Dit voel al soos lank, lank gelede dat Ben Affleck ’n goue seun in Hollywood was. Destyds was hy die aantreklike akteur wat die draaiboek van een van die beste flieks van die 1990’s geskryf het.

Good Will Hunting, wat hy saam met sy vriend Matt Damon geskryf het, is in 1998 met ’n Oscar bekroon. In 2013 wen Ben weer ’n goue beeldjie, dié keer toe Argo as beste rolprent van die jaar aangewys word.

Maar van toe af het die Hollywood-held se lewe lelik inmekaargetuimel.

Onlangs was Ben (46) weer smoordronk, dié keer ten aanskoue van paparazzi wat foto’s geneem het toe sy vervreemde vrou, die aktrise Jennifer Garner, haar opwagting by sy huis maak om in te gryp.

Ben Affleck se vervreem­de vrou, Jennifer Garner (regs), ry met hom na ’n reha- bilitasie­sentrum. Dis nie bekend wie op die passasiersit­plek sit nie. Foto: Backgrid/Greatstock

Volgens ooggetuies het sy opgedaag met ’n Bybel in die hand en ’n prokureur aan haar sy. Ben is afgeneem waar hy agterin Jennifer se motor sit met ’n natgeswete gesig en sakke onder sy skrefiesoë.

Die prentjie was ligjare verwyder van die dae toe Ben sjiek en sjarmant op die rooitapyt was.

Jennifer het glo ’n vinnige draai by ’n kitskosrestaurant gemaak om ’n regmaker vir haar eks te koop en hom toe by die rehabilitasiesentrum The Canyon in Malibu afgelaai.

Sy moes glo net ’n paar weke tevore ook ingryp toe sy haar eks vra om hom reg te ruk om hul kinders, Violet (12), Seraphina (9) en Samuel (6), se onthalwe, maar dit was duidelik vergeefs.

Die eerste gevaarligte dat Ben die spoor weer byster raak, was toe sy meisie Lindsay Shookus (38) van die toneel verdwyn en die Playboy-model Shauna Sexton saam met hom begin uithang.

Dié is op 22 jonk genoeg om sy dogter te wees, maar was die een saam met wie die akteur sy 46ste verjaardag gevier het. Jen en die kinders was nêrens te sien nie, nes hy afwesig was toe sy onlangs met ’n ster op die Hollywood Walk of Fame vereer is.

Tydens dié seremonie ter ere van sy vervreemde vrou is hy afgeneem waar hy ’n boks drank ontvang toe dit by sy huis in Los Angeles afgelewer word.

Steelfotograwe het Ben onlangs afgeneem waar hy ’n boks drank by sy huis ontvang. Foto: Backgrid/Greatstock

In Mei het Ben die misdaaddrama Triple Frontier voltooi en in Julie die politieke riller The Last Thing He Wanted. Watter rolle hy daarin vertolk, moet nog aangekondig word.

Lindsay (38), ’n vervaardiger van die TV-program Saturday Night Live, is in Julie laas aan sy sy gesien.

Sy het hom bygestaan in sy stryd om nugter te bly en het selfs AA-vergaderings saam met hom bygewoon voor sy besluit het om die verhouding te beëindig.

“Dit was moeilik om weg te stap,” het ’n bron aan die tydskrif People gesê, “maar sy kon sien hy kom nie reg nie.” Dit het nie lank geduur voor Ben ’n plaasvervanger vir sy meisie gekry het nie.

Die langbeen-Shauna Sexton was Playboy se Miss May 2018 en dit klink asof sy en Ben dieselfde taal praat, want sy het onlangs laat hoor haar geliefkoosde drankie is “whiskey – heeldag”.

Die Playboy-­model met wie Ben glo uitgegaan het, Shauna Sexton. Foto: Instagram
Shauna en Ben. Foto: Backgrid/Greatstock

Maar sy was moontlik net ’n los gelukkie, want op die dag dat haar kêrel se vervreemde vrou hom vir rehabilitasie laat opneem het, het sy lekker op ’n strand in Malibu lê en bak. Jen, aan die ander kant, kon Ben nie net aan die genade oorlaat nie.

“Sy’s nog lief vir hom,” het ’n vriendin aan die Daily Mail gesê. “Nie soos sy altyd was nie, maar omdat hy haar kinders se pa is.”

Sy was ook aan sy sy toe hy vroeg verlede jaar kliniek toe is, iets wat Ben glo waardeer het. Hy het toe op Facebook erken hy word vir drankverslawing behandel en het sy eks bedank vir haar steun “en dat sy vir ons kinders sorg”.

