Hy loop in die strate van die geskiedkundige studentedorp Stellenbosch toe ’n vriend hom groet. Hy weet hy ken die man al lank, maar kan net nie op sy naam kom nie. Dit was sowat ’n jaar of wat gelede die eerste teken vir die sakereus Jannie Mouton (71) dat sy geheue iets makeer.

Daarna moes hy ál meer kopkrap wanneer ou bekendes hom voorkeer en groet. Eers het hy gereken sy suksesvolle beleggingsfirma, PSG, se vele aandeelhouers ken hom tog almal, al ken hy hulle nie.

Maar mettertyd het hy begin vermoed iets skuil agter sy alewige vergeetagtigheid. Toe ’n vroeë vorm van demensie dus onlangs by Jannie gediagnoseer word, was dit nie vir hom ’n skok nie.

“Dis darem nie iets wat oornag gebeur het nie,” sê die sakemagnaat in sy eerste mediaonderhoud sedert hy die nuus begin Mei in ’n ope brief bekendgemaak het.

“Ek het nog altyd in eerlike en deursigtige kommunikasie geglo,” skryf hy in die brief wat op die aandelenuusdiens SENS se webtuiste verskyn het.

‘Ek het nog nie een oomblik hieroor wakker gelê nie’ .
Die Bolandse miljardêr Jannie Mouton in sy kantoor by PSG, wat hy uitgebou het tot ’n reusesukses. Foto: Jacques Stander

“Die demensie veroorsaak dat my korttermyngeheue nie meer aldag 100% werk nie. Dit lei daartoe dat ek soms mense se naam vergeet, ek myself herhaal of dalk effens gedisoriënteerd voorkom. Dit gebeur nie elke dag nie, maar ek kan dit nie ignoreer nie.”

Terwyl daar glo die afgelope ruk in sakekringe oor sy vergeetagtigheid gegis is en gerugte selfs die ronde gedoen het dat Jannie aan breinkanker ly, was dit tog vir baie mense ’n skok dat die Boere-Buffett – soos hy met verwysing na die Amerikaanse sakereus Warren Buffet bekendstaan – aan demensie ly.

Hy is al as een van Suid-Afrika se suksesvolste sakemense beskryf en verlede jaar het hy danksy persoonlike bates van R13 miljard onder die land se 10 rykstes getel.

Maar sien ’n mens Jannie van aangesig tot aangesig, besef jy hy het nog lank nie die stryd gewonne gegee nie. Die gryskopman met die netjiese ligbruin trui en kraaghemp nooi ons hartlik sy kantoor in die Eikestad binne. “Kom in, kom in,” groet hy. Hy mik na die gemaklike rusbank teen die venster waar groen akkerblare vir ons loer en haal sy sigarette uit.

In dié einste kantoor het hy PSG in 1995 op die been gebring nadat die makelaarsfirma Senekal, Mouton en Kitshoff, waarin hy ’n stigtersvennoot was, hom in die pad gesteek het; vandaar die titel van sy lewensverhaal, En Toe Fire Hulle My, wat in 2011 verskyn het.

Op 49 moes hy so te sê van voor af aan ’n loopbaan begin bou. Vandag word PSG as ’n reusesukses beskou en word dit op R59 miljard gewaardeer. Jannie het reeds in 2010 as uitvoerende hoof van die groep uitgetree, maar is steeds PSG se nieuitvoerende voorsitter.

Waar hy hier in sy kantoor sit, lyk hy doodgelukkig. “Ek is glad nie bang nie,” sê hy. “Ek het ’n wonderlike lewe gehad, kry wonderlike behandeling en vat dit soos dit kom.”

Frustreer die vergeetagtigheid hom?

“Ja, verskriklik,” sê hy en frons.

“Ek wil met hom praat,” sê hy en wys na Jacques Stander, Huisgenoot se fotograaf. “Ek het hom nou net ontmoet, maar kan nie sy naam onthou nie.” Hy skud sy kop verontwaardig.

Jannie Mouton. Foto: Jacques Stander

“Maar ek het nog nie een oomblik hieroor wakker gelê nie en is geensins bang nie. In dié opsig is ek bevoorreg.”

