Die sangers Ricus Nel, Dewald Wasserfall en Appel
Die sangers Ricus Nel, Dewald Wasserfall en Appel is deesdae ook TikTokkers. Foto: Verskaf.

Maar in die wêreld van TikTok, een van die gewildste apps, is dit vir die sangers Dewald Wasserfall, Appel en Ricus Nel ’n heeltemal ander storie.

“Ek moet eerlik wees, ek voel soos ’n dinosourus,” vertel Dewald oor TikTok, wat veral gewild is onder die jongspan.

“Maar soos met enigiets moet jy dit net leer. Ek is nog in die begin fase daarvan, maar ek is seker daarvan ek sal dit embrace,” sê hy.

Dit is op aandrang van sy platemaatskappy wat hy nou TikTok probeer, en sy plan van aksie is om net homself te wees.

“Party mense dink ek is partykeer snaaks, so ek gaan net dit aanhou doen,” verduidelik Dewald.

Appel is reeds beïndruk met die video’s wat hy op hierdie app gesien het, en hy sien daarna uit om meer van sy eie video’s op te laai.

“Ek dink die jongspan is ongelooflik, veral dié wat vurig is. Hulle is vol humor en so ook ’n inspirasie vir my,” vertel Appel.

“Ek hoop om hulle ook te laat lag, huil, dink en droom,” voeg hy by.

Dat hulle nie eintlik die beste dansers is nie, is die drie manne dit eens. So jy sal hulle moontlik nie die nuutste TikTok-dansie sien na-aap nie. Maar hulle beplan wel om hul musiektreffers by hul video’s in te span.

Dewald vertel dat sy aanhangers liefs nie danse van hom moet verwag nie. “Dit het nog nooit goed geëindig nie,” lag hy. 

Ricus voel weer dat hy sommer spoedig een van sy sanger-vriende se hulp gaan moet inroep.

“Kurt Darren is besig om my ’n paar dans moves te leer,” skerts Ricus.

“Nee, kom ons kyk. Ek het twee linkervoete, maar ek kan darem skoffel. Ek sal iets uitwerk,” lag hy.

Volgens Appel sal sy aanhangers ook heel moontlik eerder ’n paar video’s oor sy avonture in die bos saam met renosters, perde en sy familie sien, as ’n video wat sy dansvernuf uitbeeld. Hy wil ook graag ’n paar inspirerende spirituele plasings deel.

“TikTok se algoritmes is ongelooflik. Wat my beïndruk het, is die groot hoeveelheid Christelike inhoud en hoe die jong mense se harte klop vir die Here en hul medemens,” verduidelik Appel.

“Daar is natuurlik ook ’n paar plasings wat onder die belt is, maar ek gooi meestal maar ’n blinde oog. Soms glip daar iets verskriklik snaaks uit,” bieg hy met ’n glimlag. 

Al is hy nie ’n groot aanhanger van enige sosialemediaplatform nie, lyk dit op die oog af vir Dewald of TikTok baie moontlikhede bied. “Daar is beslis kreatief baie meer wat jy daarmee kan doen as met Facebook, Instagram en Twitter,” vertel Dewald.

Ricus meen dat sy vrou, die sangeres Liza Brönner, hom gaan help touwys raak. “Ek het darem ’n lekker jong vrou getrou, en sy het gesê sy gaan my mooi help met TikTok en om my plasings cool te maak,” vertel hy.

“Ek is nou twee dae daarop, so ek moet nog alles van hom leer, maar gelukkig leer ek vinnig,” sê hy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe