Hugo Ludik het die tyd saam met die groep as een ongelooflike reis beskryf.

Ook Reynardt Hugo het al hul ondersteuners vurig bedank.

Adam se skip het dalk vir nou gaan stilstaan, maar sal voortbestaan in die harte van elke aanhanger,” sê hy.

En Kyle Grant? “My groot droom is om te bly sing en om alle Suid-Afrikaners bymekaar te bring. Ek sien uit na die pad vorentoe en sal die mooi herinneringe vir altyd koester.”

Die pad tot hier

Baie het verander sedert Adam vir die eerste keer in 2009 hul buiging op Huisgenoot se Skouspelverhoog gemaak het.

Joe Foster het in 2013 die groot besluit om die groep te verlaat om ’n sololoopbaan te begin. Ná drie jaar saam en twee suksesvolle albums (Adam en Vir Jou Gemaak) moes die groep dié groot skuif verwerk.

Tydens ’n onderhoud met Loren Pienaar in Huisgenoot (24 Oktober 2013) het die emosies by tye hoog geloop.

“Dit was ’n volwasse besluit en ons gaan op goeie voet uitmekaar. Ons gaan mekaar mis. Hulle is my boeties. Dit was die beste drie jaar van my lewe,” het hy gesê.

Vir Hugo was daar nie omdraaikans nie.

“Ek het Adam met bloed en sweet begin, dit was my lewensdroom; daarom sal Adam aangaan,” en so het die soeke na ’n nuwe derde lid begin.

In Huisgenoot (23 November 2014) word die groot nuus aangekondig: Adam is weer voltallig: Kyle Grant (toe 28) is die nuwe lid van die gewilde mansgroep. Egoli-aanhangers sou hom as Schalk in die sepie onthou.

So het Huisgenoot destyds oor Kyle se insluiting b
So het Huisgenoot destyds oor Kyle se insluiting by die groep berig.

Kyle het nooit beplan om in ’n mansgroep te sing nie, maar die kunste is “in sy bloed,” het hy destyds gesê. Die driemanskap se eerste enkelsnit, Sal Oorlog vir Jou Maak, is uitgereik en die volgende groot stap was die klankbaan vir die fliek Pad Na Jou Hart.

Benewens die sukses wat Adam gevolg het, het een van Kyle se groot drome waar geword: ’n optrede by Huisgenoot-Skouspel.

Oë op die paradys — Gloria Edwards (Huisgenoot 10 Mei 2012)
(Van links) Joe Foster, Reynardt Hugo en Hugo Ludi
(Van links) Joe Foster, Reynardt Hugo en Hugo Ludik is die vuurwarm manne van die sanggroep Adam. Foto: Luba Lesolle
Adam is meer as net iets vir die evas se oog – dié groep droom groot en gee baie daarvoor prys.

Die drie aantreklike jong manne skuif met hul kitare agter die mikrofone in. Hugo Ludik lig sy kraag op en sy kenmerkende glimlag kruip om sy mondhoek.

Joe Foster se seeblou oë glinster stout en Reynardt Hugo vee met sy hand oor sy perfekte donker hare.

Sjoe, dis skielik warm hier in die rooi ateljee in die huis op die Randburgse gholflandgoed . . .

Jy kan verstaan waarom die tieners en tannies se knieë lam word, en dis nie net omdat die drie stemme so mooi vervleg wanneer hulle sing nie. Ja-nee, die musiekgroep Adam is skroeiwarm, op die oog sowel as die oor.

Hulle het juis onlangs ’n Ghoema-prys gewen vir die beste nuwe groep en hul debuutalbum is op pad na goud. Hul nuwe album word oor sowat drie maande uitgereik en Adam gaan vanjaar vir die eerste keer by Huisgenoot se Skouspel te sien wees.

‘Ek meen, kyk net na ons. Ons drie lyk of ons nou net uit die tuin van Eden gestap het,” skerts Reynardt.