Toe sy vergeetagtigheid meer gereeld begin voorkom, het Deidré (59), sy tweede vrou, met wie hy in 2010 getroud is, hom aangemoedig om ’n afspraak met ’n psigiater te reël. Sy was met ’n dokter getroud en ken die mediese wêreld, verduidelik hy.

“Die dokter het my deur een van daardie tonnels gesit en my kop vol plakkertjies geplak wat aan ’n rekenaar gekoppel word. Ek het amper geweet wat hy vir my wil sê,” vertel Jannie oor die dag dat sy vergeetagtigheid ’n naam gekry het.

Ook vir sy seuns, Jan (43) en Piet (41), en dogter, Charité Volkwyn (35), was die diagnose nie onverwags nie. Al drie kinders is uit sy eerste huwelik. Hul ma, Dana, is in 2004 aan komplikasies weens ’n hartoperasie oorlede.

Jannie se gedagtes dwaal terug na die name wat hy soms vergeet.

“Ons sal partykeer iemand raakloop wat ek al lank ken en voorheen aan Deidré voorgestel het. Dan weet sy wie hulle is, maar ek nie.”

Dis in skrille kontras met sy vlymskerp geheue in sy jong dae. As student hier op Stellenbosch het dit hom in meer as een opsig gehelp.

“Ek was in Simonsberg in die koshuis en daai tyd het 274 studente daar gewoon. Ek het agtergekom as jy elkeen se naam in die koshuis ken, word jy ’n bietjie uitgelos met die dopery.

‘Goeiemôre, mnr. Willie Fourie; goeiemôre, mnr. Koot Basson,’ ” vertel Jannie hoe hy die ou menere op die naam gegroet het.

‘Dis ’n land van geleenthede. Fokus liewer dáárop’.

“Maar die afgelope tyd . . . ek kan dit nie meer doen nie.”

Nog ’n frustrasie is dat sy geografiese kennis van Suid-Afrika hom deesdae in die steek laat.

“Ek kon presies vir jou sê waar elke klein dorpie is: Kirkwood, Vosburg, Vanwyksvlei . . . Ek weet regtig nie hoekom ek dit wil weet nie, maar ek kan dit nie meer aldag onthou nie.”

Sy foon lui die soveelste keer. Jare lange vriende en kennisse het koerantberigte oor sy ope brief gelees en bel nog gedurig om hom sterkte toe te wens.

“ ‘Ek bid vir gesondheid. Psalm 13 . . .’ ” lees Jannie ’n boodskap voor.

’n Kollega bring vir ons koffie. Jare gelede het sy swaargekry, toe gee Jannie haar ’n werk, onthou hy. Vandag het ’n familielid van haar ’n graad danksy PSG se beursskema. Nou hou sy ’n wakende oog oor hom en gee hom ’n kleiner koppie omdat hy glo te veel koffie drink.

“Sy is die een wat eintlik hier in charge is,” sê hy en glimlag.

Jannie is bekend vir sy ruim hart: In September verlede jaar het Huisgenoot berig hy het R1,1 miljard vir liefdadigheid geskenk.

Sy familie steun hom in dié tyd, vertel hy. Dit was juis sy seun Piet, uitvoerende hoof van PSG, en twee kollegas wat met hom kom gesels het oor die brief waarin hy oop kaarte speel oor sy demensie. Sy ander seun, Jan, werk ook in die finansiële wêreld, maar onafhanklik van PSG.

“Ek het byvoorbeeld in vergaderings gesit en dieselfde vraag gevra wat ek drie maande tevore gevra het. Ons het toe besluit dis die beste om eerlik te wees,” vertel Jannie.

“Ek het dit met my familie bespreek en hulle het gesê dit is die regte ding om te doen; mense sal verstaan.

“Daar was ’n soort verligting toe ons dit finaal besluit: Ons gaan dit sê en nie langer swyg nie en aangaan (met die lewe). Geen gehuil en getreur nie.”

Eintlik voel alles vir hom normaal, sê Jannie.

Hy en Deidré, sy tweede vrou, is in 2010 getroud. Hulle woon op sy plaas buite Stellenbosch. Foto: Verskaf

“Dis nie dat ek siek voel of iets nie, en sommige mense kom dit nie eens agter nie. Gestel ek het êrens op Hermanus afgetree, dan sou mense dit dalk nie eens besef het nie. Maar ek kom nog elke dag werk toe en mense kom spreek my.”