Jennifer het in hul huwelik ook swaargekry toe Ben in 2014 in Las Vegas betrap word dat hy skelm aan die kaarttafels optree. Hy het haar glo ook verneuk met medesterre, onder andere Blake Lively, wat saam met hom in The Town was.

Deur dit alles het Jen, ’n toegewyde Christen, hard gewerk om die huwelik te red, maar eindelik kon sy dit nie sonder sy hulp regkry nie.

Nadat hulle in 2015 uiteen is en Ben dadelik met hul kinderoppasser, Christine Ouzounian (28), begin uitgaan het, was Jen net ter wille van die kinders nog in die omte.

Op Vadersdag vanjaar het sy op Instagram mooi hulde aan hom gebring.

Ben en die bekroonde vervaardiger Lindsay Shookus het ’n jaar lank uitgegaan. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ons kinders is gelukkig dat hulle ’n pa het wat na hulle kyk soos jy na hulle kyk en hulle liefhet soos jy,” het sy toe geskryf.

Verlede jaar het Ben in die TV-program This Morning gesê Jen “stel so ’n goeie voorbeeld en ek volg dit na. Sy’s iemand wat ek bewonder en respekteer en met wie ek goeie vriende bly.”

Dit was blykbaar sy wat eers halt geroep het met hul egskeiding sodat hy kans het om aan sy gesondheid en drankprobleme te werk.

Die hof het die egpaar, wat in April verlede jaar begin skei het, nou gewaarsku om op te skud, anders word die saak uitgegooi.

Intussen het hulle ’n ooreenkoms bereik, maar die dokumente sal eers onderteken word nadat Ben ontslaan is.

Ben is die eerste keer net voor sy 29ste verjaardag in 2001 in ’n rehabilitasiekliniek opgeneem. Hy was toe op die kruin van die suksesgolf ná sy lokettreffers Pearl Harbor en Armageddon.

In Februarie verlede jaar het hy hom weer laat opneem en op Facebook geskryf alkoholisme “is iets waarmee ek al in die verlede te doen gehad het en wat ek sal aanhou konfronteer”.

Hy het bygevoeg “dis geen skande om hulp te kry wanneer jy dit kort nie” en hy wil sy lewe “voluit leef en die beste pa wees wat hy kan”.

Jen en hul kroos: Violet (links), Seraphina en Samuel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het glo in November in sy ou gewoontes begin verval. Hy het destyds onder druk verkeer omdat mense beweer het hy het in die bresse getree vir die vervaardiger Harvey Weinstein, wat glo talle vroue seksueel geteister het.

Toe is beweer Ben het ook soms onvanpas opgetree en hom aan teistering skuldig gemaak. Hy het ’n verskoning getwiet aan die aktrise Hilarie Burton en gesê hy het “onvanpas opgetree” nadat sy hom daarvan beskuldig het dat hy tydens ’n onderhoud in 2003 aan haar bors gevat het. Boonop was van sy flieks allermins treffers.

Sy langverwagte bendefliek, Live by Night, wat hy geskryf, geregisseer en vervaardig het én waarin hy gespeel het, het klaaglik misluk. Justice League ook.

“Hy was ongelukkig en het besef hy is in ’n afwaartse spiraal,” het ’n vriend gesê. Weer het hy hom tot Jen gewend, wat toe saam met sy broer, Casey (45), vir hom hulp gesoek het.

Tog sê mense hy geniet steeds aansien in Hollywood. “Hy sal moontlik weer in ’n kliniek beland,” het een laat hoor. “Maar gelukkig beïnvloed dit nie sy werk nie.

Ondanks hul voorgenome egskeiding is die twee toegewyde ouers vir hul kinders. Foto: Gallo Images/Getty Images

"Hy’s ’n Oscar-bekroonde regisseur, word gereken in Hollywood en mense werk steeds graag saam met hom.” Vroeër vanjaar het Ben se pa, Timothy, self ’n gerehabiliteerde alkoholis, sy seun se drankprobleem aan die druk van roem toegeskryf.

“Hollywood is ’n aaklige plek,” het hy aan die tydskrif Grazia gesê. “Ek dink dis ’n belangrike faktor in Ben se drinkery. Jy word half gedwing om ’n persona aan te neem; dan is dit moeilik om huis toe te gaan en jouself te wees.”

Ben het blykbaar vir Jen gesê hy “wil ’n beter mens wees” om hul kinders se onthalwe en belowe hy sal verander. Maar dit sal groot selfdissipline en net soveel toewyding van sy vervreemde vrou verg om dit reg te kry.

Bronne: USmagazine.com, People.com, ETonline, Thecut, Dailymail.co.uk, News.com.au, Pagesix, Daily Mirror