Joe lag. “Nee, ons maak net ’n grap. Ons moet nog gewoond raak aan al die aandag.”

Hugo voeg by: “Maar ons hou baie daarvan!”

En hy gee weer daardie stout glimlag.

Maar hulle aanvaar nie die aandag wat hulle nou geniet as vanselfsprekend nie, want hulle moet immers hard werk en baie opoffer om hul passie vir musiek te kan uitleef. Hulle skerts dat nie een van hulle in hul pa se standvastige voetspore volg nie.

Hugo (27) vertel sy ouers was teleurgesteld toe hy besluit om ’n loopbaan in die musiekbedryf te probeer uitkerf net nadat hy sy regsgraad aan Maties behaal het.

Joe (28) maak staat op sy ouers om ’n vertrek in hul huis as ateljee te kan gebruik.

En Reynardt (24) het onlangs sy rol as dr. Tertius Jonker in die sepie Binneland prysgegee sodat hy voltyds ’n Adam-lid kan wees.

’n Mens word nie oornag ’n ster nie, sê Reynardt.

“My eerste werk was by Menlyn Mall in Pretoria. Ek moes soos ’n lemoen aantrek, rondskaats en Paaseiers uitdeel!”

Hy het in 2007 sy graad in drama aan Tukkies verwerf. Toe het hy eers ’n paar rolle in oorsese televisieproduksies gekry voor hy in die musiekblyspel Houtkruis die rol van ’n tronkvoël vertolk het. Binneland was sy groot kans.

“Almal op straat vra my of ek hulle nie kan dokter nie,” lag hy.

Hy het die reeks nou wel gegroet, maar hou darem nog sy lyf akteur in die nuwe Afrikaanse rolprent Pretville.

Hugo het die standvastigheid van ’n regsloopbaan prysgegee en was boonop ’n kranige krieketspeler met ’n blink toekoms.

“Ek wou ’n beroepskrieketspeler word en het vyf jaar vir die Namibiese span gespeel. Maar die lekkerste was om my spanmaats in die aantrekkamer met my kitaar te vermaak.”

In 2004 het sy broer, die sanger en akteur Stefan Ludik, hom ’n geleentheid gegee om tydens Egoli-reklamedae te sing. Toe het hy besef hy wil eintlik maar musiek maak.

In 2008 het hy die eerste Huisgenoot-Tempo-liedjieskryfwedstryd gewen met die treffer Papsopwinterwaternat, wat Kurt Darren opgeneem het.

Vanweë sy ouers se besluit dat hy nou geldelik self moet klaarkom, moes hy vinnig leer om op sy eie te oorleef.

“Dis nou nog moeilik, veral as ek na my getroude vriende kyk. Dan verlang ek na die standvastigheid.”

Hy bly ’n rukkie stil, glimlag en sê: “Maar ek besef weer gou ek’s mal oor wat ek doen.”

Dit was eintlik net Joe wat van kleins af geweet het hy wil in die musiekwêreld werk. Hy’t op agt begin klavier en kitaar speel en op 16 al klavierlesse aangebied. Ná skool het hy in Holland klankingenieurswese studeer.

“Maar ouma en oupa vra mos altyd: Wanneer gaan jy ’n regte werk kry?” sê hy.

Sy plan was om as ’n gospelsanger bekend te raak en hy was oorgehaal om sy eerste soloalbum uit te reik.

Maar toe gebeur Adam.

Dit was Hugo wat die idee vir ’n driemangroep gekry het.

“Ek het ’n gaping in die mark gesien vir ’n groep wat sing én instrumente bespeel.”

Dit was in 2009. Kort daarna het hy en Reynardt mekaar by ’n kuiery om ’n vuur op ’n strand in die Baai ontmoet.

“Ons het begin kitaar speel en sing. Ons het daarna begin soek na ’n derde ou wat kan kitaar speel, sing en goed lyk. Net toe ons dink so iemand bestaan nie, sien Joe ons advertensie op Facebook en kom vir ’n oudisie. Toe hy begin sing, het ons net geweet.”

Joe val hom in die rede. “Eintlik wou ek met my komposisies kom smous!”

Dan verdwyn sy seunsglimlag en hy raak ernstig.

“Maar toe ek daar wegstap, het iets binne-in my geborrel.”

Dit was in November 2010. Skaars twee maande later het hulle aan ’n debuutalbum begin werk, en toe dit uitgereik is, het Hugo onder sy bekende broer se skadu uitbeweeg.

Reynardt kan nie uitgepraat raak oor die voorreg wat hy het om sy passie vir toneelspel en sang te kan uitleef nie. Hulle toer landwyd en kry hope steun by hul familie.

“Nou is ons soos drie pappas wat ’n baba grootmaak,” vertel Reynardt.

“Maar ons is nie ’n tipiese boy band nie,” voeg Joe vinnig by. “Ons doen nie daai vreeslike bewegings nie en elkeen speel kitaar.”

Maar moenie dink hulle hou nie van mansgroepe soos Westlife
nie.

“Ons kry inspirasie uit enige groep wat goed sing, veral Queen,” sê Reynardt.

Die drie woon naby mekaar en werk en kuier gereeld saam.

“Die ouens is feitlik heeltyd dat ons nagte omkuier en musiek maak.”

Hugo sê dis lekker om musiek en sport met sy sangmaats te kan gesels. Hulle is vir hom soos broers. Al drie hou van rugby en krieket. Hugo en Reynardt speel gereeld gholf.

“Maar ons probeer Joe leer om te speel. Sy ouers woon feitlik op die gholfbaan en hy kan nie speel nie!” sê Hugo.

“Leer gaat hy leer,” voeg Reynardt by en wys ’n vinger na Joe.

En net daar sit hulle in die gesin se gholfkarretjie af na die lowergroen baan.

Terug by die huis vergoed Joe vir sy gebrek aan vaardigheid met ’n gholfstok. In die kombuis is hy die baas, en met die bestanddele netjies in gelid uitgepak, prakseer hy hamburgers en ’n slaai.

Terwyl hy werskaf, gryp Reynardt drie tamaties, gooi dit gelyk in die lug op en vang dit soos ’n regte sirkusnar.

“Hokaai, Baby Tjoklits!” spot Hugo hom.

“Ons het baie byname vir mekaar,” lag hy. “Maar julle wil nie weet waar dit vandaan kom nie!”

Hy vertel nietemin die staaltjie oor hoe Reynardt hom eendag laf gedra het terwyl Gerhard Steyn se Baby Tjoklits oor die radio gespeel het.

“Dit was in die dae toe ons nog niks en niemand was nie.”

Dan roep Joe hulle nader, en hulle lê weg aan sy hamburgers. Gou is die borde leeg en die manne se batterye herlaai. En dan is dit
terug na die ateljee waar die kitare en die mikrofone wag, want vir die Adam-drietal is dit waarlik die paradys.

ADAM IN ’N NEUTEDOP

Gunsteling-kos?

Reynardt: “Joe se aartappelslaai en sy Pringle-boontjiegereg. En Hugo se mieliebrood vir wanneer ons rugby kyk.”

Het julle meisies?

Joe: “Net Reynardt het ’n meisie. Hy los vir haar liefdesbriefies wanneer ons op toer is.”

Wie skryf jul liedjies?

Hugo: “Ons al drie. Ek het my liedjieskryftalent met Huisgenoot se liedjieskryfwedstryd ontdek.”

Waar kry julle inspirasie?

Joe: “Die enkellopendheid! Ek moet my verbeelding gebruik vir die liefdesliedjies.”

Hugo: “Ek kan net skryf wanneer ek hartseer is. Wanneer ek bly is, speel ek liewer buite.”

Reynardt: “Die liefde.”