Hy steun nou op sy vrou, wat hom sommige oggende herinner as hy die vorige aand iets op die nuus gesien het waaroor hy nog wil uitvind. Hy sorg ook dat hy noukeurig dagboek hou van afsprake, iets wat vroeër onnodig was.

Dan, ná die openhartige gesprek oor sy demensie, skemer iets deur van die Jannie van ouds, die voorste sakeman wat passievol oor Suid-Afrika is en glo meer moet gedoen word om die land op te bou.

“Ek was met die Woordfees by Jacques Pauw se praatjie,” sê hy oor die voormalige joernalis en skrywer van die blitsverkoper The President’s Keepers oor korrupsie tydens die Zuma-bewind.

“Toe sien ek al hierdie mense wat daarheen stroom om te hoor wat alles skort met Suid-Afrika. En ek dink: ‘Hoekom wil mense eksperts word oor wat fout is in die land?’ Dis ’n land van geleenthede. Fokus liewer dáárop.”

Toe die Universiteit Stellenbosch hom onlangs met ’n eredoktorsgraad vereer, het hy juis in sy aanvaardingstoespraak gesê Suid-Afrikaners moet hul kinders vertel in watter pragtige land ons woon.

“Ek kom agter onder my vriende het elkeen ’n storie oor hoe sleg dit gaan. Dan dink ek: ‘Begin eerder ’n wonderlike maatskappy, stel mense aan, betaal belasting en lewer ’n bydrae tot jou land.’

 ’n Mens kan skaars help om te dink ’n man wat so praat, sal dalk kort voor lank ook ’n betekenisvolle geleentheid raaksien in die nuwe uitdaging wat voor sy deur gelê is . . . 

Wat is demensie?

Demensie is ’n versamelnaam vir meer as 100 verskillende toestande waar die persoon wat daardeur aangetas word se geheue, denke, optrede en emosies weens die agteruitgang van die brein aangetas word.

Alzheimersiekte is die algemeenste vorm daarvan, maar daar is ook ander.

Wêreldwyd raak demensie 50 miljoen mense en elke drie sekondes word ’n nuwe geval aangemeld.

Weens ’n gebrek aan navorsing oor die siekte in Suid-Afrika is geen plaaslike statistieke beskikbaar nie, sê Karen Borochowitz, die uitvoerende hoof van die organisasie Demensie Suid-Afrika.

Die oorsaak van die toestand is onduidelik. Die risiko vir demensie neem met die jare toe. Na raming ontwikkel een uit vyf mense bo 80 dié toestand. Tog kan dit ook by mense onder 65 voorkom.

Een van die eerste gevaartekens is geheueverlies, veral oor onlangse gebeure. Nog simptome kan insluit:

  • Vergeetagtigheid oor wat ’n mens van plan was om te doen of waar jy besittings neergesit het.
  • Iemand wat daaraan ly, kan verdwaal of verward raak, veral in ’n nuwe omgewing.
  • Jy kan sukkel om die regte woorde te vind om iets te verduidelik of voorwerpe te beskryf.
  • Verlies aan konsentrasie of belangstelling in jou stokperdjies.
  • Swak oordeels- en denkvermoë, soos met die beplanning van aktiwiteite of die volgorde waarin dinge gedoen word.
  • Buierigheid, irritasie, verhoogde angs, agterdog en aggressie.
  • Persoonlikheidsveranderings.
  • Onvanpaste taal of reaksies op alledaagse situasies.

By sommige soorte demensie kan medikasie die simptome tydelik verlig.

“Dit vertraag die verloop van die siekte,” sê Karen, “maar kan dit nie genees nie.”

En hoe moet iemand met demensie se geliefdes hom of haar bystaan?

Karen se raad is om so iemand gereeld daarvan te verseker hulle is steeds waardevol, word gerespekteer en is geliefd.

“Laat hulle kalm ’n vaste roetine volg en aan aktiwiteite deelneem, kommunikeer opbouend met hulle en leer watter dinge ’n sneller vir angs kan wees.”