelooflike hoë pyndrempel. Soms dink ek ek sou krul van die pyn of sommer net omgekrap wees, maar sy dra dit met soveel innerlike krag. Sy’s my hero, dié mooi girl van my.”

Hulle gaan al sedert hulle studentejare aan die Universiteit Stellenbosch uit.

Izél het twee jaar lank met onverklaarbare vlekke op haar arms en nek gestoei. Maar dit was eers toe haar gewrigte, veral dié in haar hande, in hul finale jaar pynlik begin swel het, dat sy dokter toe is en die diagnose moes aanhoor: Sy het psoriatiese artritis, ’n toestand waar ’n lyer van psoriase, wat die vlekke op die vel meebring, ook ’n soort inflammatoriese artritis ontwikkel wat tot chroniese gewrigspyn, swelling en ’n verlies aan krag lei.

“Haar woorde was: ‘It is what is is, kom ons baklei daarteen, maar dit help nie ek sit in sak en as daaroor nie,’” onthou Edwin. “En sy het nie.” 

What I learned being off Instagram for Year I learned that... People pleasing has become a major problem, not just in...

Posted by Edwin van der Walt on Wednesday, January 1, 2020

Terwyl hy kort daarna verfilm het aan flieks soos Hollywood in my huis, Ballade vir ’n enkeling en later Die pro, het die toestand stelselmatig aan Izél begin knaag.

Hul paaie het kort daarna geskei, maar hulle was ’n paar maande later weer ’n paartjie.

“Toe ons weer bymekaarkom, kon ek sien presies hoe die siekte in haar gemanifesteer het,” sê Edwin, wat onlangs in die kykNET-reeks Fynskrif te sien was.

Izél se gewrigte het soms so geswel dat haar vingers skeefgetrek het. Ook haar knieë het aanhou swakker word. Al het dit aanvanklik gelyk of proefmedisyne ’n wonderkuur sou wees, het die simptome maar later net weer teruggekeer.

Hulle benader die toestand holisties, vertel Edwin. “Daarom het ons besluit: Dis verby met die pille en die gifstowwe wat later ander newe-effekte het; ons wil dit met ’n natuurlike benadering probeer omkeer.” 

Hulle eet al langer as ’n jaar nie gluten, suiker of suiwel nie, maar meestal vrugte en groente, met min tot geen vleis.

“Dit verg baie dissipline. Dit was vir haar veral moeilik om sjokolade te groet – vandag nog raak die lus partykeer te groot. Maar ons herinner ons voortdurend aan ons doelwit: Sy wil nie die res van haar lewe pille drink nie.”

“Daarom het ons besluit: Dis verby met die pille en die gifstowwe wat later ander newe-effekte het; ons wil dit met ’n natuurlike benadering probeer omkeer.”

Hulle probeer bepaal watter kossoorte die artritis laat opvlam en dit dan uitsny. Maar dis ’n eindelose proses, en intussen gaan haar gesondheid agteruit.

“Ons is nou in die moeilikste tyd van hierdie ding,” sê Edwin reguit. “Sy het verskriklik baie pyn. In die laaste weke het die artritis in haar regterhand so opgevlam dat sy nou amper die gebruik van haar hand verloor het.”

Haar liggaam word nou ook sigbaar aangetas. “Dit is nou opsigtelik wanneer haar hande swel of skeeftrek; daarom is dit vir haar geweldig erg. Sy voel die pyn, maar sy sien ook die skade.” 

In die laaste jaar moes sy alles prysgee waaroor sy eens so passievol was: om met ’n seevakansie strandlangs te gaan draf, om berg te klim en selfs om kuns te beoefen.

“Ek moet haar ophelp wanneer sy van die sitkamerbank opstaan,” sê Edwin. “Sy kan nie oefen nie, maar haar spiere word al swakker. Dis ’n tweesnydende swaard.” 

Maar daar is ook goeie dae. “Soms sal sy ’n vertrek binnekom en opgewonde verklaar: ‘Ek kon self opstaan!’ Dan juig ons, maar die volgende dag trek dit haar weer plat.”

Frustrasie is daar wel soms. “Ek moet soms hard praat wanneer sy iets eet wat sleg is vir haar en die artritis weer opvlam. En ja, ek is ’n mens; soms sug ek wanneer ek haar moet optel. Maar deur alles, bly sy die middelpunt van my bestaan. Ek ervaar dalk nie die pyn saam met haar nie, maar ek baklei ewe hard.”

Daar is hoop

Waar trek hulle die streep tussen ’n kompromie en álles prysgee?

“Dit was lank ’n onderliggende probleem omdat ek nie geweet het hoe om met haar daaroor te praat nie,” erken hy. “Ons moes albei besef ons moet reguit en openlik hieroor praat as ons hierdie moeilike pad gaan saamstap.” 

Al kan hulle nie meer wedlope saam aandurf of in die branders baljaar nie, is hulle dit eens: Hulle gaan nie toelaat dat selfbejammering vastrapplek kry nie.

“Ek het kort ná haar diagnose ook ’n tydjie opgehou met die dinge wat vir my vreugde gebring het. Dit is natuurlik, jy voel skuldig omdat jou maat tuis moet sit. Maar dit bring baie ongelukkigheid. Daarom het sy een dag vir my gesê: Gaan, doen daardie dinge, want wanneer jy vreugde ervaar, is jy ook ’n voller mens vir my.” 

“Ons moes albei besef ons moet reguit en openlik hieroor praat as ons hierdie moeilike pad gaan saamstap.”

Die paartjie het hulle vroeg verlede jaar al begin afsonder weens covid-19 – voor die res van die land. 

“Izél het ook in daardie stadium van ’n immuunonderdrukkende medikasie gebruik gemaak; dus was daar maar vrees oor wat dit vir haar sou beteken om die virus op te doen.” 

Maar sy wil nie ’n “kluisenaarslewe” lei nie – en hy verwag dit nie van haar nie. “Deesdae gaan ons maar nog elke af en toe uit, maar ons is baie versigtig en uiters bewus van die gevare en hou te alle tye by die reëls.”

Of dinge binnekort beter gaan word, weet hulle nie, sê hy. “Dít weet ons wel: Ons sal ingryp met medikasie die dag wanneer ons sien hierdie ding steel te veel van haar lewe. Intussen is ek hier. Die waarheid is: Ek sal enige storm vir haar trotseer. En geen storm duur vir ewig nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe