In ’n toespraak by die bekendstelling van haar veldtog #breakingthestigma by die Maslow-hotel in Johannesburg vandag het die 24-jarige mediese student gesê sy het die siekte opgedoen nadat sy in 2015 as ’n derdejaarstudent daaraan blootgestel is.

 “Ek onthou die dag asof dit gister was,” het Tamaryn gesê terwyl sy die trane probeer terughou het. “Ek was op pad kampus toe, maar het geweet iets is fout. Ek het daardie oggend wakker geword en ’n knop aan my nek gevoel. Ek het geweet iets skort,” het sy bygevoeg.

Eers ná ’n paar doktersbesoeke, biopsies en ’n operasie om die knop te verwyder is tuberkulose by Tamaryn gediagnoseer.

Terwyl sy met die diagnose geworstel het, het Tamaryn ook die vrees gehad dat sy as gevolg van die siekte gestigmatiseer sou word. 

“Ek vra myself hoekom dit my drie jaar geneem het om my storie te deel. Die antwoord is stigma; die stigma wat met TB verband hou.”

Die mediese student in haar sesde jaar sê TB word as ’n siekte van vuil mense beskou en word met MIV in verband gebring. Sy het besluit om dit net aan haar familie en goeie vriende bekend te maak uit vrees dat sy verstoot sou word. 

“Ek is iemand wat uit ’n ondersteunende huishouding kom, ’n dak oor my kop en skoon water het. Ek het myself gevra wat mense deurmaak wat die siekte het en nie daardie steunstelsel het nie. Wat beleef mense wat te bang is om na klinieke te gaan, want hulle vrees hulle sal gestigmatiseer word as TB by hulle gediagnoseer word.”

Maar nou sê die huidige Mej. Suid-Afrika die titel het haar dapper gemaak om daaroor te praat en die platform te gebruik om aktief te werk om die stigma te verbreek, want TB diskrimineer nie. 

“Dit is my storie, dit is ek en dit is my begin om die stigma teen TB te beëindig.” 

Deur #breakthestigma wil Tamaryn mense wat simptome van TB toon, aanmoedig om behandeling te kry. Sy wil dit ook ’n gesprekspunt maak, want dit is een van die 10 grootste oorsake van sterftes ter wêreld.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie “is TB die negende vernaamste oorsaak van dood wêreldwyd en die vernaamste oorsaak deur ’n enkele aansteeklike agent, hoër as MIV/vigs”.

In ’n video wat by die geleentheid vertoon is, bedank die gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, Tamaryn vir haar patriotisme.

“Ek sien daarna uit om nou saam met jou en ander TB-ambassadeurs saam te werk om die boodskap na alle Suid-Afrikaners te neem dat TB geneeslik is,” sê hy.