Die aktrise Marguerite Wheatley is 15 weke swanger en verwag die bondeltjie vreugde in Mei volgende jaar. 

“Ons is baie opgewonde,” vertel Marguerite (38) oor haar eerste swangerskap.

Sy is in Junie met die Amerikaanse sakeman Bryan Monka in Camarillo, Kalifornië, getroud. Sy het in 2012 soontoe verhuis.

Ons het Marguerite leer ken as die pretensielose Doreen Smith in die sepie Egoli. Later het sy beïndruk as die statige Nerine Pienaar in die fliek Invictus (2009), waarin sy teenoor Matt Damon gespeel het, en meer onlangs in die rol van Stephanie in die film Knysna (2014), waar sy teenoor die akteur Neels van Jaarsveld gespeel het. 

Marguerite Wheatley. Foto: Argiewe

“Ons was onseker oor hoe vinnig ek op my ouderdom sal swanger raak,” vertel sy. “Maar dit was dadelik. Ons was drie maande getroud en het toe die moontlikheid bespreek om te begin probeer. Ons weet dit is nie altyd die geval vir almal nie, daarom voel ons ontsaglik nederig hieroor.”

Hulle weet nie wat die geslag van die baba is nie en wil dit ’n verrassing hou.

Marguerite vertel dat sy baie siek was aan die begin van haar swangerskap. “Ek was siek, baie siek. As ek die yskas se deur oopmaak moes ek hol. Soms het ek nie eens die badkamer betyds gehaal nie. Ons Mastiff het dit geniet, sy het gedink ek speel met haar. Op sewe weke het dit regtig begin erg raak. Ek het met ’n emmer in my kar rondgery en dit was soms handig. Ek kon nie musiek luister of SMS’e lees nie, want alles het my kop laat draai en naar gemaak. 

“Ek het een middag effens beter begin voel toe dans ek so bietjie op my eie in die sitkamer. Die liedjie was maar drie minute lank, maar ek was heeltemal uitasem.

“Dit het op 14 weke begin beter raak en nou op 15 weke is dit darem al baie beter."

Marguerite Wheatley
Marguerite Wheatley smul aan ’n heerlike maaltyd in Costa Rica. Die aktrise sê dit is “absoluut awesome” om getroud te wees.
 

Marguerite sê sy sal beslis vir die kleinding Afrikaans leer.

“Vir seker! Ek het reeds Lollos-videos begin versamel. My man praat vlot Spaans, so ons reken die baba sal eers Afrikaans en Spaans leer en dan Engels by maatjies en die skool. So ons baba gaan Afri-Spangels wees, maar soos my man sê dit sal op die einde van die dag van hom of haar afhang hoe goed hy of sy die taal wil aanleer.”

Al is Marguerite se ouers, Cecil en Ingrid, ver weg in Yzerfontein aan die Weskus, weet Marguerite dat hulle op die ondersteuning van hulle kerkgemeenskap kan staatmaak. 

“My man se ouers en die res van die familie is naby en sy een suster is ook nou swanger met hulle eersteling. My ouers sal so drie maande na die baba gebore is kom kuier.”

Dink hulle al aan name?

“Ons gaan eers kyk of dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie is, maar ek glo dit sal ’n familienaam wees.”