Justin en Hailey Bieber
Justin vertel dat hy baie dankbaar is vir sy vrou, Hailey Bieber. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die sanger het ’n emosionale plasing met sy 160 miljoen Instagram-volgelinge gedeel terwyl hy op ’n aaklige dag in Januarie 2014 teruggekyk het.

“Vandag sewe jaar gelede is ek in hegtenis geneem. Nie my beste oomblik nie. Nie trots op waar ek in my lewe was nie,” skryf hy by ’n foto van hom in boeie. Die Biebs het toe ’n paar wyse woorde gedeel.

“Dit alles om te sê God het my ver gebring. Van toe af tot nou besef ek iets. God was toe net so naby aan my soos wat hy nou is. My aanmoediging aan jou is om jou verlede ’n herinnering te laat wees aan hoe ver God jou gebring het. Moenie toelaat dat skaamte jou ‘vandag’ bederf nie.” 

View this post on Instagram

A post shared by Justin Bieber (@justinbieber)

Die 26-jarige sanger agter treffers soos "Yummy" en "Lonely" was in 2014 op ’n laagtepunt en het om al die verkeerde redes die nuus gehaal. 

Hy is in Miami in hegtenis geneem vir dronkbestuur, deelname aan onwettige motorjaagtogte en bestuur sonder ’n geldige rybewys. Dit alles op net 19 jaar oud. Maar hy meen sy geloof het hom deur die slegte tye gedra waarin hy “seer, ongelukkig, verward, kwaad, mislei, misverstaan en vir God kwaad was”.

In die daaropvolgende jare het omstredenheid hom bly agtervolg. Hy het ’n openbare ineenstorting gehad ná ’n publisiteitstoer vir sy vierde album, Purpose

Op die YouTube-dokumentêr Justin Bieber: Seasons, wat in 2020 uitgereik is, praat die ster openlik oor van die donkerste tye in sy lewe, sy worstelinge met geestesgesondheid en sy stryd teen verslawing. Maar danksy sy geliefdes – veral sy vrou, die model Hailey Bieber (24) – en God is hy nou ’n ander mens. Justin en Hailey vier in September hul derde huweliksherdenking.

“Laat die vergifnis van Jesus oorneem en kyk hoe jou lewe ontwikkel in alles wat God vir jou ontwerp het. Ek is lief vir julle met my hele hart.” 

BRONNE: EONLINE.COM, PAGESIX.COM, IHEARTRADIO.CA