Efraine van Heerden saam met haar nuwe kêrel, Paul
Efraine van Heerden saam met haar nuwe kêrel, Paul du Toit. Foto: Verskaf

“Ek kan werklik nie vir meer vra nie,” borrel Efraine. “Ek is in die soort verhouding wat ek vir almal toewens.”

Efraine en die televisie-joernalis Nadine Theron het in die vyfde episode hul opwagting gemaak as die wild cards in die program waarin die akteur Neels van Jaarsveld na liefde soek. 

Sy het eindelik self besluit om dit te verlaat aangesien sy nie tot Neels aangetrokke was nie.

Die grimeerkunstenaar van Stellenbosch vertel sy ken haar aantreklike kêrel Paul du Toit al ses jaar, maar eers ná Op My Eish! het Cupido met sy pyl en boog doenig geraak. 

“Ses jaar terug was ek ’n deeltydse eiendomsagent terwyl ek my afronding- en grimeringskool op die been gekry het. Paul het my in verband met ’n eiendom gekontak.”

Dit was nie lank voor die twee groot vriende geword het nie.

“Paul is ’n baie standvastige en regverdige mens. Ek het nog altyd na sy raad geluister. Ons vriendskap het gevorm deur ure by ’n vuurtjie te sit en gesels.”

Efraine was voorheen getroud en Paul, ’n prokureur, was een van die 23 gaste op haar troue. “Hy is werklik al baie lank een van my beste vriende,” vertel sy. 

Tydens 'n groepsaktiwiteit met Neels
Efraine is nie spyt oor haar besluit om die program te verlaat nie. Foto: kykNET

Efraine sê toe die vervaardigers van Op my Eish! haar aan die begin van die jaar bel en vra of sy sal deelneem, was Paul die eerste mens met wie sy dit bespreek het. 

“Natuurlik het ons gebraai kort nadat ek van Hermanus (waar Op My Eish! verfilm is) af teruggekom het en in ’n oomblik het Paul my oog op ’n ander manier gevang as die laaste ses jaar.”

Sy vermoed Paul het besef sy hou van hom toe sy skielik begin grimering dra na ’n braai by sy huis waar sy gewoonlik met pantoffels opgedaag het.

“Hy het lank hard-to-get gespeel, ek aan die ander kant, kon nie wegbly nie,” vertel sy met ’n glimlag. “Ek dink hy date my dalk nou omdat ek nie opgehou het nie. Maar soos hulle sê: aanhouers wen.”

Hul verhouding

“Ons verhouding is baie positief en ons vul mekaar aan,” sê Efraine. “Ons geniet die lewe meer saam met mekaar as sonder mekaar, maar ons is nie vreeslik afhanklik van mekaar nie. 

“My hoop vir ons is dat ons verhouding altyd sal bly soos dit nou is.”

Paul is ’n oud-Caledonner en trots daarop, vertel
Paul is ’n oud-Caledonner en trots daarop, vertel Efraine. Foto: Verskaf

Sy sê hul verhouding werk goed aangesien Paul ’n "linkerbrein-" en sy meer van ’n "regterbreinmens" is, maar in dieselfde asem is hul belangstellings soortgelyk. 

“Ek respekteer hom en vir die eerste keer in my lewe kan ek sê dat ek iemand genoeg vertrou om selfs namens my ’n besluit te neem. My hart voel rustig. 

“Die lekkerste van ons verhouding is dat ek op dieselfde tyd saam met my beste vriend en boyfriend kan braai. Ons vriendskap het geensins verander nie; ons het net die verlief-lekkerte bygekry.”

Gedeelde avonture

Hulle het onlangs saam op die Oos-Vrystaatse dorpie Clarens gaan vakansie hou.

“Dit is altyd lekker om iets saam met Paul te doen, maar die heel lekkerste is vakansie hou,” sê Efraine. “Ek en Paul is albei mal oor mense en om saam met vriende met vakansie te gaan, is vir ons ’n groot bederf. Die mans het natuurlik gholf gespeel en ons girls het geshop. Clarens is ongelooflik!”

Hulle het by die Gariepdam begin en is daarna Clarens toe naby die Golden Gate Nasionale Park. Die plan was om te gaan ski in Lesotho, maar hulle het nie kans gesien vir die -24 °C nie.

Efraine en Paul saam met Hugo en Lize Visser.
Efraine en Paul saam met Hugo en Lize Visser. Foto: Verskaf

“Met lekker mense kan jy by die huis wees of met vakansie gaan; dit gaan steeds ’n fees wees! Ons het die dorpie verken, minigholf gespeel, spa toe gegaan en gebraai. Ek het lank gelede laas ’n week van soveel lag gehad.

“Ek kan nie glo ek is 30 jaar oud en was nog nooit in daardie ongelooflike deel van ons land nie."

Hul vakansie is kortgeknip toe mense in hul groep covid gekry het. Hulle was op pad na haar pa op Victoria-Wes om daar te gaan kuier, maar moes dit afstel om te gaan isoleer.

Efraine en Paul het saam met vriende gaan vakansie
Efraine en Paul het saam met vriende gaan vakansie hou op die Vrystaatse dorpie Clarens. Van links is Efraine, Paul, Zac van Zyl, Hugo Visser, Lize Visser, Lucas Steyn en Madré Rossouw. Foto: Verskaf

Op My Eish!

Efraine kyk terug op haar deelname aan Op My Eish! en beskou dit is ’n groot voorreg. “Dit is ongelooflik hoe lief 'n mens kan word vir mense van wie jy so baie verskil. Baie mense het ’n negatiewe persepsie van mense wat aan ’n dating show deelneem. 

“Ek verskil 100% daarmee. Jy is buite jou comfort zone en dit is die beste plek om te groei. Die tyd wat ek deel was van die produksie sal ek vir niks in die wêreld verruil nie.”

efraine
Efraine. Foto: kykNET

Sy wens Neels en Florinda net die beste toe.

“My hart is so gelukkig saam met hulle,” sê sy. “Hulle is ’n awesome couple en ek wens hulle net geluk toe.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.