Die wêreld het einde verlede jaar ’n glimp van die nuwe, slanker Adele gekry op haar rapper-vriend Drake se 33ste verjaardag­partytjie in Los Angeles (“Hello, nuwe lewe en lyf”, 14 November 2019). 

Maar toe die Britse sangeres (31) onlangs tydens ’n Karibiese vakansie in Anguilla gewaar is, het sy selfs skraler gelyk. 

View this post on Instagram

Summer 2019 ??

A post shared by Adele (@adele) on

Vriende sê haar egskeiding verlede jaar van die filantroop en voormalige bankier Simon Konecki (45) is die rede vir haar verslankingsreis.

Al het die skeiding haar hartseer gemaak, sê bronne sy was verlig om van Simon se intense persoonlikheid ontslae te wees. 

adele,sangeres
Adele het van ’n grootte 18 tot ’n slanke grootte 12 gekrimp en ’n allemintige 45 kg afgeskud. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Sy hou nie daarvan dat iemand vir haar sê wat om te doen nie,” vertel ’n vriend. 

Blykbaar het hul gedurige rusies haar so uitgeput dat sy ’n kluisenaar geword en tuis ure aaneen net gemorskos verorber en televisie gekyk het.

Maar haar gedaantewisseling gaan nie net oor haar egskeiding nie; bowenal wil sy ’n beter voorbeeld vir haar en Simon se seun, Angelo (7), stel. 

“Sy het geweet sy moes iets verander, want sy wil die gesondste ma moontlik wees,” verklap ’n vriend. 

adele,sangeres
Haar ongelooflike verslankingspad het ’n radikale leefstylaanpassing behels wat ’n kombinasie van dieet, oefening, hipnoterapie – en egskeiding – ingesluit het. Foto: Instagram/@adele

Maar hoe het sy dit reggekry? 

Die besonderhede was ’n bietjie vaag toe sy haar nuwe voorkoms verlede jaar ten toon gestel het, maar nou het vriende onthul presies hoe sy haar herskep het. 

Dit het ’n ingrypende leefstylverandering behels wat ’n kombinasie van dieet, oefening en hipnoterapie insluit. 

Sy het glo die Sirtfood-dieet gevolg en kosse soos krulkool, aarbeie, uie, soja en donkersjokolade geëet om haar eetlus te help onderdruk. 

Verwerkte kosse, gaskoeldrank en haar geliefde soet koppies tee is uitgesny. 

ADELE SE WENSPAN  

SUSAN HEPBURN 

susan hepburn,hipnoterapeut
Susan Hepburn. Foto: Instagram/@debbiehowe

Sy het haar tot die “hipnoterapeut van die sterre”, Susan Hepburn, gewend, en saam het hulle aan die belangrikste faktor begin werk: gewoontes. 

Susan, wat R5 600 per sessie vra, meen “niemand word gebore voorbeskik om ’n gewigsprobleem te hê nie. Dis aangeleerde gedrag.” 

CAMILA GOODIS  

Sy het ook die hulp van Camila Goodis gekry, ’n persoonlike afrigter wat sy deur haar goeie vriendin Ayda Field ontmoet het. Ayda is met die sanger Robbie Williams getroud. 

Camila het glo op pilates en krag­oefeninge gekonsentreer om Adele haar lenige voorkoms te help bereik.

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, CLOSERONLINE.CO.UK, HARPERSBAZAAR.COM, METRO.CO.UK
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.